Die jongste oor grondonteiening en voorleggings


Monitor, Donderdag 10 Mei 2018. – Parlementêre komitee met vals voorleggings oorval

Die afsnydatum vir die openbare verhore van die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee, wat die onteiening van grond sonder vergoeding moet oorweeg, gaan heel moontlik uitgestel word. Die komitee het reeds meer as ‘n 100-duisend skriftelike voorleggings ontvang. Die afsnydatum vir die skriftelike voorleggings is einde Mei, terwyl die openbare verhore se Augustus afsnydatum dalk tot September verskuif moet word. Vincent Smith, ANC-LP en medevoorsitter van die komitee, se^ al die vergaderplekke wat deur die komiteelede in die proses besoek gaan word, sal vandag (DONDERDAG) aangekondig word. Hy het met Malixole Gwatyu gepraat…

 

Lees en luister ook

Monitor, Dinsdag 8 Mei 2018. – Geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika

Geskiedenis word tot ‘n groot mate deur die maghebbers bepaal. Die Suid-Afrikaanse geskiedenis AANLYN blad – SA History Online – het ‘n artikel gepubliseer oor die sogenaamde leë land-teorie. Daarin verduidelik die skrywers hoe die Britse Ryk en later die Nasionale Party aangevoer het dat die land leeg was en dat swart mense vanuit die noorde en wit mense van die suide deur die land getrek het. Die artikel wys daarop dat die teorie nie histories of antropologies bewys kon word nie. Nou is die vraag of die geskiedenis die politiek van die dag dien of andersom. Metzi van der Merwe doen verslag.

Monitor, Dinsdag 8 Mei 2018. – Khoi San voel uitgesluit van grond-eise

Suid-Afrika behoort aan die Khoe en San en daarom is die regering se konsultasieproses oor die onteiening van grond sonder vergoeding ‘n bedrogspul en nie werkbaar nie. So sê Anthony Phillip Williams, leier van die Inheemse Eerste Nasie-beweging van Suid-Afrika. Dit volg na ‘n Khoe- en San-grondberaad in Johannesburg waaraan verskeie belangegroepe waaronder Afriforum, Black First Land First en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie deelgeneem het. Williams sê die huidige debat oor grondbesit in Suid-Afrika is oneties as dit sonder die stem of deelname van die Khoe San, die eintlike grondbesitter van die hele Suid-Afrika, plaasvind. Volgens hom moet Suid-Afrika eers simbolies aan die Khoe en San teruggee word, alvorens daar oor enige grondverdeling gepraat kan word. Malixole Gwatyu het met hom gepraat.

Monitor, Dinsdag 8 Mei 2018. – Argeologie kan lig werp oor grondbesit

Terwyl geskiedkundiges meen dat politici geskiedenis dikwels manipuleer en inspan om hulle eie posisie te versterk, sê argeloë die aarde vertel nie leuens nie. Marlinée Fouché berig dat die argeologie juis kan help om van die leë spasies in ons geskiedenis in te vul. Vondse uit veral die ystertydpek, toon dat hier wel mense in Suider-Afrika geleef het voor Jan van Riebeeck se aankoms in 1652…