Nuwe vervolgverhaal Heuningbos speel af in Knysna-gebied


Ons nuwe vervolgverhaal, Heuningbos deur Anton Treurnich, is nou weeksmiddae op die lug.

Heuningbos is die storie van drie ou vriende wie se paaie skielik weer met mekaar kruis. Die plek waar hulle groot geword het is van die mooiste in die land maar tog wou elkeen so vinnig as moontlik wegkom en nou het omstandighede hulle weer teruggebring. Dis ‘n storie van liefde vir die natuur, liefde vir die gemeenskap en liefde vir geld. Dit gaan oor ‘n dorp wat agtergebly het en probeer oorleef. Oor die rivier wat donker en koud verby hulle vloei en die berg wat oor hulle troon. Dis die wêreld van Heuningbos.

Skrywersnota
Anton Treurnich skryf:
Vandat ek die eerste keer Dalene Matthee se “Kringe in ‘n bos” gelees het, het die wêreld van die houtkapper my gefassineer. Maar hoe lyk daai wêreld vandag? Is daar van die houtkappers wat nog vasgevang is in hul omstandighede? Is van hulle nog bang om uit die bos te kom? Met Heuningbos probeer ek ‘n moderne blik op hul lewe gee. Om dit in die mooi omgewing van Knysna, Wildernes en George te plaas, was net ‘n voorreg.

In 2009 skryf ek my eerste vervolgverhaal vir RSG. “Nommers”, daarna volg “Die Eiland”, “Vloek van die rooigety”, “Ivoorpaleis”, “Die Duiwehok”, “Van Hings en die Suiderkruis” en “Nastergal”

Ek het ook al ‘n Paasdrama in 2010 vir RSG geskryf en in 2015 ‘n opdragdrama vir die RSG Kunstefees met die naam van “Ons het die gees”

Vir TV was ek deel van die skryfspan van Die Byl waarin ek vier episodes geskryf het en vir Kyknet en kie se “Ons stories” reeks het ek ook al ‘n teks geskryf.

Nota van die regisseur, Christelle Webb-Joubert
Nes Anton het die boek “Kringe in ‘n bos” my na ‘n wêreld geneem waarvan ek meer wou weet. Daarom is hierdie vervolgverhaal soos ‘n geskenk. Anton het my telkens verras met die wendings in die storie en ek het my ingeleef in die mense se wel en weë.

Wat ‘n vreugde om met akteurs te werk wat nie net goeie akteurs is nie , maar ook die medium verstaan. Bongi Thomas en Evert Snyman is natuurlik my linker- en regterhand en ons maak ‘n span wat soos ‘n ge-oliede masjien werk.

Geniet die storie en mag ons ‘n nuwe wêreld vir jou ontsluit.

Die akteurs

Francois van Rensburg speel die rol van Adriaan Barnard
Francois van Rensburg is ‘n omroeper, akteur, liedjieskrywer en sanger. Hy leef al die bogenoemde aspekte van die vermaaklikheidsbedryf uit en geniet elke medium ewe veel.

In 2007 en 2008 palm hy titels in vir Beste Akteur tydens die ATKV tienertoneelkompetisie. Op skool vat sy belangstelling verder vlam wanneer hy deeltyds dramaklasse neem by Brümilda van Rensburg. In sy matriekjaar bied hy reeds sy eerste musiekprogram op radio aan. Hy vertolk sedert 2009 tot op hede die rol van Vincent de Wahl in Leon van Nierop se baie suksesvolle jeugvervolgverhaal, Ratels op RSG (waarvan daar ook ‘n boek uitgegee is.)

Francois was vir 3 jaar (2013-2016)  ‘n radio aanbieder by 93.9 FM Oos-Rand Stereo, waarvan een van sy programme, Die Midday Show, in 2014 vir twee MTN Radio Toekennings genomineer word, naamlik vir Beste Nuus en Aktualiteit Program en Beste Middag Program.

Francois het ook ‘n passie vir sang en liedjieskryf. Sy eerste album “Dromerlaan” word in 2011 vrygestel deur Electromode Music. ‘n Verskeidenheid van sy liedjies soos Sand In Glas, Ou Liefde (saam met Johan C Venter), Met Die Maan Gepla, Volla en Druppel In Die See geniet gereeld radiolugtyd. Van sy liedjies was al op verskeie treffersparades en het selfs al op ‘n Top 40 kompilasie album verskyn. Die musiekvideos hiervan is ook gereeld op televisie te sien.

