Nuwe boekvoorlesing = Op ‘n dag, ‘n hond


Op ‘n dag, ‘n hond deur John Miles is onlangs met die UJ-prys vir kreatiewe skryfwerk bekroon en word van Donderdag 22 Junie op RSG voorgelees.

Dit word beskryf as ‘n aangrypende roman en word, soos altyd, gekenmerk deur Miles se aweregse humor. Die voorleser is die veteraanakteur Louis van Niekerk.

In ‘n klein tuinwoonstelletjie sit en luister ‘n oudonderwyser een stormagtige aand na ‘n vrou wat met heimwee sing van ‘n rivier in ‘n ander land, van die verlies van ‘n vaderland, en van ‘n koesterende wêreld. Min weet hy wat wag op hom die volgende dag… Dat die verlede ‘n manier het om jou spoor te volg, en jou te dwing terug na waar alles begin het.

Die boek is ‘n besinning oor die vervlietendheid van die menslike bestaan en weerspieël eindelik ‘n merkwaardige insig in die mens se lot.

Die digter Johan Myburg beskryf Miles as ‘n knap storieverteller en loof hom veral vir sy poëtiese ingesteldheid.
Louise Viljoen skryf in haar resensie van Op ‘n dag, ‘n hond dat dit ‘n lieflike, sinryke roman is wat die groot vraagstukke van die lewe met ‘n veerligte aanslag hanteer.

John Miles is ‘n digter, kortverhaalskrywer en romansier en was ook een van die stigterslede van Taurus-uitgewers. Hy het in 1992 die CNA-, M-Net- en die Helgaard Steyn-prys vir sy roman, Kroniek uit die doofpot, ontvang.

Op ‘n dag ‘n hond – John Miles se agtste roman – word van Donderdag 22 Junie om 10:45 as RSG se Oggend-boekvoorlesing met luisteraars gedeel.

Louis van Niekerk, wat die rol van Koning Lear vir RSG vertolk het asook verlede jaar in RSG Kunstefees se Woorde lok woorde te hoor was, is die voorleser.

Die regisseur is Kobus Burger.