Bekroonde debuutroman op RSG voorgelees


Koljander“Dit gebeur selde dat ‘n mens met die lees van die eerste sin pens en pootjies in ‘n boek val.” Dit was die reaksie van die joernalis en rubriekskrywer Annemarie van der Walt nadat sy Carié Maas se Koljander gelees het.

Koljander is RSG se nuwe aand-boekvoorlesing wat pas (Maandag 28 Maart) begin het.  Dit kan weeksaande om 19:20 gehoor word. Die aktrise Frieda van den Heever is die voorleser met regie deur Ronél Geldenhuys.

Koljander is in 2012 as die Debuutwenner in Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd aangewys. Die boek was saam met Slagyster van Rudie van Rensburg en Valsrivier van Dominique Botha op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys vir 2013.

Die storie
Wanneer Karen en Ben Strauss se baba gebore word, besef ook Karen se ouers opnuut dat haar broertjie Roux se lang skadu nog altyd oor hulle elkeen val. Sal Karen se kind ’n nuwe begin wees, in haar pa se woorde “ ’n impakspeler wat net voor beseringstyd op die veld kom en die blerrie WP ’n slag laat wen?” Want onwillekeurig is Hendrik se aftrede tyd vir bestekopname, vir die verskrikking van saamleef met jou doen en late. En vir Karen, wat glo haar ma het haar nooit vir haar broer se dood vergewe nie, gaan vrees weer die motiveerder wees vir hierdie nuwe opperste wedloop van haar lewe, en weer met die meedoënlose maatslag van die Radetski-mars op elke atletiekbyeenkoms van destyds? En sy moet boonop die ontwerpkompetisie wen, want daardie podium kan haar en Ben se finansiële redding wees.

Luister hier na die eerste episode, maar wees gewaarsku dat die 1 ste episode inhoud bevat wat vir sensitiewe luisteraars aanstoot mag gee.

In Koljander (uitgegee deur Human & Rousseau) word die luisteraar geneem op ’n reis na die binnewêreld van die kunssinnige Karen en van haar siniese fisikuspa. Dit is die verwikkeldheid van vergiffenis wat die verhaal rig, en hulle eindelik ook ná die trauma in ’n strandhuis in die Kaap laat kennis maak met die gestroopte skoonheid van Mali in Wes-Afrika.

Oor die skrywer

carie_maasCarié Maas woon en werk in Johannesburg. Sy is ook bekend om die boeke Jannie Mouton: En toe fire hulle my en From Corner Café to the JSE: The Famous Brands Story. Sy was onder andere produksieredakteur van die destydse Finansies & Tegniek en ook adjunkredakteur van Mooiloop, waar een van haar stories met ‘n ATKV Mediaveertjie bekroon is.

“Ek is mal oor familie en kan nooit glo watter wonderlike vriende ek het nie,” skryf Maas op haar blog, cariemaas.com.

“My grootste prestasie is die begin van ’n familienuusbrief toe my ouma dood is. My huis het houtvloere en daar is prente uit my oumagrootjie se huis. Ek hou van blou. Ek hou van oefen, neem partymaal foto’s, hou soms ’n naald vas en het by my ma geleer ’n mens luister ordentlike musiek. Ek glo wat ons is, is net genade.”