Nuwe middag-vervolgverhaal ‘Afsluiting’ begin vandag


Ons nuwe middagvervolgverhaal, Afsluiting deur Joe Kleinhans, begin op 29 September. Die storie handel oor die ervarings van ‘n gemeenskap in hul soeke na afsluiting oor die pyn van gister.

Joe Kleinhans (foto links) wen in 2007 die RSG/Sanlam Radiodramakompetisie met die radiodrama ‘n Oordeelsfout. In 2011 behaal hy die derde prys in dieselfde kompetisie met sy drama Die Aanval. In 2016 is sy inskrywing, Straatfamilie, onder die finaliste. In gesprek met RSG se dramahoof, Kobus Burger word besluit dat Straatfamilie in ‘n radiovervolgverhaal omskep moet word, maar onder ‘n nuwe titel, AFSLUITING.

AFSLUITING vertel oor 50 episodes die ervarings van Seef Visagie (Francois Stemmet), Sweetness Botes (Heidi Mollentze), Morkel Nienaber (Lochner de Kock), Conrad Nienaber (Casper Lourens), Martha Sithole (Doctor Khasu-Nkatlo), Cindy Nel (Lelia Etsebeth), dokter Dawie Becker (Rouel Beukes) en Mollie Muller (Julie Strijdom) in hulle soeke na afsluiting oor die seer van gister. Die bekroonde regisseur Renske Jacobs (foto regs) behartig die regie.

Die storie
Die verhaal begin waar die wewenaar Seef Visagie, ‘n man met ‘n hart van goud, Pretoria toe ry vir ‘n geheimsinnige afspraak. Pas na hy die aand Pretoria binnery, stop hy impulsief by ‘n vrou langs die pad en ontferm hom oor Sweetness Botes. Dié ontmoeting het die een na die ander rimpel-effek in beide se lewens tot gevolg. Seef se skoonseun, Morkel Nienaber, self ‘n wewenaar en bedrewe rokjagter, asook sy bedorwe kleinseun, Conrad, is ontsteld oor die verskyning van die gewillige auntie in Seef se lewe. Dis in dié tyd wat Seef Visagie ook besluit dis tyd om strenger teenoor sy kleinseun op te tree. Dit loop op ‘n armdrukoefening tussen oupa en kleinseun uit.

Meer onlangse RSG-radiovervolgverhale van Joe Kleinhans sluit in Agendas, Weerwraak, Vergelding, Tweespalt en Flessie vir Depressie.

AFSLUITING word vanaf Vrydag, 29 September elke weeksmiddag om 14h45 op RSG uitgesaai.

Luister na ‘n uittreksel uit die eerste episode van Afsluiting:

Kyk na die video waarin die skrywer en die regisseur meer vertel van Afsluiting:

Die rolverdeling en akteurs

SEEF VISAGIE (Francois Stemmet, foto links):
70-jarige plaasboer met ‘n hart van goud en op ‘n missie om sukkelaars ‘n tweede kans te gee, veral na die sinnelose moord op sy dierbare vrou Susara.

MORKEL NIENABER (Lochner de Kock, foto regs):
55-jarige skoonseun van Seef. Hy is sy skoonpa se regterhand op die plaas maar ‘n meer bedrewe rokjagter; inherent ‘n swakkeling met ‘n kas vol geraamtes en skandes.

SWEETNESS/SHELLY BOTES (Heidi Mollentze, foto links):
42-jarige straatvrou wat haar desjare afgesloof het om Dawie Becker te laat studeer en hom die knap onkoloog te laat word wie hy is. Pas nadat Dawie sy studies voltooi het, skop hy Shelly Botes egter onder haar agterstewe tot in die hole van Pretoria, en hy trou met die nuwe liefde in sy lewe. Dis toe wat Sweetness gebore is om te survive. Haar ontmoeting met Seef Visagie bring vele nuwe kinkels in haar lewe.

MARTHA SITHOLE (Doctor Khasu-Nkatlo, foto regs):
40-jarige plaasregterhand wat al ‘n instelling op die plaas is. Haar man Adam was by toe Susara Visagie so tragies met ‘n mes doodgesteek is vir haar selfoon en beursie. ‘n Jaar na die voorval drink hy sy lewer stukkend en sukkel hy steeds om dit te verwerk. Daarby het hy sy niksnuts van ‘n seun, Eric, weggejaag omdat dié alles waarop hy sy hande kan lê, steel en vir dwelms verkoop. Maar dit het ook al ‘n jaar gelede gebeur. Die Sitholes dra swaar aan die laste van gister. Ondanks Adam se goeie beskrywing van die moordenaar, het die polisie nog nooit iemand vir die moord op Susara Visagie gearresteer nie.

CONRAD NIENABER (Casper Lourens, foto links):
20-jarige student en bedorwe windgat kleinkind van Seef Visagie, wat nou al drie jaar op universitiet sit sonder om ‘n enkele jaar te slaag. Oupa Seef het nou genoeg van sy bedorwe nonsens gehad, en hy begin die skroef op sy kleinseun aan te draai. Dit loop uit op ‘n verbete armdrukoefening tussen oupa en kleinseun.

CINDY NEL (Lelia Etsebeth, foto regs):
20-jarige knap meisie op wie Conrad ‘n oog het, maar sy is nie die gewone one-night-stand-tipe nie, en Conrad misgis hom met haar. Haar pa is Dawie Becker, die man met wie Sweetness Botes getroud was. Hy word ‘n groot ontnugtering vir haar en ontwortel haar byna.

DAWIE BECKER (Rouel Beukes, foto links):
53-jarige onkoloog maak later in die verhaal sy verskyning as die gemene mens wat bo blink, maar onder stink. Hy is Cindy Nel se stiefpa. Seef Visagie tree as Sweetness Botes se kampvegter op en hy vat die onkoloog aan.

MOLLIE MULLER (Julie Strijdom, foto regs):
50-jarige vrou opsoek na reg en geregtigheid vir haar vriendin Amelia Rossouw en haar vyfjarige klein Amelia wat aan spinale spieratrofie met asemhalingsnood, ly. Sy wurm haar op Seef Visagie se plaas in, in haar soeke na reg en geregtigheid, en sluit in die proses gaandeweg ‘n pakt met Cindy Nel en Seef Visagie.

 

 

Die foto’s hieronder is tydens die opnames in die ateljee geneem.

Die Afsluiting span

Julie Strijdom & Francois Stemmet

Lochner de Kock

Rouel Beukes & Julie Strijdom

Doctor Khasu-Nkatlo & Heidi Mollentze

Rouel Beukes, Doctor Khasu-Nkatlo, Heidi Mollentze, Francois Stemmet

Lelia Etsebeth, Francois Stemmet, Casper Lourens

Lelia Etsebeth & Julie Strijdom

Casper Lourens

Lochner de Kock & Julie Strijdom

Bongi Thomas, Renske Jacobs, Evert Snyman Jnr.