Ratels groet eersdaags


Na feitlik 9 jaar op die lug, asook 449 halfuur-episodes, het die matrieks vir oulaas eksamen geskryf en is hulle vry! 17,200 bladsye later spat Ratels se jongklomp uitmekaar.

Leon van Nierop

Skywer Leon van Nierop skryf:
“Natuurlik was ons hartseer toe Ratels klaarmaak, maar as ‘n skrywer het ek ook besluit dat, indien ‘n storie sy loop geneem het en vertel is, ‘n mens nie te lank moet aanhou nie. Die kraakters wat vanaf graad 11 nou in graad 12 is,(2016/2017) het klaar matriek geskryf en hul storie is klaar vertel. Om met die storie aan te gaan sou beteken het 8 nuwe karakters met nuwe spelers moet inkom, spelers wat eers opgelei moet word, want die meeste is skoliere, en dit sou weer ‘n totale nuwe draai aan alles gegee het, vandaar my besluit om die storie nou aan die einde van matriek te laat eindig. In die verlede was daar elke 2 jaar ‘n nuwe groep spelers en storie.”

“Ratels is die langste aaneenlopende radiovervolgverhaal op die radio. Ek weet van geen ander verhaal, insluitende die ou klassieke Springbokverhale, wat vir 8 jaar en 9 maande aaneen geloop hetsonder om te eindig of’n ruskant te vat nie.

Die oorspronklikle groep wat in Ratels gespeel het.

…en die span waarmee Ratels groet.

Daar was omtrent 65 akteurs wat die efgelope 9 jaar aan die verhaal deelgeneem het. Om almal weer te noem, is ontmoontlik. Sommige is oorsee, party is oorlede, ander het na ander provinsies getrek. En die laaste groepie wat oorgebly het, deel nou hul ervarings oor die storie.”

Francois van Rensburg

FRANCOIS VAN RENSBURG as Vincent
Ek was bevoorreg om die afgelope 8 en ‘n half jaar die rol van die verwaande sanger en omroeper, Vincent de Wahl in Ratels, telvertolk. Ek was 19 jaar oud toe ek in 2009 oudisie het vir die rol en ek is hierdie jaar 27… Die verhaal sou aanvanklik net iets soos 3 maande aanhou, maar Leon se storie en karakters het so gewild geraak dat ons die jare saam met ons karakters begin aftel het.

Dit was ongelooflik lekker om saam met soveel wonderlike talentvolle akteurs (en in sommige gevalle sangers of bands) te werk. En daar was BAIE karakters wat gekom en gegaan het, maar ‘n groot deel van die oorspronklike rolverdeling het gereeld weer hul verskyning gemaak. Die Ratels-karakters het op ‘n stadium selfs hulle eie band begin, ‘n radiostasie besit en sommer self jingles daarvoor opgeneem! Hulle het ook hul eie tydskrif bestuur wat aktuele skoolsake aangeraak het, daarom het die verhaalaltyd aktueel gebly en saam met die veranderende skooltyd beweeg. Heel aan die begin was Stian Bam en Jan-Lourens van der Merwe (wat Velskoen gespeel het) nog deel van die storie. Merlin Balie, Mari Molefe van Heerden, Estel Cronje, Luan Jacobs en Marina Coetzee het vir ‘n lekker kombinasie gesorg en hulle uiteenlopende karakters was die gom wat Ratels bymekaar gehou het. Hulle het een na die ander hul eie paadjies geloop.

Daar was ook interessante en baie famous gaste wat hul verskyning gemaak het: Snotkop, Deon Meiring van die band Glaskas, die manne van Moses Metro Man en selfs die lieflike talentvolle Lika Berning. Lika was nogal verbaas om te sien watter dinamika ons as jong mense na ‘n atlejee bring. Want die energie het soms hoog geloop en ons het tydens elke opname kos saamgebring en werk gemeng met lekker eet en baie grappies en plesier, maar as ons gewerk het, het ons hard gewerk Cool mense soos Vilje Maritz en Stefan Vermaak het ook al rolle kom vertolk, voordat die geselskap soos ons dit in 2017 ken hul opwagting gemaak het. Lelia Etzebeth en Christine Voorendyk was ook groot leermeesters, baie professioneel en het altyd positiwiteit en ervaring na die tafel gebring. En dis hier waar ek nou mense gaan begin uitlaat…

Ek kan regtig nie een slegte ding onthou van opnames waar iemand byvoorbeeld lelik vasgesit het of baklei het nie. Daar was net so lekker spangees onder almal. Regtig! Dit was ‘n fees. En ja, dit spook in die ateljee. (Dinge beweeg soms of val sonder dat daar iemand naby was. Ons het dit self gesien!) Maar die spoke daar is vriendelik. Niemand is bang vir hulle nie. Ons het mettertyd goed met hulle bevriend geraak.

