Die KPMG-Gupta fiasko: die jongste nuus


Die Parlement wil vrae stel aan KPMG, die SAID oorweeg regstappe teen KPMG, Gordhan en Lackay oorweeg siviele eise, volledige onthullings word van KPMG ge-eis en die KPMG-verslag is deur die DA aan die Valke oorhandig.

Wat is die jongste stand van sake? In Praat saam ontleed twee kundiges die fiasko. Die DA gaan vandag aanklagte van bedrog, rampokkery en samespaning indien teen die internasionale konsultasiemaatskappy McKinsey, terwyl die ouditeursfirma KPMG sy opsies oorweeg ná die SA Inkomstediens se aankondiging van moontlike regstappe teen hulle. Wat sê die web van onthullings van Suid-Afrikaanse besighede en hulle geloofwaardigheid?

Die Parlement wil vrae stel aan KPMG
Die Parlement beplan om vrae aan die ouditeursfirma KPMG te stel nadat die maatskappy ‘n verslag oor ‘n beweerde geheime eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens teruggetrek het. Die voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge, Themba Godi sê hulle beplan om KPMG te vra om voor die komitee te verskyn om te verduidelik waarom die maatskappy so opgetree het en om redes te verskaf waarom hy steeds toegelaat moet word om sake met die regering te doen. Die kommissaris van die SAID, Tom Moyane het vroeër vandag by ‘n mediakonferensie gesê hulle beplan regstappe teen KPMG weens skade aan die beeld van die Inkomstediens nadat die verslag teruggetrek is. KPMG se bestuurshoof en ses ander senior bestuurslede het bedank na aanleiding van kritiek oor die maatskappy se bande met Gupta-maatskappye sowel as die omstrede SAID-verslag.

SAID beplan regstappe teen KPMG
Die kommissaris van die SAID, Tom Moyane het vroeër vandag by ‘n mediakonferensie gesê hulle beplan regstappe teen KPMG weens skade aan die beeld van die Inkomstediens nadat die verslag teruggetrek is. KPMG se bestuurshoof en ses ander senior bestuurslede het bedank na aanleiding van kritiek oor die maatskappy se bande met Gupta-maatskappye sowel as die omstrede SAID-verslag.

Moyane het ontken dat die SAID onbevoeg en korrup is. Die voormalige Minister van Finansies, Pravin Gordhan het vroeër beweer dat die Inkomstediens bestuur word deur onbevoegde mense wat nie weet hoe om hulle werk te doen nie. Dit volg te midde van berigte dat die Inkomstediens ‘n 13 miljard rand verlies in belastinginvordering gely het in die tweede kwartaal. Die firma het die verslag vroeër teruggetrek en geheime besonderhede bekend gemaak. Moyane sê die Inkomstediens is geskok oor KPMG se immorele, onwettige en onetiese optrede. Hy sê KPMG het die verslag teruggetrek sonder om die Inkomstediens te raadpleeg en ten spyte daarvan dat daar ‘n diensleweringprestasie-ooreenkoms tussen hulle is wat KPMG verbied om dit te doen.

Die SAID gaan ook alle werk wat die ouditeursfirma vir die inkomstediens doen, staak. KPMG het verlede week sy verslag oor ‘n sogenaamde geheime eenheid by die inkomstediens onttrek. Die inkomstediens gaan ook die Minister van Finansies nader oor die saak. Jean Esterhuizen berig.

Gordhan en Lackay win regsmenings in
Die oudminister van Finansies en voormalige kommissaris van die Inkomstediens, Pravin Gordhan en ander voormalige SAID-werknemers win regsmenings in in verband met die KPMG-verslag wat onttrek is.
Die voormalige woordvoerder van die Inkomstediens, Adrian Lackay, sê hulle het regsverteenwoordigers genader nadat die ouditfirma KPMG sy verslag oor ‘n beweerde geheime eenheid by die Inkomstediens onttrek het. Al die betrokkenes is voorheen met die beweerde eenheid verbind. Lackay sê hulle het nooit die geleentheid gekry om op die bewerings te reageer nie. Hy sê diegene wat by die oorsprong van die bevindings betrokke was, moet aanspreeklik gehou word. Die pasaangestelde uitvoerende hoof van KPMG Suid-Afrika, Nhlamu Dlomu, het intussen onderneem om die beleërde outditeursfirma se basiese waardes van etiek en integriteit te herstel. Dlomo is aangestel na die bedanking van Trevor Hoole en ses ander senior bestuurslede.
Lackay, sê meer mense moet aanspreeklikheid aanvaar vir die KPMG-verslag oor die inkomstediens. Die ouditfirma het gister sy verslag oor ‘n sogenaamde geheime eenheid in die S.A.I.D teruggetrek. Verskeie senior personeellede van KPMG het ook bedank. Lackay sê ‘n regsfirma in Sandton wat vir die Inkomstediens opgetree het, het KPMG opdrag gegee om bevindings oor die klandistiene eenheid te maak en hulle moet ook antwoorde gee. Hy sê hoewel KPMG die regte ding probeer doen, is daar steeds geen gevolge vir die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag wat die verslag gebruik het om die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan en die gewese kommissarisse Oupa Magashula en Ivan Pillay te probeer vervolg nie.
Lackey praat met Heindrich Wyngaard oor die ouditeursfirma KPMG se bekentenis oor hul onetiese optrede met hul ondersoek na die sogenaamde “rogue” (of onwettige) ondersoekeenheid by die Inkomstediens.

