‘Beproewing’: die storie tot dusver


RSG se middagvervolgverhaal is goed op dreef. BEPROEWING volg op die uiters gewilde AFSLUITING wat in 2017 op RSG gedebuteer het.

BEPROEWING is die verhaal (60 EPISODES) van ‘n paar mense wat met vars traumatiese ervarings agter die blad, net wil glo hulle het die nodige afsluiting van hulle ellende gekry, wanneer ‘n klomp ongevraagde beproewings opeens hulle verskyning maak.

BEPROEWING word vanaf Dinsdag, 21 Aug elke weeksmiddag om 14:45 op RSG uitgesaai.

In die video hieronder, gee Renske Jacobs, die regisseur, vir jou ‘n kykie agter die skerms.

Karakters en rolverdeling

SEEF VISAGIE – Francois Stemmet: Plaasboer van Koster. Verkoop Goedbegin. Kanker dwing hom Pretoria toe. Dokter Dawie Becker was sy onkoloog. Sy vrou Susara was ‘n skilderes en is deur Eric, seun van Martha Sithole, vermoor. Was sy vrou moontlik by vervalsing van skilderye betrokke?

Morkel Nienaber (Lochner de Kock)

MORKEL NIENABER – Lochner de Kock: Seef Visagie se skelm skoonseun. Kinders by Maxien Koster en Amelia Rossouw. Word daarvan beskuldig dat hy Sophia van Tonder die veld instamp. Sy sterf. Dit laat Morkel na Zambië vlug. Ontmoet ryk Camilla Thompson in Zambie. Boer vir haar. Raak verloof aan haar. Terug in Suid-Afrika om hulle hier te kom vestig. Camilla op ses weke toer van die land. Morkel sê hy het nuwe blaadjie omgeslaan, maar hy lei die ex-dwelmslaaf Amelia Rossouw snr in die versoeking met drank.

Sweetness Botes (Heidi Mollentze)

SWEETNESS/SHELLY BOTES – Heidi Mollentze: Getroud met Dawie Becker. Dawie skop haar tot op die straat. Raak betrokkie by volwasse vermaak om die pot aan die kook te hou. Ontmoet Seef. Word Grace Fortuin se vennoot.

Cindy Nel (Lelia Etsebeth)

CINDY NEL – Lelia Etsebeth: Dogter van Wicus en Dr Cintaine Nel, ‘n onkoloog in die praktyk van dokters Becker, Liebenberg en Nel. Haar ma sterf tragies nadat haar ma Dr. Becker se tweede vrou geword het. Sy glo haar stiefpa Dawie het haar ma van die berg afgestamp. Groot stryd met Dr. Dawie Becker omdat hy haar ma se erfenis mors. Sagte plek vir Conrad.

Conrad Nienaber (Casper Lourens)

CONRAD NIENABER – Casper Lourens: Seun van Morkel. Sy pa het hom besteel. Mal oor Cindy. Al die jare gedog Elizma Visagie is sy ma. Maxien Koster is egter sy biologiese ma.

Martha Sithole (Doctor Khasu-Nkatlo)

MARTHA SITHOLE – Doctor Khasu-Nkatlo: Regterhand van Seef Visagie. Word weggejaag van Goedbegin, want haar seun Eric, het Seef se vrou, Susara vermoor.. Sy word ‘n vennoot in Grace en Sweetness se gastehuis-bedryf. Sy wil nie by ds. Paul van der Walt op Koster bly nie. Sy begin haar lyf speurder te hou, want sy vertrou nie vir Grace nie.

Dr Dawie Becker (Rouel Beukes)

Dr DAWIE BECKER – Rouel Beukes: Onkoloog. Eers met Sweetness getroud. Skei haar en trou met sy vennoot, dr Cintaine Nel. Cintaine sterf toe sy van berghang val. Moord of ongeluk? Cindy Nel is sy stiefdogter. Misbruik Cintaine se geld. Leef in groot konflik met Cindy.

Grace Fortuin (Eloise Cupido)

GRACE FORTUIN – Eloise Cupido: Haar ma is Margaret. Haar pa, Mnr. Fortuin, sterf in Botswana. Haar ma trou weer – met Frederik Koster. Haar halfsuster Maxien Koster word uit die huwelik gebore. Grace is verkrag toe sy 17 jaar oud is. Klein Paul word gebore. Hy pleeg selfmoord toe hy 12 is. Maar nou blyk dit hy was een van twee seuns. Die ander seun is Bevan Jantjies, getroud met Sheila. Ná Wicus se skietdood – met Cintaine Nel se handwapen – wys sy die vinger na Bevan en Sheila. Bevan was saam met Wicus Nel in die tronk. Grace is nou besig om ‘n swembad by een van haar gastehuise, wat sy by ‘n Duitse lover geërf het, te bou. Ds. Van der Walt help haar met die bou van die swembad.