Ratels was al in die koerant (JIP!), in tydskrifte soos Hoezit! en daar was selfs ‘n artikel in die Vrouekeur. Dan was daar natuurlik die Ratels roman (ook geskryf deur Leon) wat uitgereik is. Ons het die boek by skole soos H/S Menlyn en Affies Seuns gaan bemark en vir die kids daar verduidelik hoe dit lyk in ‘n radiodrama-ateljee. So ja, Ratels het ons wye draaie laat loop en diep spore in ons harte gelos. RSG is vanjaar 80 jaar oud, net 3 jaar jonger as my ouma en na al die jare ook nog net so cool soos sy… Radio is lewe!

Duisende dankies aan RSG, Magdaleen Kruger en Kobus Burger vir die geleentheid om deel van die langste storie te wees wat nog ononderbroke op Afrikaanse radio uitgesaai is… Dankie Margaret vir jou admin. ‘n Groot dankie natuurlik aan almal wat agter die skerms gewerk het om die storie se byklanke en tegniese klank aspekte te versorg. Julle is die ware helde waarvan niemand ooit weet nie! Julle is te veel om op een hand op te noem, van julle is nie meer met ons nie, maar julle weet wie julle is en ons sal julle en die storie nog lank in ons harte dra. Mag ons gou weer saam werk en mag Afrikaanse radio en radio oor die algemeen in enige taal net van krag tot krag gaan!

Eswe Bruwer

ESWE BRUWER as Andries
Toe ek in 2016 by RSG begin werk het, het ek niks van radiodrama geweet nie. Ek was bang ek neuk op en maak ‘n gek van my self voor ‘n regisseur soos Leon van Nierop. Soos enige normale mens het ek Leon as oom aangespreek, maar dit was ook die laaste keer. Hy het my ‘n vuil kyk gegee en gesê ek moet hom net Leon noem. Dit was my inleiding na radio drama en daarna het ek begin ontspan. Van toe af het dinge net makliker en lekkerder geword. Leon en my mede-akteurs het my vinnig gewys hoe dinge reg gedoen word. Ek moet sê dit is nogam moeilik en soms snaakse, want net sodra jy dink jy is die kat se snor ruk Leon jou in die bek, maak jy foute (flufs) en leer jy van voor af. Die “flufs” is eintlik die snaaksste (as jy oor jou woorde struikel), want dit onderbreek die hele vloei. Dankie vir die geleentheid wat julle, RSG, vir my gegee het en dankie vir ervaring op Ratel. Wat ‘n opleidingskool! Ek sal dit vir ewig onthou.

Merlin Balie

MERLIN BALIE as Jan-Lourens
Ek het 8 jaar en 9 maande gelede in Ratels begin as ‘n rebelse matriekseun, en het ge-eindig as ‘nvonderwyser wat my kennis met die leerders kon deel. Dit was ‘n ongelooflikelekker en leersame ervaring. Baie baie dankie dat ek die geleentheid gegun was om deel te wees van Ratels, rsg, die langste storie wat NOG op radio uitgesaai was. Ek het die karakter Jan-lourens vertolK, en die samehorigheidsgevoel onder die spelers was uniek. Oom om deel van die eerste episode en die laaste te wees. Ek het die eerste woorde gesê en ook die laaste. Dit was rerig n baie groot eer. Ook om met Leon van Nierop te werk. Weer eens dankie.

Ansu Visser

ANSU VISSER as Charmaine
Ratels is al amper 9 jaar lank op RSG, en ek het die groot voorreg gehad om die neurotiese Charmaine tes peel vir die laaste 2 jaar – die enigste rateliet wat ooit matriek gedop het!
Wanneer mense my altyd gevra het oor hoe radiodrama, en Ratels spesifiek, is- het ek altyd met die grootste glimlag gesê dat dit nét pret en speel is van begin tot einde. Dit is die lekkerste leerskool om van deel te kon wees, en dit sal my altyd by bly. Dankie aan RSG vir die geleentheid om deel van die langste storie te wees wat nog ononderbroke op Afrikaanse radio uitgesaai is. Dit was ‘n groot voorreg, en meer as ‘n plesier!

Leila Etsebeth

LELIA ETSEBETH as Tracy:
Ratels was soveel pret! Dit het nostalgie by my opgewek oor my eie tienerjare as ‘n skoolleerling. Nou kon ek, as eienares van Ratels, ook speel-speel die ander kant van Hoërskool beleef en my verbeelding laat gaan oor die dag-tot-dag bestaan van onderwysers en skoolbestuurders. Dankie Leon van Nierop en RSG vir die geleentheid! Ratels was ‘n groot hoogtepunt in my loopbaan. Geluk aan almal betrokke, wat die vervolgverhaal vir nege jaar lank kon laat hardloop. Baie geluk ook aan RADIO en RSG met jul 80ste verjaarsdag!

