Ontmoet Jody Hendricks


JODY_saai_uitRSG se Jody pak alles met oorgawe aan….

“Ek het rêrig ‘n passie vir wat ek doen, daar was nog nie een dag wat ek opgestaan het en gedink het, ai ek moet gaan werk nie.”

Dit is hoe positief RSG se Jody Hendricks oor werk en oor die lewe is. Jody is die regisseur wat saam met Lynette Francis moet sorg dat daar elke weeksoggend 08:00 ‘n Praat Saam op die lug is. Hy is ook een van RSG se ankersportaanbieders, hy doen sokkerkommentaar en hy bespreek rugbywedstryde op lug. Hy praat ook net so vinnig soos sy besige skedule.

Vir die politiek se hy nee, al is hy al genader. Hy hou eerder vleisbraaie saam met vriende en familie en luister na HipHop-musiek. As daar tyd is, reis hy graag en hy probeer minstens een boek per maand lees.

Jody skryf verder :

“Ek is gebore in die kusdorp, Die Strand, in die Kaap – een van die beste strande in Suid-Afrika. Ek het daar skool begin gegaan en vir hoërskool is ek Somertset Wes toe”.

Dit was juis een oggend oppad skool toe in die taxi toe radio hom roep. “Ek het een van my helde Mark Gillman, op die radio gehoor. Hy het iets gesê wat my aandag getrek het, ek het gedink cool – en ek het geluister en geluister… Later die middag het ek vir my ma gesê ek gaan nog eendag op radio wees. ” En tóé sit Jody skouer aan die wiel.

Jody kry in 2005 sy diploma in Joernalistiek aan die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie, maar, sê hy, dit was nie altyd maklik nie. “As student was dit nogal uitdagend, ek moes baie oggende reeds half sewe op die trein, van die Strand af Belville toe om betyds te wees vir klas.”

Jody en sy ma Beula Hendricks en sy oudste sussie Nina Hendricks.

Jody en sy ma Beula Hendricks en sy oudste sussie Nina Hendricks.

Vra jy oor die familie, slaan Jody oor in ‘n stadiger rat. “Ek is grootgemaak deur my Ma, ‘n enkelouer. Vir ses jaar was dit net ek en my Ma. Ons kan mekaar enige iets vertel. Sy sê sy het my nooit geslaan of geskel nie, maar as sy nou terug kyk moes sy dit miskien meer gedoen het.” Hy lag.

Jody by sy jongste sussie

Jody by sy jongste sussie, Zoe.

Jody by sy geliefde ouma Louise.

Jody by sy geliefde ouma Louise Hendricks.

As die oudste van vier kinders, twee susters en ‘n broer, moet Jody die voorbeeld stel en “ja” gee hy toe “dit is nie altyd maklik nie, maar dit is vir mý baie belangrik.”

“Ek is ook baie lief vir my Ouma. Sy is die een wat dissipline toegepas het, sý’t gesorg dat ek goed doen op skool, nie met die verkeerde vriende deurmekaar raak nie” sê Jody en skud sy kop beslis. “Dit is een van die redes hoekom ek vandag so hard werk. Sy sê altyd, as jy iets doen, doen jy dit 100% en jy doen dit rég.”

Seker dié dat Jody ook verlede jaar aangewys as een van die Mail & Guardian se top 200 Jong Suid-Afrikaners.

As sportkommentator skaaf hy al lank aan daai sportverslagte, “van kleinsaf, as ons die rugby kyk, het ek deur die statistiek gegaan en vir my Ma of Oupa op hoogte gebring: dit is die speler se 113de wedstryd, hy’t al 26 drieë gedruk – presies wat ek nou doen as ek kommentaar lewer. Ek het nooit gedink dit sal eendag my loopbaan wees nie” sê hy.

Jody kom uit ‘n sportiewe familie en het op skool rugby, krieket en sokker gespeel, maar dit is veral die familie-byeenkomste vir ‘n rugbywedstryd wat hom bybly.

IMG_0649“Die helfte van my familie het geskree vir die Noord-Transvaal – die ánder vir die WP, so dit kon nogal ruptions veroorsaak – maar sport bring mense bymekaar. Na die tyd braai en kuier almal, maak nie saak wie se span gewen het nie.”

Iets wat min mense weet, is sy liefde vir die bokskryt. “Ek was vir lank ‘n amateurbokser.” En – verseker hy my “ek het nog nooit n geveg verloor nie.”

Want wat Jody aanpak, doen hy 100%. Voluit. Vir ‘n uitklophou.

Kyk gerus na die Youtube Video onderhoud met Jody om te sien wat agter die skerms gebeur as Jody regisseur is vir Praat Saam en as hy agter die mikrofoon inskuif vir RSG Sport.

Jody is vlot tweetalig. Só gesels hy op TV as rugby-analis: