Maya Milagro is my wonderwerk


Lynette Francis se lewe het verander vandat haar klein Maya Milagro gebore is. Hier skryf sy self oor haar ervaring, en hoe Maya se mylpale haar mylpale word.

 

”PRAAT SAAM  is pas klaar en ek sien my kinderoppasser het my drie keer gebel.  Sy besef nie ek saai uit nie. Ek raak yskoud en bevange.  Wat as daar ‘n krisis is met Maya? Ek het nooit besef of geweet dat moederskap ‘n gevoel van selfloosheid meebring nie. Ek weet ek stel dit lomp maar dit asof haar behoeftes eerste kom en groter en belangriker is as my eie behoeftes. Ek huil as ek sien hoe sy glimlag of haar vasberadenheid om my te help om die windjies na vore te bring. Sy trek haar linkerhand in ‘n vuisie en laat sak haar kop na regs sodat ek beter kan vryf. Of hoe gelukkig sy lyk as sy kan saampraat (op haar manier natuurlik) as ons doeke omruil. Maya se mylpale word my mylpale.

Die eerste maand was rof. Die pajamadril het ons onkant gevang want ons sit met ‘n mensie wat net deur huil haar behoeftes deel. Ons moes leer wat dit beteken. Uit die staanspoor kon ons sien ons kleinding het ‘n sterk persoonlikheid. Haar greep! Sjoe, my hare en juweliersware het vroeg in die slag gebly.

Toe die berigte en video van kinderoppassers wat kinders mishandel die virtuele ruimte tref, het ek eerste kameras gaan koop en installeer.  Maya se veiligheid het voor my beperkte begroting gekom.

Sy is einde van die maand twee maande of agt weke. Ons vaar beter met die roetine van bottels was, winde vryf, sing en stories vertel. Maya het sommer in week drie al met maar Ouma in die Kaap begin Skype en haar ogies flikker opgewonde as sy my ma sien.

Ek is op ‘n leerkurwe. Dis die eerste keer in my lewe wat ek meeste van die tyd onbeholpe voel weens my tekort aan ervaring. Haar eerste vlug Kaap toe lê hierdie naweek voor en ek is senuweeagtig. Dit is ons eerste reis en ek moet van vooraf leer pak en paai. Maar dit is die grootste gawe wat ek  in my hele lewe ontvang het. Maya Milagro is my wonderwerk!”

Hier is die skakel na die eerste berig op ons webwerf oor Maya se geboorte.