CHRISTO VAN DER WESTHUIZEN as Klaas vakie.
Ek het vir 4 jaar in Ratels gespeel. Om een keer ‘n maand te kan saamkom met soveel opwindende (en bekende!) mede radiospelers en te werk, was vir my ‘n ongelooflike voorreg. Die mentorskap wat Leon van Nierop vir elk van die spelers gegee het om te kan groei in hierdie medium was nog altyd plesierig en met groot takt gedoen. Hy breek nie takke nie, hy buig hulle reg en in die 4 jaar het dié tak van my baie gebuig. Ek hoop net hy sal steeds van self reg groei. Maar so werk die industrie, hy is vol hallo’s en koebaais. Als om net eendag weer hallo te kan sê. Ek wil in dieselfde asem dankie sê aan RSG (Veral in sy 80ste jaar) om deel te kon wees van die langste aaneenlopende radio storie in Afrikaans. Dit was ‘n groot eer. Tot volgende keer!

Izel Bezuidenhout

IZEL BEZUIDENHOUT as Felicity
Ek het besluit om my eie Felicity-toneel te skryf!
1. FELICITY (FLITS) Ratels het tot ‘n einde gekom. As ek dit nou regtig moet erken…Ek gaan Ratels mis. Toe ek eers hier aangekom het (as Felicity) , het ek maar moeilik aangepas. Dit is soveel anders as Johannesburg. Ek moes vir Rozanne “Juffrou” se. Ek het ook seker gemaak dat daar n hele paar dinge verander hier by Ratels. Ek is so dankbaar dat ek ‘n goeie invoed op die skool kon gehad het en dat ek nou vir altyd hulle society girl sal wees. Ek het vir n laaste keer weer deur die skool gestap en net vinnig n draai gaan maak by die belangrikste mens in hierdie storie…
FX: MUSIEKBRUG 13. FREE STATE BIRDS.
1.FELICITY (KLOP AAN DEUR)
2.FEL Dis ek, Felicity.
3.FEL (DEUR OOP)
4.FEL Hey handsome.
5.FEL (DEUR TOE)
6.FEL (SUG) Ek het nie baie tyd nie want my Limo wag vir my. Ag ek wil eintlik net kom dankie sê. Ek weet ek was nou nie JUIS die maklikste student by Ratels nie, maar ek was definitief die interessantste. Dankie dat jy saam met my uitgehou het en ek sien uit dat julle die skoolsaal na my gaan vernoem…. Te danke aan jou, Ratels, het ek my modelkontrak gekry. Milaan wag, Parys roep en ek gaan die mode wêreld soos ʼn tsunami tref….
Baai handsome.
FX: KENWYSIE. (0ON CD OR ON CLEAN COPY)
1.IZEL (FLITS) En so kom FELICITY tot ‘n einde. Jy het my geleer om meer in myself te glo en om nie bang te wees om kanse te vat nie. Leon en RSG, ek wil uit my hart uit dankie sê vir hierdie ongelooflike geleentheid! Dankie dat julle vir my ‘n kans gegee het en in my geglo het. Ek sal alles wat ek by Ratels en by jou geleer het nooit vergeet nie. Dit was vir my ‘n groot voorreg!

Arno Horn

ARNO HORN as Ruan
Ek het vir Ratels oudisie nadat ek ‘n toneelspelkompetisie gewen het. Toe ek vanjaar deelneem, het ek weer gewen, en almal het genoem dat daar ‘n groot en positiewe verandering in my spel te bespeur was. Dit is alles te danke aan Ratels en wat ek in die agteljee geleer het, nie net by die regisseur en skrywer nie, maar ook by my medespelers. Ek het een keer per maand spesiaal van Polokwane af ingery om Ruan te speel, en het my tekste sommer daar in die motor voorberei terwylmy pa bestuur het. Volgende jaar wag daar groot dinge vir my. Ek het ‘n oudisie afgelê vir die New York Film Academy as akteur, en het dit geslaag. Dit beteken ek het nou ‘n beurs gekry om in 2018 in New York te gaan studeer. Maar ek sal Ratels en RSG nooit vergeet nie. Baie dankie aan julle almal!

WILDRé KLOPPER as Soois
Wat ‘n ongelooflike ervaring was Ratels nie! Ek moes twee oudisies aflê voordat Leon van Nierop gesê het hy sal my ‘n kans gee, maar net vir 2 maande. Die twee maande het toe ‘n jaar geword, dus het ek seker iets reg gedoen. Ek was die plaasseun Soois wat so ‘n slegte beeld gehad het, maar deur die loop van die verhaal het hy sy selfbeeld begin verbeter en selfs leierskapeienskappe begin vertoon, en natuurlik nog beter rugby gespeel. Uiteindelik het skoolwerk belangriker geraak as rugby en die skape op die plaas! Ek is tans ‘n tweedejaarstudent aan die filmskool AFDA waar ek spesialiseer in colour grading en toneelspel (verlede jaar.) Om kortfilms te maak en te leer hoe flieks inmekaar steek, en dit met hierdie heerlike radio-opnames te kon afwissel, was ‘n geweldige voorreg. Dankie RSG en dankie Leon van Nierop.