KPMG-bestuurslui bedank, maar ontken korrupsie
Die bestuurshoof van die ouditeursmaatskappy KPMG, Trevor Hoole, die voorsitter, Ahmed Jaffer, die maatskappy se bedryfshoof, Steven Louw, en vyf senior bestuurslede het bedank. Die maatskappy het ook sy verslag oor die beweerde geheime eenheid by die Inkomstediens onttrek. Hoole sê dit is in die beste belang van die maatskappy om die pos te ontruim sodat ‘n opvolger die publiek se vertroue in KPMG kan herstel. KPMG Suid-Afrika het in ‘n verklaring gesê die 23 miljoen rand fooi wat hy ontvang het vir die SAID-verslag, sowel as ‘n verdere 40 miljoen rand donasie, sal geskenk word vir opleiding en nie-regeringsorganisasies wat korrupsie beveg. KPMG sê die bedrag van 40 miljoen rand is gebaseer op die totale bedrag wat verdien is uit instansies met Gupta-bande waarvoor dienste gelewer is sedert 2002.

Die pasaangestelde uitvoerende hoof van KPMG Suid-Afrika, Nhlamu Dlomu, het onderneem om die beleërde outditeursfirma se basiese waardes van etiek en integriteit te herstel. Dit volg op die fiasko’s met Gupta-maatskappy en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se beweerde onwettige ondersoekeenheid. Dlomo is aangestel nadat haar voorganger, Trevor Hoole, en ses senior bestuurslede bedank het. Dlomu, die voormalige hoof van KPMG se personeel- en transformasie-afdeling, word beskryf as ‘n baie ervare bestuurder in die finansiëledienste-sektor.

KPMG se interne ondersoek het nie bewyse gevind van onwettige optrede of van korrupsie nie, maar het bevind dat KPMG-Suid-Afrika nie voldoen het aan die professie se standaarde in die werk wat hy vir die Guptas gedoen het nie. Die maatskappy het vroeër vandag bekendgemaak dat sy bestuurshoof, Trevor Hoole, die voorsitter, Ahmed Jaffer, die maatskappy se bedryfshoof, Steven Louw, en vyf senior bestuurslede bedank het. Nhlamu Dlomo is as nuwe bestuurshoof aangewys.

Volledige onthulling van KPMG ge-eis
maak Die ouditeursfirma KPMG moet volgens ontleders ‘n volledige onthulling maak van sy rol om staatskaping te bevorder. Ontleders sê Suid-Afrikaners, wat die grootste slagoffers van staatskaping is, behoort die volle waarheid te hoor. ‘n Handelsmerkspesialis, Solly Moeng sê die feit dat KPMG 40 miljoen rand wat hy verdien het vir sy werk vir die Guptas aan nie-regeringsorganisasies gaan skenk, is nie genoeg nie. Moeng sê daar moet onder meer ‘n volle blootlegging wees oor die beweerde geheime eenheid by die Inkomstediens. KPMG het vroeër sy verslag oor die eenheid onttrek, en die voormalige minister van Finansies, Pravin Gordhan om verskoning gevra. Gordhan was kommissiaris van die Inkomstediens toe dié eenheid na bewering gestig is.

Verslag aan Valke oorhandig
Die DA het ‘n afskrif van die ouditeursfirma KPMG Internasionaal se verslag aan die Valke oorhandig om hulle te help in die ondersoek na die Guptas. Die DA-woordvoerder, David Maynier sê die KPMG moedermaatskappy se ondersoek na die oudits van maatskappye en instellings met Gupta-bande het bevind dat die besture van die maatskappye misleidende inligting verskaf het aan ouditeurs. Hy sê dit beteken dat KPMG Internasionaal en KPMG Suid-Afrika oor inligting kan beskik wat gebruik kan word in die Valke se ondersoek na onder meer drie Gupta-broers en die minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane. Die ondersoek volg op strafregtelike aanklagte wat Maynier op 3 Julie ingedien het. Sewe senior KPMG-bestuurders het Vrydag bedank en die maatskappy het sy verslag oor die beweerde geheime eenheid in die Inkomstediens teruggetrek.