Hy vorm tussen 2011 en 2013 deel van ‘n hele rits musiekblyspele wat in Pretoria en in die Kaap speelvakke geniet. Dit sluit in Deon Opperman se Tree Aan!, Ons Vir Jou en Jesus die Musiekblyspel. In 2014 toer hy saam met Lefra produksies vir die baie gewilde My Boetie Se Sussie Se Ou en in 2015 vorm hy deel van nog ‘n Lefra klug naamlik My Boetie Se Boetie Se Baba, wat regoor die land toer.

Francois het al gesig gewys in Deon Opperman se dramareeks Bloedbroers en was te sien in die BET mini-reeks MADIBA. Gedurende 2015 en 2016 was hy ook kontinuïteitsaanbieder vir kykNET & kie, DSTV kanaal 145.

Sy stem was al gebruik in Heidi die animasiefilm en te hoor in verskeie radioteaterstukke vir RSG. Een van sy radiodramatekste SIBBE was in 2014 ingespan vir RSG en ook as verhoogteks gebruik. Hierdie jaar vertolk hy die rol van Adriaan in Heuningbos, ‘n middagvervolgverhaal met regie deur Christelle Webb-Joubert. Intussen is hy ook ‘n omroeper by Groot FM 90.5.

Anrich Herbst speel Rex Meyer
Anrich word die beste onthou vir sy rol as Wimpie van Tonder in Orkney Snork Nie. Ander TV hoogtepunte sluit in optredes in Egoli, Isidingo, Voete van Goud, Plek van die Vleisvreters, Hartland, en Die Boekklub. Tans is Anrich te siene in die sitkom Seepglad op Kyknet en hy begin eersdaags met verfilming aan Die Boekklub 2 asook ‘n fliek gebasseer op Annelie Botes se boek Raaiselkind.

Op die verhoog het Anrich heelwat kinderteater– asook ‘n paar musiekteaterrolle onder die belt, waaronder DIE MONNIK, PHILIP in Houtkruis, SAM CARMICHAEL in Mamma Mia!, en LUITENANT DU PLESSIS in Tree Aan.

Hy het ook ‘n CD vrygestel (in 1996) waarmee hy landswyd optredes gedoen het. Hy werk ook as stemkunstenaar in radioteaterproduksies, oorklankingsreekse en radio- en televisie advertensies, en was tot onlangs ook aanbieder by die Kaapsae radiostasie Kfm.

Anrich is getroud met Mia. Hulle het twee kinders en bly in die Melville area, Johannesburg waar hy ook werksaam is as eiendomsgent.

Christine Voorendyk speel die rol van Annabel Roets
Christine doen al van sesjarige ouderdom af stem- en radiowerk. Sy het in 1990, op sewejarige ouderdom, haar radiodrama-debuut gemaak in “Die Mannheim Sage” vir Radio Suid-Afrika. Sy is in 1991 genomineer vir ‘n Artes-toekenning vir oorklanking, vir haar rol in die animasiereeks, “Die Bietjies van Voetheuwelwoud”. Sy speel gereeld in radiodramas vir Maroela Media, RSG en SAFM, en is veral bekend vir die rol van Rozanne, wat sy vir bykans vier jaar in Leon van Nierop se jeugreeks, “Ratels” vertolk. Christine doen gereeld kommersiële stemwerk vir advertensies en korporatiewe projekte, alhoewel haar groot liefde by radio- en animasiewerk lê. Sy het al temaliedjies vir verskeie kinderprogramme gesing, en het die hoofrol vertolk in die Suid-Afrikaanse weergawe van die internasionale filmvrystelling, “Maya die By”, wat in 2015 vrygestel is. Sy was ook die stem van die tiener-meerkat in “Khumba” (2013), en die Sigeunermeisie in “Die Sneeukoningin” en “Die Sneeukoningin 2”. (2015/2016)

Simon Bruinders speel die rol van Solly Draghoender
Simon is bekend as Kieries uit Broer Matie, Mnr. Langley van 7De Laan,  en speel ook in Swartwater, Egoli, Ons stories. Hy is mede -aanbieder van die Boereorkes kompetisie en maak verskynings in Maak ‘n Las en Stoepstories. Simon vier 32 jaar as ‘n professionele akteur na sy baanbrekersrol in 1984 met die Jans Rautenbach film : Broer Matie.

