‘Spertyd’ nou op lug voorgelees


Boek wat ‘Afrikaans laat sing en dans’ op RSG voorgelees

“Selde is daar al so eerlik, met ‘n totale afwesigheid van sentimentaliteit, geskryf oor die oudwordproses. Alles geteken in ryke detail en met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers.”

Só lui die flapteks van Elsa Joubert se Spertyd, wat verlede jaar in haar 95ste lewensjaar deur Tafelberg-uitgewers gepubliseer is.

Van Maandag 18 Junie lees die aktrise Rika Sennett hierdie besonderse werk op RSG voor. Dit sal weeksoggende om 10:45 as die oggend-boekvoorlesing gehoor word.

Rika Sennnett

Luister hier na ‘n kort klankgreep uit die voorlesing:

SPERTYD klankgreep

Die skrywer Marita van der Vyver skryf onlangs die volgende oor haar ervaring van Spertyd: “My oorheersende gevoel nadat ek die laaste bladsy gelees het, is ‘n soort asemlose bewondering vir hoe Elsa Joubert Afrikaans kan laat sing en dans. Die manier waarop hierdie vrou van ver oor die negentig met die taal van haar hart toor, is ‘n les vir jong skrywers. Ek is toententaal verower. Verpligte leesstof vir enigeen wat nog iets vir Afrikaans voel…”

Elsa Joubert

Elsa Joubert is veral bekend om haar roman, Die swerfjare van Poppie Nongena, wat in dertien tale vertaal is. Dit is ook as ‘n verhoogstuk verwerk.

Sy was met die joernalis, uitgewer en skrywer Klaas Steytler getroud. Hy is in 1998 oorlede.

Joubert het twee ander biografiese werke gepubliseer: ‘n Wonderlike geweld en Reisiger wat onderskeidelik in 2005 en 2009 uitgegee is.

Chris van der Merwe het op Litnet sy resensie van Spertyd as volg afgesluit: “Spertyd is ‘n wonderlike boek, ryk aan insigte en met ‘n verskeidenheid van emosies. Dis ‘n boek wat ontstel maar ook inspireer; wat die leser ontroer en laat glimlag; wat die skok van die mens se verganklikheid balanseer met die troos van dinge wat standhoudend is.”

Rika Sennett was onlangs in die verhoog-musiekspel The Sound of Music te sien. Sy het onder andere vir RSG die roman Die Lanternswaaier deur SD Fourie op RSG voorgelees.