Die DA sê die ouditeursfirma KPMG Internasionaal en KPMG Suid-Afrika kan oor inligting beskik wat gebruik kan word in die Valke se ondersoek na onder meer drie Gupta-broers en die minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane. Die party se woordvoerder oor Finasies, David Maynier het ‘n afskrif van KPMG Internasionaal se verslag aan die Valke oorhandig om hulle te help in die ondersoek na die Guptas. Die ondersoek volg op strafregtelike aanklagte wat Maynier op 3 Julie ingedien het. Sewe senior KPMG-bestuurders het Vrydag bedank en die maatskappy het sy verslag oor die beweerde geheime eenheid in die Inkomstediens teruggetrek.

SAKP eis optrede
Die adjunksekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, Solly Mapaila sê daar moet dringend stappe gedoen word teen maatskappy wat bande met die omstrede Gupta-familie het. Mapaila sê die verslag deur die ouditeursmaatskappy, KPMG simboliseer tot watter mate staatskaping die land skade berokken het. Mapaila het tydens die Ahmed Kathrada-gedenklesing in Mbombela gesê hy kan nie verstaan hoekom daar optrede was teen Trillian Capital in Amerika en Duitsland, maar niks plaaslik nie.

Einde niet: Brian Molefe nuwe hoof van staatspensioenfondse?
Die vakbondfederasie SAFTU het ‘n beroep gedoen dat werkers direk op die raad van die Openbare Beleggingskorporasie verteenwoordig moet word om deursigtigheid te verseker. Dit volg nadat die raad van die OBK ontken het dat die instelling die jongste slagoffer van staatskaping is. Die instelling bestuur die pensioenfondse van staatsamptenare. Volgens mediaberigte sal ‘n raadsvergadering later vandag gebruik word om die huidige bestuurshoof, Daniel Matjila uit sy pos te verwyder en hom met die voormalige bestuurshoof van Eskom, Brian Molefe te vervang. Die hoofsekretaris van SAFTU, Zwelenzima Vavi sê hulle is bekommerd oor die berigte.
Staatsdiensvakbonde sê hulle sal enige poging van die regering teenstaan om die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, Brian Molefe, as uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie aan te stel. Die OBK bestuur staatspensioenfondse en daar is gerugte dat die instelling dalk die jongste slagoffer van staatskaping kan word. Die korporasie bestuur ook bates van tweeduisend miljard rand. Die onderwysvakbond, SADOU, sê hy sal alles in sy vermoë doen om Molefe se aanstelling te keer. Die vakbond het 250-duisend staatsamptenare wie se pensioenfondse deur die OBK bestuur word. SADOU sê hy sal saam met ander werkers onder die vaandel van COSATU op 27 September ‘n optog hou om standpunt in te neem teen staatskaping, korrupsie en werksverliese.

Die Ministerie van Finansies het vroeër berigte verwerp dat ‘n Raadsvergadering van die OBK vandag gaan besluit om die uitvoerende hoof, Dan Matjila, uit sy pos te verwyder. Die adjunkminister van Finansies, Sfiso Buthelezi, sê die bewerings is ongegrond en veroorsaak onnodige paniek. Die DA-parlementslid, David Maynier het egter gesê hy is baie bekommerd oor die gerugte. Hy sê Suid-Afrikaners kan nie net sit en toekyk hoe die President en die Guptafamilie hulle hande op tweeduisendmiljard rand kry nie.

Luister ook:
Sondag 17 September 2017: Wat sê die ekonome in Finansiële Fokus oor onder meer die KPMG-debakel:
Corruption Watch teiken Eskom, Mckinsey
Monitor: Woensdag 13 September 2017

Corruption Watch Suid-Afrika gaan binnekort die VSA se Departement van Justisie vra om die Amerikaanse konsultasie maatskappy Mckinsey & Companies se sake-transaksies in Suid-Afrika te ondersoek. Die uitvoerende direkteur van Corruption Watch, Davied Lewis, sê hulle teiken onetiese gedrag by Eskom, McKinsey en die Internasionale Finansiële Korporasie.

Monitor: Woensdag 13 September 2017

Die etiese dilemma vir ouditeursfirmas en bestuurskonsultasie maatskappye soos KPMG en McKinsey is in die kollig, nadat Corruption Watch SA gesê het hy gaan die Amerikaanse owerhede vra om McKinsey te ondersoek. Dit gaan oor sy optrede by die Gupta-beheerde Oakbay maatskappy in transaksies met Eskom. Intussen het Save SA ander besighede versoek om hulle bande met KPMG te verbreek. Die versoek volg nadat Bell Pottinger ‘n kommunikasie-veldtog vir die Guptas bestuur het, wat rasse-spanning in Suid-Afrika verhoog het. Na dié bevinding van die Britse reguleerder is Bell Pottinger vir vyf jaar geskors uit dié liggaam, terwyl die firma se tak in Asië weggebreek het. Die Britse afdeling van die reklamemaatskappy, Bell Pottinger, is intussen onder administrasie geplaas ná die maatskappy ernstige finansiële verliese gelei het weens sy veldtog in Suid-Afrika. Monitor praat met die Direkteur van die Bestuurskool van die Universiteit Stellenbosch, professor Piet Naude.