Nuwe aand-boekvoorlesing is broos mooie liefdesverhaal


‘n “Broos mooie liefdesverhaal” uit die pen van Hans du Plessis word van Maandag 3 Julie op RSG voorgelees.

Tussen die klippe – Du Plessis se tiende roman en uitgegee deur Lapa-uitgewers – word weeksaande net na die 21:00-nuusbulletin deur die akteur Waldemar Schultz voorgelees. Schultz is ‘n gedugte verhoog- en TV-akteur en onder andere bekend om sy rol as Jan-Hendrik in 7de Laan en die speurder in Die Byl.

Die storie
Dit is die jaar 1851 en die beeldskone Susanna Isabella Marais word aangekla van “sonde”. Sy word voor die Hof van Landdroste en Heemrade gedaag omdat die oudstes haar van veelmannery en bedrog beskuldig.

Die hof sit onder die wildeseringbome, waar die verrigtinge kort-kort onderbreek word deur die lawaai van bobbejane, voëls en vlakvarke.

Soos die hof meer en meer mense se getuienis aanhoor, word haar skuld getuie vir getuie duideliker. Hulle ken haar immers so, waarom almal se tyd mors?

Dominee Johannes word deur die weledele Sinodale Kommissie uit die Kolonie gestuur om dié “hoogs onwettige, onsedelike en onchristelike egverbintenis” te ondersoek.

Susanna word een vroegoggend hof toe gesleep, “soos wat ’n mens ’n uitgediende velsak agter jou aansleep”. Haar lang, donker rok is gekreukel, stowwerig en op die een skouer geskeur; nogtans, soos destyds met die kerkraadsvergadering, is “haar groot, geel-bruin oë, ryp soos twee mispels, geamuseerd eerder as bang, spottend, neerbuigend selfs”.

Ds. Johannes is op soek na die waarheid van die Bybelse liefde. Hoe meer verdoemend die getuienis teen haar raak, hoe meer begin hy wonder of die liefde wat hy verkondig, meer is as die liefde tussen God en mens?

Jeanette Ferreira beskryf Tussen die klippe as ‘n “lieflike verhaal. Dit ontroer en bly by.”

“Die verhaal gaan by uitstek oor die lagwekkende, sowel as die afgryslike van menslike swakheid deur alle eeue heen; oor liefde, geregtigheid en God en sy arme mense op aarde. Voeg daarby dat Du Plessis daarin slaag om spanning te skep, van die soort wat jou nie sommer toelaat omd ie boek neer te sit nie. Dit is ‘n four seasons-roman, vir almal.”

Die skrywer
Du Plessis is ‘n akademikus van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom waar hy professor in Afrikaans en skryfkuns was. Sy skryfwerk sluit in gedigte, dramas en verhale waarvan Die pad na Skuilhoek pas in Nederlands vertaal is. Hy ontvang ook die CBS-toekenning vir Christelike literatuur vir die digbundel Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar al meer as 60 000 eksemplare verkoop is.

Tussen die klippe word bestempel as een van sy heel bestes, “indien nie dié een nie”.

Luister van Maandag 3 Julie, elke weeksaand om 21:10, na Waldemar Schultz se voorlesing uit Tussen die klippe (Lapa) deur Hans du Plessis. Die regisseur is Ronél Geldenhuys.