Humor in die hof – ons soek jóú storie


Ian Wessels is besig om vir RSG ‘n boek saam te stel oor stories en staaltjies uit die regswêreld. Die voorlopige werkstitel is Humor in die Hof maar Ian wil graag die net wyer uitgooi en ook stories insluit oor dinge soos snaakse verskonings wat verkeersbeamptes al moes aanhoor, sowel as die humor waarmee polisiebeamptes gereeld te doen kry. Arrestasie is mos dikwels die beginpunt van insidente wat later in die hof eindig.

Hoor wat sê Ian: “Ek dink nie ‘n mens kan ‘n jaar as regspraktisyn of wetstoepasser werk sonder dat jy ‘n hele paar amusante insidente beleef nie. Ek wil die boek graag ‘n tipe versamelde werke maak met ‘n keur van luisteraars se bydraes oor enige aspek van die regswêreld. Almal ken een of ander grappie, maar ek sal graag wil hoor van ware gevalle wat jy self persoonlik beleef het. Dit maak nie saak in watter hoedanigheid nie – al was dit net as getuie. Nes in die kerk, is alles wat in die hof skeefloop mos snaakser as elders, maar prokureurs wat nie litigasie doen nie het net sulke kostelike staaltjies oor versoeke en reaksies tydens konsultasie – veral egskeidings en testamente is mos dikwels ‘n geil teelaarde.”

“Ek vra dus enigiemand wat met die regte in sy breedste sin te doen het – ook administratiewe personeel en tolke – om van hulle te laat hoor. Jy kan maar net die storie in breë trekke stuur, indien nodig sal ek die vleis bysit en dit verder inkleur. Ter wille van perspektief sal dit gaaf wees as jy kan aandui wanneer en waar jy die insident beleef het. Sit asseblief jou persoonlike besonderhede by sodat ek aan jou erkenning kan gee in die boek (as jy wil.) Ek wil dit grootliks oor Desembermaand probeer klaar skryf, dus sal ek dit waardeer as jy van jou kan laat hoor voor jy die pad vat vir jou welverdiende vakansie.”

RSG kan ongelukkig nie vergoeding betaal vir bydraes nie, maar daar is beslis ‘n groot gehoor wat jou moeite sal waardeer, so kom ons verewig soveel as moontlik stories vir die nageslag.

Laat weet jou familie en vriende as jy dalk al van hulle stories gehoor het wat ‘n wyer gehoor verdien. Stuur bydraes na ian@rsg.co.za.