Nuwe middagvervolgverhaal, Beproewing, vol intrige


RSG se nuwe middagvervolgverhaal – Beproewing deur Joe Kleinhans – het op Dinsdag 21 Aug om 14:45 begin.

Beproewing volg op die uiters gewilde Afsluiting wat in 2017 op RSG gedebutteer het.

Afsluiting het in 50 episodes die ervarings van Seef Visagie, Sweetness Botes, Morkel Nienaber, Conrad Nienaber, Martha Sithole, Cindy Nel, dokter Dawie Becker en Mollie Muller in hulle soeke na afsluiting oor die seer van gister, geskets.

Die storie was uiters gewild en toe die luisteraars vra vir nog, het Joe die opvolg geskep.

In Beproewing maak ‘n klomp ongevraagde beproewings opeens hulle verskyning in die einste Seef, Sweetness, Morkel, Conrad, Martha, Cindy en dr. Dawie se lewens. Dit, nadat hulle net wou glo dat hulle die nodige afsluiting gekry het oor verskeie kwessies van vroeër.

Maar dis die lewe, en, soos Sweetness tereg in episode 1 opmerk: dis nie hoe jy val nie, maar hoe jy opstaan wat saak maak.

Hier is Joe Kleinhans self om oor die skeppingsproses uit te brei:

As jy die eerste episode misgeloop het, kan jy maklik inhaal:

Episode 1: Dinsdag 21 Augustus 2018

Soms loop alles op een slag skeef, soos met Seef Visagie. Dokter Dawie Becker sal jou vertel dis nie hoe jy val nie, maar hoe jy opstaan wat die belangrikste is. Hoe staan hy op? Die arme Cindy Nel kry die een skok na die ander.

Joe Kleinhans

Die Skrywer

Joe Kleinhans wen in 2007 die RSG/Sanlam Radiodramakompetisie met die radiodrama ‘n Oordeelsfout. In 2011 behaal hy die derde prys in dieselfde kompetisie met sy drama Die Aanval. In 2016 is sy inskrywing, Straatfamilie, onder die finaliste. In gesprek met RSG se dramahoof, Kobus Burger word besluit dat Straatfamilie in ‘n radiovervolgverhaal omskep moet word, maar onder ‘n nuwe titel,
Afsluiting.

Renske Jacobs

Die Regisseur

Renske Jacobs is die regisseur van beide Aflsuiting en Beproewing.

“Dit is vir my ‘n voorreg om weer met een van Joe Kleinhans se reekse te werk. Joe is ‘n meester wanneer dit by die skep van storielyne kom. Sy stories is altyd tot barstens vol intriges, kinkels en kabels.

Omdat daar so baie vleis is om mee te werk, is dit my hooftaak om dit verteerbaar te hou, en dit so aantreklik as moontlik op te dis. Gelukkig het ek ‘n uitstaande span akteurs en tegniese mense wat bereid is om saam met my te werk om ‘n gehalteproduk te skep.

Al is dit ‘n vermaaklike produksie, is die hooftemas ernstige, relevante temas waarmee ‘n groot deel van die luisteraars sal kan identifiseer. Kanker, buite-egtelike verhoudings, kinders uit gebroke huise, dwelm- en alkoholmisbruik is van die kwessies waarmee baie mense op n daaglikse basis gekonfronteer word, en hierdie onderwerpe word op ‘n kreatiewe, onderhoudende manier aangespreek in Beproewing.

Ek sal aanbeveel dat mense hulle bes probeer om elke middag te luister, want daar is elke dag gebeure van belang wat tot die ontwikkeling van AL die storielyne bydra. Daar is ook ‘n potgooi beskikbaar op www.rsg.co.zaelke dag – en die herhaling van die hele week se episodes (omnibus) is op ‘n Maandagmore tussen 03:00 en 04:00

Hierdie reeks beloof om jou te boei! So gordel vas en spits jou ore! Die Beproewing-span vertrou jy gaan die rit end-uit geniet!”
Luister na ‘n klankgreep uit Episode 1 van Beproewing.

Agtergrond en karakters

Seef Visagie (Francois Stemmet)

Sweetness Botes (Heidi Mollentze)

Om te verstaan hoe en waar die storie afskop, moet ‘n mens deeglik bewus wees van die gebeure wat dit vooraf gegaan het. En om dit te verduidelik, moet ‘n mens noodwendig elke karakter se storielyn in ag neem.

