Kom lees saam: Ons nuwe boekklub


Kom lees ‘n hond uit die bos saam met Martelize en Oggend op RSG se nuwe boekklub

As jy ‘n Oggend op RSG-luisteraar is, het jy seker al gehoor van die goeie nuus….dat RSG hierdie maand met ‘n boekklub begin het saam met Martelize Brink en Oggend op RSG.

Martelize nooi jou om saam met haar te gaan op hierdie reis deur die wonderwêreld van boeke.

Luister na die potgooi.

So werk dit: sy kies ‘n boek, julle lees, kundiges gee wenke en dan as almal klaar gelees het, word die boek bespreek op Oggend op RSG.

En jy wat gelees het, sal kan saam praat, saam resensent speel en dalk kan jou boekklub of leeskring ook in die ateljee kom kuier om oor die boek te gesels of ons stuur vir Martelize uit om by julle boekklub te kom opneem terwyl julle die boek bespreek. Dit gaan nie gewigtige letterkundige besprekings wees nie; jy sal beslis kan saam praat, want dis tog die leser se opinies wat tel, nie waar nie?

Martelize het Split, die debuutroman van Debbie Loots, gekies as die eerste boek vir Oggend op RSG se boekklubbespreking. Die temas van die boek is vroulike identiteit, seksualiteit, gelykheid en gesin. Martelize sê oor die boek “Ek is meteens geboei deur die verhaal van Split en ‘n gebroke gesin se bestaanskrisis. Alhoewel Split in die jare sewentig afspeel, is die kwessies waarmee die hoofkarakter Vera worstel, vandag net so relevant. Kom lees saam.”

Hier is ‘n onderhoud met Marion Erskine uit Dubai, stigter van die Lekkerlees Boekrak, wat gesels oor Oggend op RSG se boekklub en Martelize se eerste boekkeuse vir bespreking nl. Split van Debbie Loots. Martelize het via Facebook Messenger met Marion Erskine gesels. Luister na die Messenger-onderhoud met Marion Erskine.

Hier is ook enkele terugvoere van luisteraars oor boekklubs en lees in die algemeen.

image

Wie is Debbie Loots?

Debbie Loots is in Polokwane, Limpopo, gebore. Sy het onlangs haar meestersgraad in skeppende skryfkunde by die Universiteit van Kaapstad voltooi en woon in Kaapstad.   Tot onlangs was sy ‘n artikelskrywer by die interieurtydskrif VISI en nou doen sy vryskutwerk vir onder meer die Mail & Guardian, Rapport, VISI en Weg! Platteland.

image

Iets oor die storie…….

“Dis die sewentigs en tagtigs. ’n Afrikaanse gesin trek gedurig rond, van Pietersburg na Randfontein; van Randfontein na Durban en weer terug; na Triomf, na enigeplek. Terwyl Vera se huwelik aan’t verbrokkel is, knoop sy ’n verhouding met haar buurman aan en lees verbode seks-boeke. Haar man is ’n jagter. Hy vang sy Poppie, en Vera ’n ou skoolliefde, Hendrik. Maar waarom vind Hendrik met die doodgoeie hart homself eendag met ’n rewolwer in die hand? Hul dogter, Lien, smag daarna dat ’n vlieënde piering haar moet oppik. Net van haar groottante Brenda, wat in Triomf bly, ervaar sy enige begrip. Na haar vlug Lien later, kunsbeurs in die hand, maar nie voordat sy die belangrikste lesse by haar onbeholpe ma geleer het nie. Soos dat liefde nie bestaan nie. Split gaan oor grootword op ’n myndorp, soen op Durban se strand en ’n Indiër wat sweet in die kaartjiekantoor van Louis Trichardt se publieke swembad. Gewone mense in ’n ongewone land wat nie lekker verstaan oor beloftes maak skuld nie.”

 

Kategorieë