Mina Afrika se storie is ook myne


Die skrywer Zuretha Roos se roman Die Verdwyning  van Mina Afrika is al lankal uit druk uit, en was vir lank glad nie meer beskikbaar nie. In 2015  stof RSG se Uitvoerende Regisseur : Drama, Kobus Burger, die boek af en laat dit verwerk in ‘n middagvervolgverhaal. Dit word toe ‘n middagdramareeks, verwerk deur Eben Cruywagen en met Margot Luyt as die regisseur. Ongekende reaksie stroom in, die luisteraars sit vasgenael, hulle voel vir Mina en hulle mis nie een episode nie. Sommige pleit dat dit verfilm word en dat hulle graag weer van Mina wil hoor.

Simoné  Benjamin, die aktrise wat die rol van Mina vertolk, word skielik ‘n huishoudelik naam en haar onmiskenbare stem skets daagliks vir luisteraars die wel en wee van Mina.

Kobus laat die opvolgboek Die Tuiskoms van Mina Afrika ook verwerk in ‘n dramareeks en dit is vroeër vanjaar uitgesaai. Weereens is daar uitstekende reaksie. Maar een van die e-posse wat ons hieroor kry, staan uit… dié van Andre Wagner van die Wes-Kaap. Hy het toevallig een middag op sy motorradio tydens die uitsending van Die Tuiskoms van Mina Afrika daarop afgekom op pad terug van die lughawe en aanhou luister. By die huis het hy al die vorige potgooie gaan aflaai en van die eerste reeks af deurgeluister, want, sê hy in sy e-pos aan ons, dis asof dit sy storie is wat vertel word. RSG het vir André opgespoor en ateljee toe genooi. Hy was toe een oggend by Martelize Brink in die Kaap in die ateljee……luister hier na die onderhoud en hoekom dit so besonders is.

André Wagner by Frieda van den Heever, Martelize Brink en Eben Cruywagen.