Die Kosterse plaasboer, Seef Visagie (Francois Stemmet), ry ‘n jaar na die moord op sy vrou Susara, Pretoria toe vir kankerbehandeling. Hy stop by die vrou op die straathoek. Haar naam is Sweetness Botes (Heidi Mollentze). Dis die begin van ‘n vriendskap met baie kinkels.

Op sy plaas Goedbegin word Seef bygestaan deur sy skelm skoonseun Morkel Nienaber (Lochner de Kock).

Conrad Nienaber (Casper Lourens)

Morkel Nienaber (Lochner de Kock)

Morkel se seun is Conrad Nienaber (Casper Lourens). Conrad se ma – Seef se enigste kind – Elizma, pleeg selfmoord wanneer Conrad klein is. Sewentien jaar later vind Conrad uit sy biologiese ma was die straatvrou, Maxien Koster.

Intussen stamp Morkel ‘n sekere Sophia van Tonder van Rustenburg motor en al, die veld in na haar dood. Daarom vlug Morkel na Zambië voor die polisie hom kan vastrap.

Terselfdertyd vind Martha Sithole (Doctor Khasu-Nkatlo), Seef se plaasregterhand, uit en bely dat haar seun Eric, Susara Visagie vermoor het. Haar man Adam, het dit al die tyd geweet en daaroor gelieg. Daarom jaag Seef vir Martha weg. Sy vind ‘n nuwe heenkome in Pretoria by Sweetness.

Martha Sithole (Doctor Khasu-Nkatlo)

Dr Dawie Becker (Rouel Beukes)

Sweetness het haar destyds afgesloof sodat haar man, Dawie Becker (Rouel Beukes), ‘n onkoloog kon word. Hy skop haar egter onder haar jack en trou met sy ryk kollega, Cintaine Nel.

Cintaine se dogter, Cindy Nel (Lelia Etsebeth) se lewe is nie maanskyn en rose nie. Haar biologiese pa, Wicus Nel, sit in die tronk omdat hy met laerskoolseuns gelol het.

Haar stiefpa, die onkoloog Dawie Becker, maak haar lewe hel. Sy glo vas hy het haar ma van ‘n berghang na haar dood gestamp om Cintaine se rykdom vir homself in te palm.

Conrad span saam met Cindy om ‘n slagyster vir dr Dawie te stel. In ‘n woedebui maak Dawie ‘n bekentenis aan Conrad – dat hy wel Cintaine van die berghang afgestamp het, waarop die polisie hom arresteer.

Die Kindersorgsentrum

Cindy Nel (Lelia Etsebeth)

Cindy het ‘n sagte plek vir kinders met gestremdhede. Na haar Ma, Cintaine se tragiese dood, loods sy ‘n Cintaine fondsinsamelingsveldtog vir sulke kinders.

Wanneer sy Amelia Rossouw se dogtertjie, klein Amelia, ontmoet en sien hoe sy worstel met spinale spieratrofie met asemhalingsnood, word dié dogtertjie haar vlagskipprojek. En wanneer Seef besef maar klein Amelia is sy kleindogter, koop hy ‘n huis in Pretoria wat ingerig word as ‘n kindersorgsentrum vir kinders met gestremdhede. Die sentrum maak dan ook voorsiening vir Amelia (snr) en Mollie Muller om in te woon. Een van die drie versorgers slaap ook beurtgewys saans in om die kinders te help versorg.

Na Mollie word daar telkens in die reeks verwys. Mollie het voorheen Seef se plaaspadstal bestuur, en het later, met die hulp van Seef, weer haar langverlore liefde opgespoor. Hy sterf egter ‘n paar dae nadat hulle herenig is, en sy ma kry ‘n hartaanval. Nou bly Mollie in Brits om om te sien na haar oorlede geliefde se siek ma. Mollie is regdeur die reeks met hulle in verbinding en speel ‘n rol in die storie, sonder dat mens haar ooit sien (hoor).

Nuwe karakters

Wicus Nel (Dirk Stolz)

Grace Fortuin (Eloise Cupido)

In hierdie reeks maak mens ook kennis met verskeie karakters na wie daar net in die vorige reeks verwys is. Luisteraars het gese hulle wil graag van die mense van wie daar altyd so gepraat word, ontmoet. Daarom is die rolverdeling uitgebrei om die volgende karakters in te sluit:

Wicus Nel: Hy is die 50-jarige tronkvoël wat op parool vrygelaat word. Hy het destyds met skoolseuns gelol. Hy is ‘n gladde, glibberige man waaraan niemand vat kan kry nie. Peslike karakter en ook Cindy se biologiese pa.

