Agter die skerms: Ignatius se droomtroue met sy droomvrou

Agter die skerms: Ignatius se droomtroue met sy droomvrou


plaaskindersIgnatius Vlok, regisseur van Oggend op RSG, is op 20 Augustus getroud. Alles aan die troue – van die bruid en haar rok, tot die omgewing – was werklik mooi. Ons moes wag dat die man, wat deesdae met ‘n groot glimlag rondloop, eers van sy wittebrood in Italië terugkeer (kyk foto’s onder) om die storie te hoor.

Ignatius skryf self:

celeste-vlok“Ek is verantwoordelik vir die inhoud van Oggend op RSG en die advertensiebestuurder van ‘n nasionale tydskrif. Celeste is ‘n mediese dokter wat haar bekwaam as spesialis in kerngeneeskunde.

Ons weet nie wanneer ons mekaar ontmoet het nie. Celeste en my niggie is beste vriendinne. Ons het mekaar by haar raakgeloop, maar Celeste was te stil en ek was met rede ‘n omroeper. Sy was ‘n tjellis in die SA Jeugorkes. Ek was ‘n platejoggie in Stellenbosch se nagklubs. Met tyd het ek rustiger geword en sy het ontspan. Vyf jaar gelede het ons oë vir mekaar oopgegaan.

Met die kanolalande vol in blom, het ons by Gabriëlskloof naby Botrivier in die Overberg getrou. 20 Augustus was ‘n sonskyn Saterdag. Ná ‘n nat Vrydag en voor ‘n stormagtige Sondag.

As fotograaf het ek baie troues beleef. Ek kan byna objektief sê, ons sin was regtig mooi. Van die bruid wat asems weggeslaan het met haar skoonheid en komplimenterende Maggie Soterro rok, tot die roerende trouseremonie, fynbos rangskikkings van haar ouers , pienk en wit bloeisels as konfetti van my ouers se plaas en koningsproteas in die restaurant. Die tema was fynbos. Blushing Brides was die bruids- en skouerruikers asook op die uitnodigings en troukoek.

Musiek was ‘n ander belangrike aspek van die troue. Celeste het na die kansel gestap op maat van tjellomusiek. Daardie niggie was nie net die strooimeisie nie, sy het ook die clavinova bespeel terwyl ‘n operasangeres- vriendin vir ons gesing het. Terwyl die pasgetroudes vir die kamera geglimlag het, het ‘n trekklavierspeler die gaste vermaak. Tydens die ete was daar “Swing” musiek, maar nadat die piñata geslaan is, het die dansvloer gekook. Aan die einde van die aand is die pad gevat met ‘n wapperende, goue, hartvormige piñata agter die motor.

stap-die-pad

Die troue was mooi, die wittebrood in Italië, maar die verlowing is die romantiese storie…”

Ons kan nie help om ‘n paar foto’s van die droom wittebrood te deel nie. Kyk net!

Celeste in Venesië

Celeste in Venesië

Egpaar Vlok in die gondel

Egpaar Vlok in die gondel

venisie-1

In die Toskane - San Gimignano

In die Toskane – San Gimignano

Florence

Florence

Cinque terre aan die Italiaanse kus

Cinque terre aan die Italiaanse kus

En hier is die verlowingstorie.

”Die verlowing was op die Saterdag na ‘n verskriklik besige week. Ek het gevra dat Celeste nie daardie naweek afsprake maak nie. Ek het gesê ons gaan weg vir ‘n naweek in die platteland en gaan drink intreevlak wyn by ‘n kelder met ‘n fees.

Ons is beide plaaskinders, so ‘n naweek in die platteland sou lafenis wees. Ons ry toe die Saterdagoggend oor die Bainskloofpas na Mountain Ridge wynkelder by Wolseley. Die kelder is op “De Liefde” pad geleë en die Romansrivier loop langs die kelder verby. Hul intreevlak wyn is die “De Liefde” reeks. Ons verkies meer komplekse wyn, maar daardie naweek het ons van “De Liefde” gedrink.

Ek het vir jare die idee gehad om my bruid se hand te vra deur haar te nooi om “De Liefde” pad met my te stap. Die idee was egter meer romanties as die werklikheid van ‘n pad wat dié dag ‘n feesterrein geword het. Sonsondergang sou baie beter wees.

Ons het die aand oornag in a chalet op pale in ‘n dam tussen die berge in die asemrowende Slanghoekvallei. Celeste is mal oor die veld en fynbos. Ons het om die dam gestap en op ‘n rots tussen die fynbos gaan sit om die sonsondergang te geniet. Met die gaan sit sien ek daar is ‘n graspol gerieflik naby vir my linkerknie. Toe die laaste sonstrale begin wegsak agter die berg, was dit tyd dat ek êrens in die volgende 5 minute moes vra of sy die res van haar lewe met my sou deel. Die ring was reeds in my hand toe sy links kyk en opmerk hoe mooi die rooi rotse in ‘n deel van die berg is. My beroep vereis dat ek op my voete moet dink. Ek het besef dit was die oomblik om op my knie te wees. Met my posisie ingeneem sê ek die rooi rotse is mooi maar ek verkies dié rooi klip. Trane van geluk is ‘n ‘ja’ gelaai met emosie.

Die ring kom ook met ‘n storie. By my geboorte het my pa vir my ma ‘n ring gegee. Ek het grootgeword met die konsep dat dit my ring is. ‘n Ruk gelede het my ma die ring vir my gegee om te gebruik wanneer dit tyd is. Dit was tyd. Ons het egter die ring laat smelt en ‘n modern weergawe gemaak wat by Celeste pas. My ma se ring. My Ring. My vrou se ring. Dankie tog dié een het saam huistoe gekom. Want my trouring het besluit om op wittebrood te bly.”