Opvolg van ‘Lanternswaaier’ is nuwe boekvoorlesing saans


Susanne Beyers

Op Donderdag 21 Junie begin RSG se nuwe aand-boekvoorlesing.

Die aktrise en voorleser Susanne Beyers lees dan SD Fourie se Die dooies leef (Naledi), elke weeksaand om 19:20, voor.

Die dooies leef is die opvolg van Fourie se gewilde Die lanternswaaier wat ook op RSG voorgelees is.

Leti Kleyn het as volg oor die roman geskryf: “Die leser word so gemaklik in Die dooies leef ingetrek, dat jy nie eers sien die bladsye raak minder en die einde kom nader nie.”

Die skrywer Alta Cloete skryf dat die boek “werk met die begrip dat mense voortleef deur hul nageslag; dat ons nie werklik enkelinge is nie, al voel ons ook so.” Sy voeg by: “Die verhale van die verskillende geslagte word ingeweef in die wêreldgebeure van elkeen se tyd (veral die twee wêreldoorloë) en laat mens met die gevoel dat jy deel is van ‘n groter geheel. Die diepgesetelde behoefte aan liefde en aanvaarding en om te behoort, loop deur Sophie, Maryna en Hanna se verhale.”

Die aktrise en voorleser Susanne Beyers is onder andere bekend om haar rolle in TV-reekse soos Arende, Erfsondes en Onder draai die duiwel rond. Op die verhoog was sy in stukke soos Moeders en dogters asook Ou blare te sien.

Die dooies leef (Naledi) deur SD Fourie word van Donderdag 21 Junie elke weeksaand om 19:20 deur Susanne Beyers op RSG voorgelees.

Die storie

Hanna Bagiano – Sophie Lourens se agterkleinkind – skryf haar proefskrif oor die genealogie van die Lourensfamilie. Iets maak nie sin nie: Waarom sê Hanna se ouma, Maryna Lourens, dat Hanna nie ʼn Lourens is nie. En waarom het Maryna haar as kleinkind ontken en verwerp?

Toe Hanna dagboeke van haar ouma, Maryna, en oumagrootjie, Sophie, begin lees … kom spook die verlede by haar: ou geraamtes klim uit die kas uit en Hanna kom te staan voor die Lourensvloek wat van nageslag tot nageslag oorgedra word.

Die skrywer

SD Fourie is ‘n boorling van die Strandveld, die streek wat strek vanaf die mond van die Kleinrivier tot by die mond van die Breederivier. Sy is ‘n toergids en besit saam met haar man die Strandveld-museum op Franskraal.

SD is ‘n gedugte radiodramaturg met haar onlangse radiodrama, Lotsbestemming, wat in 2017 op RSG gehoor is. Dit was een van die finaliste in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie. Sy het die kompetisie in 2008 gewen met die radiodrama Droomskip, wat ook gepubliseer is. Later volg ook dramas soos Helderfontein en John Birkenhead, wat ‘n derde prys in RSG se radiodrama-kompetisie verower het.

Sy woon by die see en daarom is haar stories vol wind, mis en seesproei. Haar debuutroman, Die lanternswaaier, is deur Rika Sennett op RSG voorgelees en is ook in Nederlands vertaal.