Simon is in George in die Suidkaap gebore. Hy het later na Kinross naby Secunda verhuis. Hy was vir ‘n paar jaar in Kaapstad woonagtig, waarna hy in 2003 na Johannesburg verhuis het.

Simon was kontinuiteits aanbieder op on NNTV & SABC 3, asook anker aanbieder van verskeie televisieprogramme.

Hy speel in 20 televisiereekse soos : Molo Fish 1 en Molofish 2 – waar hy vir ‘n Avanté Toekenning genomineer is in 1996. Voorheen was daar Two Weeks in Paradise – 1984; Halfmanspunt (1985); Reccie – 1987; People like us – 1987, The Game 2 en Ballade vir ‘n Enkeling (1991); Ndzenzeni en Getting it Right (1993). Hy speel in Soutmansland,gevolg deur Zero Tolerance 2003, Jozi Streets 2004, Egoli 2005-2006 en Scandal 2007, Swart Water en 7De laan in 2014.

Simon het oor baie jare verhoogwerk gedoen. Daar was Die Koggelaar vir Sukovs in the 90’s.

Hy skryf en speel in die eenmanstuk Die Sideboard en die Vuur in 2001, Hy speel saam met sy seun Alvin Sonny & Ouste 2002. Hy skryf en voer CHIEF & CARMA op in teaters in Johannnesburg en Pretoria and Rustenburg in 2012.

Die Sideboard is sy aangrypende debuutroman oor mense in George, is 2014 deur Naledi Uitgewers uitgegee. Die boek het onlangs in Nederlands en Engels verskyn. Die storie was onlangs op RSG voorgelees en as ‘n musiekblyspel Die Sideboard Musical opgevoer.

Bronwyn van Graan speel Luann Michaels
Bronwyn Van Graan het haar opleiding by UK (UCT) gekry/gedoen. Haar teater ervaring sluit in LAND VAN SKEDELS, BETESDA, LOT, BABBEL, STOUTGATPASSIE, MAG/UNPLUGGED, DIE KEISER, SCORCHED,  om net ‘n paar te noem. Op RSG was sy in KROES, DIE WEMBLEY en DUIKERBAAI SE DINGE te hoor. Vanaf 2012 is sy deel van die Radio Vuka spelers, ‘n SAfm radio sepie en ook in ander radio verhale. Sy is ook ‘n “trustee” van ‘n “Charitable Trust”, INSIGHT STUDENT VOLUNTEERS.

Elma Potgieter speel Sally Barnard
Gradueer aan Tuks – hoofvakke Frans & Duits. Ook Afrikaans/Nederlands, Engels, Kunsgeskiedenis, Sielkunde.

Na 4 jaar as joernalis begin verhoogloopbaan in 1973 by Kruik. Vier eenvrouvertonings – Darling Blossom, Laetitia kom Terug, Vrou aan Flarde en Moervrug – in Moervrug vertolk sy ses persoonlikhede (drie vroue, drie mans). Word uitgenooi na eerste Aardklop-fees.

Televisieaanbieding – Wielie Walie; Feite en Flaters. Hoofrolle in wyedoekrolprente – Dr. Marius Hugo, Sonja, Eensame Vlug, ea. Vir Eensame Vlug word sy vir die ‘Rapport Oscar’ benoem vir die uitbeelding van die Jodin, Zelda. Werk deurlopend in oorklanking as speler, regisseur en vertaler uit Frans, Duits, Engels. Vertaal oa die Franse kunsfilm, Camille Claudel in Afrikaans.

Hoofrolle in TV-reekse: Sterretjie, Laksman, Losprys, Hoffman, Iemand om lief te hê en 7de Laan. Sedert 2002 verskyn sowat 40 kortverhale in Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose. In 2007 publiseer NB Boeke haar eerste roman, ‘n Tweede Begin. Onlangse TV-werk: Villa Rosa en jongste verhoogwerk – oorname by Marga van Rooy as Daphne in Daa’ Gaat die Bruid vir Lefra Produksies. Radio – verskeie dramas en reekse oor die jare en onlangs die musiekdokkies: Edith Piaf en Jacques Brel. Ook boekvoorlesings.