Amelia Rossouw (Carmin Coetzer)

AMELIA ROSSOUW SNR – Carmin Coetser: Dogter van Helena en oorlede Henk Rossouw. Dwelmverslaafde, maar nou skoon. Ma van klein Amelia wat aan spinale spieratrofie ly. Morkel is die pa. Help in Huis vir kinders met gestremdhede in Pretoria.

Wicus Nel (Dirk Stolz)

WICUS NEL – Dirk Stolz: Cindy Nel se biologiese pa. Lol met laerskoolseuns toe Cindy gebore is. Cindy ken hom nie. Maar hy is skielik op parool vrygelaat. Hy is pas met wyle dr. Cintaine Nel se handwapen doodgeskiet, deur ‘n vroulike aanvaller. Dr. Becker reël sy begrafnis, hoofsaaklik om in Cindy se goeie boekies te kom.

Ds Van der Walt (Frans Swart)

DS VAN DER WALT – Frans Swart: Betrokke by die twee halfsusters, Maxien Koster en Grace Fortuin. Hoekom? Ken Margaret Koster, Grace se ma, baie goed. Hoekom? Dit lyk of die dominee dalk geraamtes in die kas het. Is Grace se oorlede seun, Paul, dalk na ‘n ds. Paul van der Walt vernoem? Wat is dié verbintenis?

PJ Stofberg (Jakkie Groenewald)

PJ STOFBERG – Jakkie Groenewald: Seef Visagie se PI. Hy is nou deur Dr. Becker versoek om speurwerk vir hom te doen.

Die verbintenisse grafies voorgestel

Om te verstaan hoe die karakters by die storie inpas en wat hulle verhoudings met mekaar behels, het ons ‘n stamboom geskep. Soos die storie ontvou sal daar nog strepies en stippellyne bygevoeg word, maar tans is dit hoe die prentjie lyk:

Die storie tot dusver

 Die skrywer, Joe Kleinhans, is ‘n meester wanneer dit by die skep van storielyne kom. Sy stories is altyd tot barstens vol intriges, kinkels en kabels. Hier is wat tot dusver in die storie gebeur het:

Dis nie hoe jy val nie, maar hoe jy opstaan wat belangrik is. So glo dokter Dawie Becker. Hy en Morkel Nienaber is soos kurkpoppe in die water – niks hou hulle onder nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag besluit daar is te min wesenlike getuienis om dokter Dawie te vervolg en dat sy vrou Cintaine Nel, se dood, met die getuienis op die tafel, eerder ‘n ongeluk was. Dawie kondig ‘n nuwe televisiereeks aan getiteld Hoop vir ‘n kind! Hope for a child! Die reeks fokus op die werk- en persoonlike lewens van die dokters, maatskaplike werkers en verpleegkundiges in ‘n pediatriese departement. Die reeks draai om die versorging van siek kinders met chroniese of terminale siektes. En daarmee betrek hy sy stiefdogter Cindy Nel, by die projek omdat hy weet dit lê haar na aan die hart.

Morkel Nienaber raak verloof aan die rykste boer in Zambië en kom aan die sy van die veel ouer, Camilla Thompson, terug in Suid-Afrika aan. Aanvanklik glo almal Morkel het ‘n gedaanteverwisseling gehad en dat die verlowing hom net goed gedoen het. Maar Morkel het iets oor skilderye te wete gekom wat hom jaag en hierdie keer is dit nie sy oorlede vrou Elizma se skilderye nie, maar sy oorlede skoonma Susara Visagie se skilderye.

Dawie Becker lieg Wicus Nel (Cindy Nel se biologiese pa) uit op parool in die hoop dat hy Cindy so op ‘n knop sal jaag, dat sy reguit na hom, Dawie, vir hulp en beskerming sal kom. Maar Wicus op vrye voet skep nie net probleme vir Cindy nie. Daar is sy geskiedenis met Grace Fortuin van die gastehuis waarvan net Wicus, Grace en Sweetness kennis dra. Wicus se verskyning maak ‘n ou seer rou in Grace, en breek haar haat oop vir die man wat haar haar seun ontneem het. Wicus word geskiet voordat hy ‘n groot probleem word.

