Nuwe boekvoorlesing is ‘Skoenlapper’-roman


Die skrywer, joernalis, digter en radio-omroeper Valda Jansen (foto links) se debuutroman, Hy kom met die skoenlappers, is pas met die Jan Rabie-Rapportprys bekroon. Hierdie uitmuntende boek word nou van Donderdag 12 Oktober op RSG voorgelees. Dit sal die nuwe aand-boekvoorlesing wees in die plek van Hans du Plessis se Tussen die klippe. Die aktrise en sangeres Zenobia Kloppers (foto heel onder) is die voorleser.

Petra Müller het Hy kom met die skoenlappers: ‘n Elegie aan verlore liefde (uitgegee deur Human & Rousseau) as volg geloof: “Dié roman is ‘n bewys daarvan dat ‘n mens nooit weet wat in ‘n letterkunde kan opduik nie. Soos ‘n loerie voor jou oë verby – die ene glans en groenigheid.”

Die beoordelaars van die Jan Rabie-Rapportprys het in die commendatio die volgende gesê: “Jansen se subtiele liefdesverhaal gryp terug na Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, maar gee ‘n vars inkleding danksy die tematiese bewussyn van die politieke geskiedenis wat alles onderlê, en die vorms van die liefde wat die verloopte Suid-Afrikaner vandag dwing om die verskeie aangesigte van daardie liefde te aanvaar, asook die berou wat daarmee saamgaan.

“Wanneer die ek-verteller probeer sin maak van die redes waarom haar Oos-Duitse beminde, Anders, se liefde nooit heeltemal beantwoord het nie, dwaal sy terug deur haar dae as uitruilstudent in Jena, ‘n ongelukkige huwelik in Johannesburg en ambivalente ervarings van moederskap tot in haar kinderjare in die Strand. Só word Hy kom met die skoenlappers ‘n pynlik intieme en deurtastende verkenning van al die maniere waarop ‘n hele lewe soos een byna noodwendig verspeelde kans kan voorkom.”

Volgens die beoordelaars is dit ‘n roman “wat lees soos ‘n memoir oor die gisters wat nooit heeltemal verby kan wees nie”.
“Wyle Jan Rabie sou sekerlik baie bly gewees het om te hoor ‘n prys wat sy naam dra, is aan hierdie uitsonderlike debuut van Valda Jansen toegeken.”

Hy kom met die skoenlappers word van Donderdag 12 Oktober elke weeksaand net na die 21:00-nuus op RSG uitgesaai.

Die regisseur is Ronél Geldenhuys.