Liefdes in haar lewe: Schalk Jacobsz, akteur/regisseur/gebouontwerper (oorlede op 6 Junie 2016); dogter Christiane, skoonseun Wynand Barnard en kleinkinders, Tiaan, Elouise en Richardt.

Ilse Klink speel Margie Valentyn
Ilse Klink is ‘n geliefde en wel bekende Suid Afrikaanse akteur. Sy het die Avanti toekenning gewen vir haar rol in Isidingo as Vanessa Booysen. Klink het ook ‘n Naledi toekenning ingewerf vir haar uitmuntende spel in die musiekblyspel, Big Bang Blast. Verder was sy genomineer vir nog ‘n Naledi toekenning vir haar spel in The Amen Corner wat by die Mark teater gespeel het.

Ilse ontvang toe ‘n Fleur du Cap nominasie vir haar rol as Mamma Morton in die wêreld bekende, Chicago. Sy het baie ondervinding in musiekblyspele, onder andere Janice Honeyman se ShowboatMenopause the Musical en Rent. In 2010 was sy te sien in die glansryke Sisters in Song asook die hoogs amisante verhoogproduksie Mama Mia as die skreeusnaakse Rosie. Voor dit was sy Vicky in The Full Monty; en Jaci De Villiers en Tina in Does my bum Wobble? Ander teaterwerk sluit in Brer Rabbit en Stuur Groete.

Onlangs het Ilse hoofrolle gespeel in Roer Jou Voete (SABC 3) en Ons Stories (kykNET).  Sy was ook te sien in Telenovela Inkaba (Mzanzi Magic), die sepies Villa Rosa (kykNET) en 7de Laan (SABC 2).
Daarnenewens is Ilse ook ‘n seisoenale seremoniemeester en sy het die hoogste eer van die National Orders aangebied in 2004. Daardie jaar het sy ook saam met Zane Meas die jaareindfunksie van Clover aangebied. Sy het al by verskeie funksies en geleenthede opgetree en aangebied.

Richard van der Westhuizen speel Ulrich Meyer
Richard is ‘n bekende gesig op TV en Afrikaanse films. Vir amper 40 jaar speel hy verskeie hoofrolle op die verhoog, televisie, radio en in rolprente. Tussenin neem hy 9 musiekalbums op, waarvan twee goue status behaal.

Hy was onlangs te sien as Troffel Fouché in Vlug na Egipte en Terug na Egipte op KYKnet, en as Neels Vlok in die Sepie Villa Rosa. In 2014 het hy een van die hoofrolle vertolk in die musiekspel, Reik na die Sterre in die Staatsteater in Pretoria. Hy word ook onthou as Andries Melck in Andries Plak, Emma se pa in 7de Laan, Karel Mannheim in Die Mannheim Sage en vele ander.

In 1986 skryf en sing hy die temalied vir die gewilde televisiereeks Ballade vir ‘n Enkeling, en kort daarna volg hy dit op met Tussen Treine, wat ‘n groot treffer word. Beide liedjies is nog steeds uiters gewild, en word gereeld deur verskeie kunstenaars gesing. Sy musiek is weer gebruik in die rolprentweergawe van Ballade vir ‘n Enkeling wat in Maart 2015 vrygestel is, met ‘n nuwe weergawe van sy titellied deur Die Heuwels Fantasties. Van sy ander bekende liedjies is Isabella, Twee sagte hande, Wintersprokie, Cowboy kitaar en Dorsland. Meer onlangse albums is Songs uit my Binnesak (2005), Swerwerspoor (2011), en Tydloos (2012) saam met Gerhard Steyn. In Maart 2015 word ‘n album, Ballade vir ‘n Enkeling en die jare daarna uitgereik, en in Julie 2016 volg Yster en Vuur.

In 2008 word Richard genomineer vir ‘n SAFTA-toekenning as beste akteur vir sy werk in Andries Plak, en ‘n ATKV-veertjie toekenning vir sy rol in Riemvasmaak.

Donovan Pietersen speel Jonathan Randal
Donovan Pietersen oorspronklik afkomstig van Worcester (Die Boland) werk die afgelope agt jaar hoofsaaklik in Johannesburg as vryskut akteur, sanger, danser en voice over kunstenaar.