Die kanker versprei en Seef Visagie moet vir chemobehandeling gaan. Sy verhuising van die plaas na die stad en dié kankerterugslag dreig om hom te ontspoor. Sake ruk handuit as hy begin agterkom dat sy lieflingsvrou Susara, al die jare moontlik by die vervalsing van kunstenaars se skilderye betrokke kon gewees het. Hy is genoodsaak om sy betroubare privaat speurder, PJ Stofberg, aan boord te bring om hom met die ondersoek te help voordat die polisie op hom daaroor toesak.

Martha Sithole kom terug van haar kuier by Dominee van der Walt en dis asof iets haar jaag. Die dominee se dogter het baie soos Conrad Nienaber se biologiese ma, Maxien, gelyk. Eers is die dogter in ‘n motorongeluk dood en toe sterf sy vrou. Maar dit lyk asof daar is ‘n geraamte of twee in die dominee se kas is, wat dreig om uit te kom en nog ‘n storm te veroorsaak. Martha is deurmekaar veral omdat dominees gewoonlik leiding in haar lewe gee.

Die skilderye

In AFSLUITING maak Elizma Visagie se skilderye opslae. Elizma is Seef se dogter, dus Conrad se ma. Hoewel sy getroud was met Morkel Nienaber het sy in haar nooiesnaam geskilder. Sy pleeg selfmoord toe Conrad drie jaar oud is.

Wanneer Conrad twintig jaar oud is besluit hy om in die geheim van sy ma se skilderye uit oupa Seef se pakkamer te vat en dit na ‘n kunsgallery in Pretoria te neem. Enersyds wil hy die mark daarmee toets, maar hy smag ook daarna om sy ma se nalentenskap meer sigbaar te maak.

Dis veral die een skildery, Die Dame van die Nag, wat opslae maak. Dit blyk aan die einde van AFSLUITING dat Elizma nie Conrad se biologiese ma was nie, maar wel Maxien Koster. En die Dame van die Nag is ‘n skildery wat Elizma van Maxien geverf het.

In BEPROEWING is Elizma se ma, Susara Visagie se skilderye sterk in die nuus. Veral wanneer twee gesogte Francois van Dyk-skilderye hulle weg uit Zambie na Pretoria vind om verkoop te word. Susara is Seef se vrou, wat ‘n paar jaar gelede op straat vermoor is, en haar skilderye sorg vir verwarring en talle raaisels. Uiteindelik is Susara se skilderye een groot beproewing vir Seef wat hom byna sy geloof in die mensdom kos.

Die Kindersorgsentrum

 Cindy Nel het ‘n sagte plek vir kinders met gestremdhede. Na haar Ma, Cintaine tragiese dood, loods sy ‘n Cintaine fondsinsamelingsveldtog vir sulke kinders. Toe sy eers Amelia Rossouw se dogtertjie, klein Amelia, ontmoet en sien hoe sy worstel met spinale spieratrofie met asemhalingsnood, word dié dogtertjie haar vlagskipprojek. En wanneer Seef Visagie besef maar klein Amelia is sy kleindogter, koop hy ‘n huis in Pretoria wat ingerig word as ‘n kindersorgsentrum vir kinders met gestremdhede. Die sentrum maak dan ook voorsiening vir Amelia Rossouw en Mollie Muller om in te woon. Een van die drie versorgers slaap ook beurtgewys saans in om die kinders te help versorg.

Vir meer inligting oor Beproewing: klik hier.

Foto’s tydens opnames in die ateljee

Lelia Etsebeth (Cindy) Casper Lourens (Conrad) Carmin Coetzer (Amelia) Lochner de Kock (Morkel) Heidi Mollentze (Sweetness) Eloise Cupido (Grace) Francois Stemmet (Seef) Rouel Beukes (Dawie)

Eloise Cupido is Grace Fortuin

Lelia Etsebeth (Cindy) Heidi Mollentze (Sweetness) Doctor Khasu-Nkatlo (Martha)

Lochner de Kock (Morkel) Carmin Coetzer (Amelia)

Heidi Mollentze (Sweetness)

Lelia Etsebeth (Cindy) Casper Lourens (Conrad)

Heidi Molletze (Sweetness) Dirk Stolz (Wicus)

Casper Lourens (Conrad) Rouel Beukes (Dawie)

Dirk Stolz (Wicus) Francois Stemmet (Seef) Rouel Beukes (Dawie)

BEPROEWING word vanaf Dinsdag, 21 Aug elke weeksmiddag om 14:45 op RSG uitgesaai.

Dit is as potgooi beskikbaar op www.rsg.co.za

Die herhaling (omnibus) is Maandagmore tussen 03:00 en 04:00

Volg ons op Twitter @rsgjacobs @zarsg

Hou dop: #beproewing #soapie #radio #drama