Nuwe talent in Ratels


Christopher Jon van der Westhuizen as Klaas Vakie (links) en Johnny Potsanyane as Cheeky (regs). Hulle is broers in die regte lewe.

Christopher Jon van der Westhuizen as Klaas Vakie (links) en Johnny Potsanyane as Cheeky (regs). Hulle is broers in die regte lewe.

Leon van Nierop het op ‘n filmkomitee gesit wat kortfilms moes beoordeel, toe hy “Vryslag”, ‘n rolprent wat bekroon is as beste kortrolprent sien. (Dit was terloops ook ʼn pryswennende RSG-radiodrama.)

In die rolprent is toe ‘n pikkie, Johnny Potsanyane, wat perfek Afrikaans praat en boonop ‘n hond uit ʼn bos speel. Leon kon nie glo dat so ‘n klein laaitie sulke pragtige, natuurlike en ongeaffekteerde spel kon lewer nie en boonop so mooi PRAAT ook.

Die volgende oggend loop hy die seuntjie en sy oppasser (wat hom na die fees vergesel het) toevallig in ‘n restourant langs die see raak. Hy vra toe of hy van Johannesburg af kom. “Ja,” sê hy, en daar sal Leon agterkom dat hy Christopher van der Westhuizen (wat Klaas Vakie in Ratels speel) se boetie is. Leon nooi hom toe uit vir ‘n oudisie saam met sy boetie wat hom goed afgerig het. En toe hy verlede week op sy kissie klim om by die mikrofoon by te kom (Christopher oorkant hom is amper 6 voet lank!) was sy stem suiwer en sy spel bo verwagting goed. Net daar slaag hy die oudisie!

Leon het toe die rol van Cheeky spesiaal vir hom geskep. Dit is ‘n jong seuntjie wat op die buitewyke van Ratels se grond in die Vrystaat plak. Die leerders kry die 12-jarige outjie dan daar, ontferm hulle oor hom en neem hom onder hul vlerk. Op die manier leer hulle ook verantwoordelikheid aan en om vir iemand te sorg.

Maar die onderwysers en skoolhoof weet nie van hom nie. En dit veroorsaak lekker nuwe intriges in Ratels! Johnny maak sy debuut in die November-episodes van Ratels.

Johnny in die middel

Mila Guy as Karlientjie (links), Johnny Potsanyane as Cheeky (middel) en Francois van Rensburg as Vincent (regs).