Nuwe boekvoorlesing = Amraal


amraalWoensdag 26 Oktober begin ons nuwe boekvoorlesing – AMRAAL deur Marinda van Zyl.

Die storie
Die storie van Amraal en sy mense begin by die Hantam, strek deur Namakwaland, Pella en die suide van Namibië tot in Gobabis. Dit is ‘n oorrompelende historiese roman wat ‘n versweë geskiedenis oopskryf, ook die geskiedenis van Afrikaans.

Die verhaal is deur sekere resensente met ‘Fiela se kind’ vergelyk, terwyl die temas soos strewe na reg en geregtigheid daaraan ‘n tydlose kwaliteit gee.

Philip John het in sy Litnet-resensie die volgende geskryf:
“Amraal staan in ander opsigte ook nader aan Fiela se kind as aan die ander genoemde tekste deurdat dit geklassifiseer kan word as “goeie gewilde fiksie” sonder die eksistensialistiese onderbou van Rabie en De Klerk se werke. Lesers wat die werk van Irma Joubert geniet, sal waarskynlik ook veel genot uit Amraal put.”

Die leser is Johny Klein.

Amraal word elke weeksoggend om 10:45 op RSG uitgesaai.

DIE SKRYWER
marinda-van-zylMarinda van Zyl het meestersgrade in geskiedenis en biblioteekkunde behaal, en vir haar doktorsgraad navorsing gedoen oor swart verstedeliking. Na vyf jaar in die onderwys, word Marinda Senior Skoolbiblioteekbeampte by die Bloemfonteinse Onderwyserskollege waar sy verantwoordelik was vir die opleiding van onderwyserbibliotekarisse, die opbou van n modelskoolbiblioteek en boekkeuring vir die Provinsiale Bilblioteekdiens. Hierna doseer sy geskiedenis aan die Sebokeng-kampus van Vista Universiteit tot met haar aftrede. Haar novelle “Die reëndagbesluit” is in Bittersoet sewe (Tafelberg, 1991) opgeneem. Wilhelmina Radebe kom tuis was haar debuutroman. Marinda en haar man, Jan, woon op Langebaan aan die Weskus.

Kategorieë