Boekvoorlesing: Geniet Jeanne Goosen se kwinkslae in Straataf


Jeanne Goosen (Foto: Netwerk24)

“Ek het ontdek ‘n dak is ‘n lekker plek vir wegkruip, vir aflor, om te rus en te peins. En dis veilig. Nêrens in die hele wêreld smaak ‘n koue bier so lekker soos op ‘n dak nie. Al wat ‘n ou kort, is ‘n sonsambreel en ‘n hangmat, en dan het jy vrede met die wêreld… Jy word ‘n dakfilosoof, betrag die wêreld om jou en besef daar is niks nuuts onder die son nie.”

Die skrywer Jeanne Goosen (foto regs deur Netwerk24) se skerp waarnemingsvermoë en talent om haar waarnemings met soveel humor en spitsvondigheid oor te dra, is tydloos. Soos dié aanhaling uit haar bundel Straataf (uitgegee deur Lapa-uitgewers) getuig, kan ‘n mens haar woorde weer en weer besoek.

 

Van Donderdag 11 Mei lees Elma Potgieter (foto links) uit Goosen se Straataf in RSG se oggend-boekvoorlesing. Dit sal weeksoggende om 10:45 uitgesaai word.
Kom ervaar Goosen se kwinkslae en aweregse blik op die lewe en die mense in haar straat in ‘n reeks sketse wat die luisteraar lank sal bybly.