Boekvoorlesing: ‘Stippellyn’


stippellyn

Sy het gedink dit was verby… ’n hoofstuk van haar lewe wat afgesluit is, maar toe sien sy uit die hoek van haar oog die gestalte by die begrafnisdiens inloop: ’n lang, benerige man met ’n effens ongekoördineerde manier van beweeg. Lana raak oombliklik naar en lighoofdig van die skrik. Dit is asof sy in ʼn yskoue stilte inplons, tuimel deur die afsondering en bo-aardse stilte van water, en vir altyd net daar wil bly.

Lana sal mettertyd agterkom dat herlewing en die dood dikwels dieselfde skokeffek het, en dat dit dan bitter moeilik is om vas te stel wat die begin en wat die einde is.

Erika Murray-Theron se roman, Stippellyn, word van Dinsdag 2 Desember weekoggende om 11:45 op RSG voorgelees.

Die skrywer stuur haar karakters met soveel intelligensie en subtiliteit op hul lewensweë dat Stippellyn die gewaarwording bring van ’n ontdekking van die lewe self.

Murray-Theron is onder andere bekend om haar tydskrifverhale in De Kat, Sarie en Tydskrif vir Letterkunde. Haar roman, Sê Maria, is in 2007 met die ATKV-prosaprys bekroon. Sy was ook die wenner van die Groot Romanwedstryd met ‘n Tapisserie met klein diere.

Die voorleser van Stippellyn is Christelle Webb-Joubert – klik hier vir ‘n video uittreksel.

 

 

 

 

Kategorieë