Sappige Sandveldstories vervang ‘Spertyd’ met skaterlag-voorlesings


Johny Klein

Stories so “sappig soos die Sandveld se vygies, droog soos die halfwoestyn”. Luisteraars kan solank regskuif vir die akteur en voorleser Johny Klein se nuwe reeks voorlesings van die gewilde kontreistories uit die pen van wyle Ferdinand Deist.

Klein en die outentieke Deist-karakters het reeds diep in luisteraars se harte gekruip met die voorlesings uit Bom Appeltiet op Eselspoort asook Die pomporrel-kônsert.

Van Donderdag 11 Oktober – elke weeksoggend om 10:45 – sal Klein uit Deist se bundel, Pofadder en Peddelford (1987), voorlees. Hierdie boek met Sandveldvertellings was eintlik Deist se letterkundige debuut. Op daardie stadium was hy alombekend vir sy teologiese en godsdienstige boeke, maar in Pofadder en Peddelford preek hy nie. “Hy help jou lag, al is dit soms met ‘n pyn in die sy. En al probeer jy net jou mond trek soos sy karakters praat, sal dit al lyk of jy glimlag.”

Ferdinand Deist se karakters is “groots soos hul omgewing, of klein en dwaas soos mense ook maar is”.

Maar hul grondige eerlikheid slaan altyd deur. Dit dwing die luisteraar om self eerlik te wees en ook maar vir homself te lag as hy die kop skud en die maag vashou oor onnernemer Skewies wie se fountjie in die oor hom deur sy begraffenisse help; Jopie wat met die dominee oorhoops raak en dié Gesalfde so al biddende voor Gij Hjera bykom; Slimkoos se bekommernis dat die Apollo-vuurpyl die maan gaan misskiet; die kannidaat wat sommer ‘n gjelling water drink toe hulle hom so peper oor die spoedbordjie; of Lakkie en Floors wat die waarheid van die spreekwoord terdeë sou toets: “Laf ies laaik ‘n ould Fort kaar: eesie toe staart bat haart toe stop”.

Hier is ‘n klankgreep uit die Pofadder en Peddelford voorlesings:

Pofadder en Peddelford volg op die voorlesing van Elsa Joubert se Spertyd, wat die afgelope ruk met twee letterkundige pryse bekroon is. Vanweë die kopiereg mag RSG nie boekvoorlesings op potgooi plaas nie. Dus sal luisteraars betyds ‘n knoop moet maak om nie hierdie komiese juwele mis te loop nie.

Die oggend-boekvoorlesing word wel weekliks in Deurnag – elke Saterdagoggend tussen 03:00 en 04:00 – herhaal. Dié omnibus bestaan uit al vyf die week se episodes.

Pofadder en Peddelford (wat uit druk is) word met die vriendelike vergunning van J.L. van Schaik-uitgewers aangebied. Die regisseur is Kobus Burger.

Die dorp Pofadder is naby

Die wêreld naby Pofadder in die Noord-Kaap kan mooi lyk met blomme ná die reën.

Wie is Johny Klein?


Johny Klein het al in graad 1 sy eerste gediggie in Laerskool Groblershoop voorgedra. Hy sê hy kan dit vandag nog woord vir woord onthou. Groblershoop is tussen Upington en Prieska en dis hier in die Noord-Kaap waar Johny grootgeword het en van kleins af geweet het hy wil akteur word. Hy het aan die Hoërskool Groblershoop gematrikuleer en toe vir drie jaar lank drama an die TUT oftewel Tshwane-universiteit van Tegnologie in Pretoria gestudeer.

Sy eerste TV-rol was in Villa Rosa, hoewel hy vir meer as ‘n dekade landwyd by hoër- en laerskole in opvoedkundige teater te sien was. Hy het diep in RSG-luisteraars se harte gekruip met sy prag-voorlesing van Marinda van Zyl se Amraal. Meer onlangs was hy in RSG se middag-vervolgverhaal Bure, uit die pen van Mari Snyman,

As verhoogkunstenaar was hy te sien in die Boerneef-huldiging Flennie die Snare, My man se skelmpie se skelmpie se vrou en Fiela se kind waarin hy onder andere Selling Komoetie was.

Johny sê hy is gek oor die Ferdinand Deist-stories en uit die jongste voorlesings (Pofadder en Peddelford) kan hy regtig nie ‘n gunsteling kies nie. “Elke keer as ek ‘n storie lees, dink ek hierdie een is my gunsteling.”