Fantasieverhaal ‘Die Bergengel’ op RSG


“Om ‘n Bergengel te wees, is om alleen deur die ondergrondse gange van ‘n kapel te stap terwyl daar gesing word – jy hoor nie net die musiek en die stemme nie, jy hoor ook hoe dit eggo in die toekoms.”

Carina Stander se fantasieroman, Die Bergengel, word van Donderdag 14 Desember elke weeksaand om 21:10 op RSG voorgelees. Die akteur Pieter van Zyl gee aan hierdie magiese werk gestalte deur sy aand-boekvoorlesings.

Jonathan Amid het die roman op Netwerk24 as volg geloof: “dis ’n prag-roman: fabelagtig mooi en volwasse, met ware diepte en insig, enigmaties maar ook toereikend. […] Die Bergengel is meer as ’n roman. Dit is ’n kunswerk wat die woord tot heiligdom verhef.”

In Gabriëllië het dertien jaar reeds verloop sedert daar enige teken was van ’n Bergengel en glo die jonger generasie byna nie meer aan die bestaan van dié mitiese kreature nie. Eron Verberger, seun van die klokmakersegpaar Gibor en Alida Verberger, word egter gedwing om met nuwe oë na fantasie én werklikheid te kyk wanneer hy saam met sy pa op ’n lewensveranderende avontuur vertrek.

Wie is die misterieuse Reënboogmaker met wie hulle pad elke nou en dan kruis? Is die brande wat deur die land trek werklik net vure van vernuwende “skoonbrand”, soos die Regiohoofde beweer, of is dit die gevreesde Vuurstorms waarvan die geskiedenis vertel?

Die Bergengel (uitgegee deur Protea) is ‘n mistieke en allegoriese fantasieverhaal van grootword en groei wat tot volwasse sowel as jong volwasse luisteraars sal spreek.

Pieter van Zyl

Pieter van Zyl lees van Donderdag 14 Desember elke weeksaand om 21:10 in RSG se aand-boekvoorlesing Carina Stander se Die Bergengel voor.

Wat is ‘n Bergengel?
‘n Wese wat op ‘n bonatuurlike wyse ondergronds kan leef, soos een wat in en uit spelonke beweeg om sodoende lig te werp op die gemoed van ‘n enkeling of ‘n groep wat verblind is deur die grotbestaan van geheimhouding.

Wat sê die resensente?
“Die Bergengel is ’n mistieke reisverhaal, ’n poëtiese en byna gewyde kunswerk in ’n literêre gedaante wat nog nooit tevore in Afrikaans teëgekom is nie. Enersyds skryf Carina Stander met die genuanseerde stem van ’n wysgeer wat universele waarhede en filosofiese kwessies sonder sentimentaliteit oopskryf, andersyds bied sy ’n avontuurverhaal met verbeeldingryke karakters en boeiende kinkels wat van uitsonderlike verteltalent getuig.” – Amelia de Vaal, keurverslag vir Protea Boekhuis

“Dit is juis Stander se vernuf om te verbeeld wat in dié roman, die eerste van drie, so voorop staan. En daarmee saam die vaardigheid om te verbeel. Die leser onderneem die (geestelike) ontdekkingsreis saam met Eron met genoegdoening, verstom hom of haar aan die verbeelde landskap en gee vrye teuels aan sy of haar verbeelding.” – Johan Myburg, Maroela Media

“Stander se pragroman is ’n waardevolle bydrae tot nie net die afgeskeepte fantasiegenre nie, maar ook die Afrikaanse letterkunde in sy geheel. Die magiese elemente van Die Bergengel verryk die verhaal en dra by tot die meesleurende, amper gewyde toon van die roman. In hierdie geval skep elemente van onder andere spekulatiewe fiksie, allegorie, magiese realisme, bildungsroman en ekokritiek, asook die verwewing van natuur, bonatuur en die menslike elemente, ’n intelligensie en literêre diepte wat die roman verhef tot een met meer om die lyf as ’n blote fantasievlug.” – Elzette Steenkamp, LitNet

Carina Stander

Wie is Carina Stander?
Carina Stander (gebore in 1976) was plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Ná ‘n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria, werk sy ‘n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan talle groepsuitstallings (onder andere Sasol Nuwe Handtekeninge) en hou drie solokunsuitstallings. Sedert 2006 is sy vryskutjoernalis by ‘n tiental nasionale tydskrifte en koerante, was twee maal Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif, Lééf en finalis vir die AKTV-Mediaveertjie. Sy publiseer in versamelbundels en van haar kortverhale en gedigte is voorgeskryf vir skole.

Ná ‘n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, verskyn haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg 2006). Dit was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys en agt van dié gedigte is in Groot Verseboek opgeneem. ‘n Handvol gedigte uit haar tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009) is getoonset deur die Nederlandse musiekgroep, Souldada vir hul CD’s Oer de grins en Watervolk, asook deur Herman van den Berg vir sy CD, Onthou. Saam die tjellis, die Ha!man (Francois le Roux) bring sy ‘n versmusiek-CD uit waarop sy 15 van haar gedigte voorlees.

Wildvreemd, haar debuutroman, verskyn in 2011 by Tafelberg. Dit is in kunsgalerye in Stellenbosch en Pretoria bekendgestel in samehang met haar inksketse van karakters en tonele uit die boek. Wildvreemd is in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens en verskyn in 2013 by Uitgeverij Athenaeum. Wildvreemd was die voorgeskrewe roman vir gr12 Afrikaanse privaatskole (IEB) vir 2014 tot 2016 en word tans deur ‘n Johannesburgse filmmaatskappy in ‘n draaiboek omskep. Van Cordis Trust ontvang Carina die Orde van die Goue Pen en sy gebruik dié publikasieprys om haar seun Aden van Niekerk se eie vertellings en sy kinderkuns byeen te bring in Wolkland (2013) – ‘n kinderboek deur ‘n kleuter. In 2015 is Carina en regisseur Matthys Boshoff se konsep vir ‘n kinderfliek gekeur om gementor te word deur Disney-Pixar en Triggerfish Animations.

Die Bergengel is gekies vir Exclusive Books se Homebru-lys. Dis die eerste boek in ‘n trilogie – die volgende boek, Die Wonderwese, sal teen Maart 2019 die lig sien. Carina woon die laaste dekade saam met haar man en twee seuns in die Tsitsikamma.