Grace Fortuin: Sweetness se vriendin en nou ook sakevennoot. Sy besit en bestuur twee gastehuise in Pretoria saam met Sweetness en Martha. Grace was, soos Sweetness, destyds betrokke by volwasse vermaak, maar sy sluit daardie hoofstuk af, saam met Sweetness, wanneer haar verloofde sterf en vir haar geld en eiendom agterlaat. Grace het egter ‘n ontstellende geskiedenis. Haar kind, Paul, neem op 12 jarige ouderdom sy eie lewe en almal dink dis omdat Wicus Nel met hom gelol het. Maar is dit so? Of is daar is ‘n dieper storie agter die storie.

Amelia Rossouw (Carmin Coetzer)

Amelia Rossouw: Voorheen ‘n sukkelaar wat met dwelms deurmekaar was en ook destyds saam met Morkel Nienaber op Bothaville in die bed gespring het. Die kind wat gevolglik gebore word ly aan ‘n ongeneeslike siekte, maar Morkel verseg om sy verpligtinge teenoor sy dogtertjie te aanvaar. Omdat klein Amelia haar so nodig het, besluit Amelia om haar reg te ruk en ‘n sukses van haar lewe te maak.  Maar met Morkel in die omgewing is dit nie maklik om op die smal weg te bly nie. Die twee bring die sleg uit mekaar.

Ds Van der Walt (Frans Swart)

Dominee Van der Walt: Die kleurryke, saggeaarde man is fluks getong maar nie so suiwer as wat sy beroep vereis nie. Eers is sy dogter en toe sy vrou oorlede. Nou probeer hy Martha oortuig om by hom in te trek – afsonderlike kamers, want hulle is saam in die verdrukking en moet na mekaar omsien. Maar hy het ‘n lelike geskiedenis met Grace wat hom inhaal.

PJ Stofberg (Jakkie Groenewald)

PJ Stofberg: Oujongkêrel, privaat speurder wat Seef al vir baie jare gebruik. PJ ken die Visagie-geskiedenis en wanneer Seef gekonfronteer word met die moontlikheid dat dat sy liefling Susara dalk ‘n misdadiger was, ken Seef net een man en dis PJ.

 

Die Skilderye

‘n Laaste belangrike element wat in beide reekse ‘n groot rol speel, is die skilderye.

In Afsluiting maak Elizma Visagie se skilderye opslae. Elizma is Seef se dogter, dus Conrad se ma. Hoewel sy getroud was met Morkel Nienaber, het sy in haar nooiesnaam geskilder. Sy pleeg selfmoord toe Conrad drie jaar oud is.

Wanneer Conrad twintig jaar oud is, besluit hy om in die geheim van sy ma se skilderye uit oupa Seef se pakkamer te vat en dit na ‘n kunsgallery in Pretoria te neem. Enersyds wil hy die mark daarmee toets, maar hy smag ook daarna om sy ma se nalentenskap meer sigbaar te maak.

Dis veral die een skildery, Die Dame van die Nag, wat opslae maak. Dit blyk aan die einde van Afsluiting dat Elizma nie Conrad se biologiese ma was nie, maar wel Maxien Koster. En die Dame van die Nag is ‘n skildery wat Elizma van Maxien geverf het.

In Beproewing is Elizma se ma, Susara Visagie, se skilderye sterk in die nuus.  Veral wanneer twee gesogte Francois van Dyk-skilderye hulle weg uit Zambië na Pretoria vind om verkoop te word. Susara is Seef se vrou, wat ‘n paar jaar gelede op straat vermoor is, en haar skilderye sorg vir verwarring en talle raaisels. Uiteindelik is Susara se skilderye een groot beproewing vir Seef wat hom byna sy geloof in die mensdom kos.

Beproewing word vanaf Dinsdag, 21 Aug elke weeksmiddag om 14:45 op RSG uitgesaai.

Dit is as potgooi beskikbaar op www.rsg.co.za

Die herhaling (omnibus) is Maandagmore tussen 03:00 en 04:00

Volg ons op Twitter @rsgjacobs @zarsg

Hou dop: #beproewing #soapie #radio #drama