Reaksie teen vroueskopper Manana


Monitor/Spektrum:
Die Minister van Polisie, Fikile Mbalula se mediaverklaring oor #MduduziManana aanranding. Klik hier vir Monitor se storie daaroor: https://iono.fm/e/460115

Nuus

  • Die Minister van Polisie, Fikile Mbalula sê niemand is bo die wet verhewe nie en dat die bewerings teen die Adjunkminister van Hoër Onderwys, Mduduzi Manana in ‘n ernstige lig beskou word. Mbalula het reageer nadat klagte van aanranding teen Manana by die Douglasdale-polisiestasie in Johannesburg ingedien is. Manana word daarvan beskuldig dat hy twee vroue by ‘n kuierplek in Fourways aangerand het. Ooggetuies het vertel hoe Manana glo een van die vroue geklap, gestamp en getrap het terwyl sy op die grond gelê het. Mbalula sê die klaers sal met waardigheid hanteer word en terugvoer kry soos wat die ondersoek vorder. Dit het intussen aan die lig gekom dat nóg ‘n klag van aanranding teen Manana vroeër deur die polisie in Ermelo in Mpumalanga ondersoek is. Manana het ook ‘n klagte van aanranding teen dié klaer ingedien. Die saak is later van die rol geskrap.

  • Die EFF het ‘n beroep op Manana gedoen om homself aan die polisie oor te gee. Die EFF se woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi sê Manana moet ook die name bekend maak van die mans wat gehelp het om die vrou aan te rand. Ndlozi sê die kuierplek, Cubana, is ook aanspreeklik omdat veiligheidswagte glo nie tot die vrou se redding gekom het nie. Die DA het intussen Manana se bedanking geëis en sê hy gaan die Openbare Beskermer vra om ‘n ondersoek te doen na of Manana die etiese kode vir LP’s verbreek het.

  • Die geslagsgelykheidsorganisasie, Sonke Gender Justice, eis ook Manana se bedanking. Manana het ná die voorval gesê een van die vroue het hom as gay bestempel en dít is hoekom sy geslaan is. ‘n Woordvoerder van Sonke Gender Justice, Mbuyiselo Botha sê mans moet hulle distansieer van dié optrede. Botha sê Manana se reaksie toon dat mense steeds leef in ‘n homofobiese samelewing. Botha sê dit is kommerwekkend dat iemand woedend en verneder voel omdat hy as gay bestempel is.

     

  • Die SAUK het vasgestel dat nóg ‘n saak van aanranding teen die Adjunkminister van Hoër Onderwys, Mduduzi Manana vroeër by die Ermelo-polisiestasie in Mpumalanga ingedien is. Dit volg nadat twee vroue aanklagte van aanranding teen Manana ingedien het by die Douglasdale-polisiestasie in Johannesburg. Manana het na bewering die twee vroue die afgelope naweek by ‘n kuierplek in Fourways aangerand. Volgens ‘n polisiewoordvoerder van Mpumalanga, Leonard Hlathi het Manana ook ‘n klag van aanranding teen die klaer ingedien. Albei sake is later van die hofrol geskrap.

  • Die DA het ‘n beroep op Manana gedoen om te bedank. ‘n DA-LP wat op die portefeuljekomitee vir hoër onderwys dien, Hlomela Bucwa, sê hulle verwelkom die strafregtelike ondersoek ná die naweek se voorval, maar dat dit nie genoeg is nie. Bucwa sê dit is duidelik dat Manana nie opgewasse is vir die posisie wat hy beklee nie. Hy sê ook die DA gaan die Openbare Beskermer vra om ‘n ondersoek te doen na of Manana die etiese kode vir LP’s verbreek het. Die ANC-woordvoerder, Zizi Kodwa, sê intussen dié soort gedrag is onaanvaarbaar en teenstrydig met die ANC se waardes. Kodwa het ‘n beroep op die polisie gedoen om die skuldiges aan die kaak te stel.