ATKV: Stem vir jou helde en wen!


Die ATKV se #heldhaftig veldtog vier daai spesiale mense wie die samelewing ‘n beter plek maak.

Ons nooi luisteraars uit om te stem vir hulle hededaagse helde. Klik hier om jou held the nomineer en staan ’n kans om R 1 500 se data te wen en ‘n jaar lange ATKV-lidmaatskap te wen met komplimente van die ATKV. Stem vir iemand spesiaals. Wees #heldhaftig.

“Toe die ATKV op ’n doodgewone Dinsdagaand in 1930 tot stand gekom het, was een ding seker: Die organisasie se hart was reg, sy hand was oop, sy voet gereed en sy mond het Afrikaans gepraat,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV.

88 jaar later kan ’n mens in die werk wat die ATKV doen, sien dat hierdie woorde nie net lippetaal was nie. “Die werk wat ons doen, maak van gewone mense in hul gemeenskap helde,” sê Sonél “en daarom fokus die ATKV se splinternuwe advertensieveldtog, #heldhaftig, op alledaagse helde”.

“Ons wil vir mense vertel wat ons regtig doen. Daar is nog te veel mense wat onseker is en dink die ATKV bestaan net uit vakansieoorde. Hulle weet nie noodwendig hoe betrokke ons in gemeenskappe, skole en die kunste is nie.

“Ons projekte het nog altyd ’n integrale deel van ’n individu se ontwikkeling gevorm. Dit stel kinders in staat om later self die fakkel in hul gemeenskap op te neem en daarmee te hardloop. Dan praat ons nie eens van die wonderlike werk wat die meer as 325 ATKV-takke in hul gemeenskappe doen nie.”

Benewens die heldedade wat die ATKV-takke verrig, wil nasionale ATKV-projekte ’n platform skep vir jong mense en onderwysers om self helde te word.

Die splinternuwe reklameveldtog #heldhaftig wil mense aanmoedig om deel van die ATKV te word.

Die gedagte is eenvoudig: sluit aan, word deel, wees ’n held! Vertel vir ons wie is jou held en staan ’n kans om ’n jaar lange ATKV-lidmaatskap te wen. Hierdie lidmaatskap gee jou toegang tot die veelbekroonde tydskrif, Taalgenoot.

Klik hier vir meer inligting oor die ATKV.