Mynbou-handves is omstrede


Die minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane, se aankondiging Donderdag van ‘n nuwe nasionale mynbouhandves het hom vasgeloop teen groot kritiek van rolspelers in die mynbedryf. Dit het sowat R51 miljard se markwaarde van genoteerde mynmaatskappye uitgewis en word selfs as rassisties bestempel. Maar daar is ook ‘n ander, verwelkomende mening oor die handves – en hiervoor het ons vanoggend vir Mzwanele Manyi, president van die Progressive Professionals Forum, in die ateljee.

Klik hier om na die video te kyk.

Die FW de Klerk-stigting deel die kommer van rolspelers en kommentators oor die nuwe mynbouhandves wat einde verlede week deur die betrokke minister, Mosebenzi Zwane, bekend gemaak is. Ons praat met die uitvoerende direkteur van die stigting dr. Theuns Eloff. Volgens hom, lyk dit nie asof daar ‘n goeie verhouding bestaan tussen Minister Mosebenzi Zwane en die bedryf bestaan nie. https://iono.fm/e/443856

Monitor: Vrydag 16 Junie 2017

Die vakbond Solidariteit gaan die regering voor die hof daag oor verskeie aspekte van die nuwe Mynbouhandves wat onlangs bekendgestel is. Mynmaatskappye het 12 maande tyd om hulle Swart Ekonomiese Bemagtigings aandeelhouding van 26% tot 30% te verhoog. Daar sal ook van maatskappye wat mynregte het verwag word om 1% van hulle jaarlikse omset aan gemeenskappe te betaal. Die hoofsekretaris van Solidariteit, Gideon du Plessis, het aan Dianke Nel gesê, daar is talle regsgebreke in dié mynbouhandves en daar is nie behoorlik met al die belangegroepe gekonsulteer nie.