Hy het drama studeer aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) waar hy spesialiseer het in Fisiese sowel as Opvoedkundige Teater. Donovan het al in verkseie radio drama’s gespeel onder andere Bekkies Gevind, Doolhof, Tussen Die Bokse, Roosvalei, Nagrit Na Keetmanshoop, Wat Sal Die Mense Se en Die Tikmasjien. Sy TV krediete sluit in Ons Stories ( Delilah, Spanner & Spaghetti, Bely en Laat Staan, More As Ons Groot Is en Begrawe My) kykNET & kie, Skeem Saam (SABC 1) en Lag Mense (film).

In 2015 word hy genomineer vir ‘n ATKV Media Veertjie ( Beste Akteur in ‘n Kortfilm). Donovan is tans besig met die opname van die vervolgverhaal Heuningbos onder spelleiding deur Christelle Webb-Joubert.

Johny Klein speel Pastoor Raymond Ross
Johny Klein is op Upington gebore en het groot geword op Groblershoop,  ‘n dorpie net buite Upington. Hy het drama by die ou Technikon Pretoria tans TUT (TSWANE UNIVERSITY OF TECHNOLOGY) studeer. Hy word 38 in Augustus vanjaar (2017).

Johny se radio loopbaan het in 2003,  ‘n jaar na sy studies afgeskop met die vervolgverhaal, Blinkwater, deur Helena Hugo. Daarna was hy in talle ander RSG dramas en vervolgverhale,  wat deur Evert en Mari Snyman  geskryf en opgevoer was, gehoor. Hy vryskut nou meer as 15 jaar en het ook ander werk vir RSG gedoen onder spelleiding van onder andere Bettie Kemp, Leon van Nierop en Renske Jacobs. Hy het ook verlede jaar (2016) met boekvoorlesing vir RSG begin. Die boek, Amraal, deur Marinda Van Zyl is in Johannesburg opgeneem onder spelleiding van Kobus Burger. Op die oomblik is hy besig met ‘n nuwe vervolgverhaal, Heuningbos, wat deur Christelle Webb-Joubert opgeneem word.

Ander radio werk sluit in werk vir Gemeenskap Radio Stasies, Radio advertensies, Oorklanking en Karakter stemwerk vir TV. programme en Animasie flieks soos Lappies Leeu, Jakkals Jol en Maya die By. Hy leer tans om nuus te lees en sal dit ook graag eendag wil af kliek,  as een van sy drome wat waar geword het.

Stefan Vermaak speel Klein Diaan Spiere
Stefan het sy akteursloopbaan op die ouderdom van 14 begin met die rol van Benjamin Komoetie in die verhoogstuk Fiela se kind onder leiding van Sandra Prinsloo. Sy eerste televisie verksyning was in 2011 toe hy in Deon Opperman se “Hartland” te siene was. Hy het veral bekendheid verwerf met sy karakter Wouter Viljoen in Villa Rosa waar hy ongeveer drie jaar betrokke was. Sedert Villa Rosa se deure gesluit het, was Stefan se siene in die film “SomerSon” en High Rollers. Hy het onlangs weer sy voete op die verhoog gevind in ‘n teaterproduksie onder leiding van Andre Stolz. Stefan se stem word gereel gehoor in radio advertensies en was ook deel van Leon van Nieop se “Ratels” in 2013 en 2014. In Mei kan Stefan weer gesien word in die kykNET sepie Binnelanders waar hy die rol van Eric Sadie sal vertolk.

Fatima Abdool speel Victoria Julies
Ma van twee, Carl – 26 en Tremane 19. Gemeenskaps werk en Jeug Ontwikkeling is my eerste passie. Ek skryf self en ek hou my lyf gereeld regiseur en vervaardiger.

Mandi du Plooy speel Anel Welgaardt
Mandi du Plooy Baard is al van jong dogtertjie dae af in die vermaaklikheidsbedryf betrokke met stemwerk & TV reekse. Na skool het sy haar graad Waarde en Beleidstudie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf waarna sy vir 6 jaar lank by die Egoli-span aangesluit het as die karkater Lara. Daarna het sy weer haar merk in die korporatiewe wêreld gemaak en tussendeur was sy te sien in Binnelanders, 7de Laan, Kwêla, JAM, Sink & Revue 2016. Vandag is Mandi voltyds vryskut aktrise, radio omroeper by Groot FM, stemkunstenaar, asook ‘n konsultant vir Baby Love sleep & Routine training. Mandi is ook vrou vir haar man & mamma vir hulle 2 kinders wat sportmal is en elke dag ten volle benut & uitleef!!