Nuwe vervolgverhaal: ‘Rus en Vrede’


Die nuwe middag-vervolgverhaal – Rus en Vrede uit die pen van die bekroonde dramaturg en regisseur Charles J. Fourie – spog met ‘n sterbelaaide rolverdeling, wat insluit Jarrid Geduld (van Ellen Pakkies-faam), Simoné Benjamin (bekend om haar rolle in RSG se uiters gewilde Mina Afrika-vervolgverhale), Nic de Jager, Margot Luyt, Lindie Stander en Cintaine Schutte.

Rus en Vrede begin op Dinsdag 13 November om 14:45 en is ‘n reeks van altesame sestig episodes.

Die storie

Dit speel af teen die agtergrond van ’n private aftree-oord vir aktiewe ouer mense tussen die ouderdom van 55 en 85 jaar oud, en handel oor die lief en leed van ’n aantal uiteenlopende karakters wat in die oord woon, en dit deel met hul jonger genote wat daar werk.

Wanneer die oorspronklike eienaar van Rus en Vrede, Emsie Aucamp, tydens ’n oorsese vakansie verdwyn, en later as vermis of moontlik dood verklaar word, neem haar seun Rupert Aucamp die leisels oor. Hy is optimisties en wil die oord opgradeer en uitbrei tot ’n moderne woonkompleks waar jonger gesinne ook kan woon. Rupert is immers van mening “dat ouer mense nie nodig het om in sulke afsondering te woon nie, en dat jonger inwoners wat ook in die kompleks woon, net kan bydra tot die algehele welstand van die ouer inwoners”.

Rupert beloof dat die ontwikkeling vir die handjievol oorspronklike inwoners soos die afgetrede polisiekolonel, Hannes Malan, die oudboer Floors Cronje, die afgetrede musiekonderwyseres, Frieda Jansen, en die nuwe inwoners en charismatiese pastoor, Josef Fredericks, finansiële voordele kan inhou as hulle met die beoogde ontwikkeling saamwerk.

Uit die staanspoor kry Rupert teenstand en span eers Rus en Vrede se bestuurder, Denver Claasen, in om hulle te oortuig dat so ’n ontwikkeling tot almal se voordeel kan strek. Wat natuurlik nie vir Denver ’n maklike taak is nie, veral wanneer dit by die moeilike en weerbarstige afgetrede boer Floors Cronje kom, wat ook die grootse aandeelhouer is.

Luister na ‘n klankgreep uit Episode 1

DIE REGISSEUR – Joanie Combrink

Joanie Combrinck

Joanie skryf:
“Charles J. Fourie se radiovervolgverhaal speel af teen die agtergrond van ‘n private aftreeoord vir aktiewe ouer mense. Dit handel oor die doen en late van ‘n klomp uiteenlopende karakters wat in die kompleks woon en die jonger mense wat daar werk.

Die potensiële uitbuiting van die inwoners deur die eienaar van die oord, wat skynbaar net daarop uit is om geld te maak, laat ‘n mens weer eens besef hoe weerloos en uitgelewer ouer mense kan wees.

Hulle sukkel almal met dieselfde probleme en het dieselfde behoeftes, voel dikwels eensaam en verstote. Sommiges is nukkerig en moeilik en sit vas met die personeel, met komiese gevolge.

Die karakters is sensitief en geloofwaardig geskryf, wat deernis ontlok en die luisteraars end-uit gaan boei met hul doen en late.”

DIE SKRYWER – Charles J. Fourie

Charles J Fourie

Die dramaturg en regisseur Charles J. Fourie het die afgelope meer as 25 jaar sowat 60 werke vir die verhoog geskep wat in beide Suid-Afrika en Brittanje op die planke gebring is.

Hy is veral by RSG se luisteraars bekend om bekroonde radiodramas soos Offer en Vergifnis en die vervolgverhaal, Agterplaas. Offer (2014) is deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns met ‘n erepenning vir hoorspel (radiodrama) bekroon. Vergifnis was in 2015 die wenner van RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie.

As verhoogskrywer is hy bekend om werke soos Vrygrond, Vrededorp en Ella se perde (wat ook vir RSG as ‘n radiodrama verwerk is).

Hy is ook die vervaardiger van werklikheidstelevisiereekse en was al ‘n skrywer vir die TV-reeks Binnelanders. Van sy ander RSG-vervolgverhale sluit in Tamboeryn, asook die drieluik – Inferno, Purgatorio en Paradiso.

DIE SPELERS

  1. FLOORS – Johann Nel
  2. VIVIENNE – June van Merch
  3. HANNES – Nic de Jager
  4. FRIEDA – Margot Luyt
  5. PASTOOR – André Samuels
  6. MATRONE – Lindie Stander
  7. DENVER – Jarrid Geduld
  8. PETRO – Cintaine Schutte
  9. KITTIE – Simoné Benjamin
  10. RONNIE – Dean Balie
  11. RUPERT – André Weideman
  12. SANTIE – Daneel van der Walt

Van links is Jarrid Geduld, Cintaine Schutte, Nic de Jager, Lindie Stander, Dean Balie, Simoné Benjamin, June van Merch en Margot Luyt.

Van links is Jarrid Geduld, Cintaine Schutte, Nic de Jager, Lindie Stander, Dean Balie, Simoné Benjamin, June van Merch en Margot Luyt.

 MEER OOR DIE KARAKTERS

  1. Johann Nel

    Floors Cronje  (Johann Nel)
    ‘n Afgetrede boer vanaf die Noord-Kaap wat ook een van Rus en Vrede se eerste beleggers en inwoners geword het.

    Hy is tradisioneel, opreg en ’n moeilike mens met ’n reguit mond. Hy vlug van die plaas na té veel argumente met sy skoonseun.

  2. June van Merch

    Vivienne Claasen (June van Merch)
    Haar man is oorlede enkele jare gelede en sy woon by haar seun, Denver, wat ook die bestuurder van die Rus en Vrede-oord is.

    Sy is manipulerend, krities en laat Denver instaan vir haar man wat sy nie sal erken sy eintlik na verlang nie.

  3. Nic de Jager

    Hannes Malan (Nic de Jager)
    ‘n Afgetrede polisiekolonel en ook ’n vroeë inwoner.

    Hy praat nie veel oor sy werk of die verlede nie en het ’n paar geraamtes in die kas waarmee hy moet vrede maak; soos dat sy dogter hom gedwing het om by die oord te kom inwoon.

  4. Margot Luyt

    Frieda Jansen (Margot Luyt)
    Oud-musiekonderwyseres.

    Sy is ’n stil en teruggetrokke en kreatiewe siel wat haar uit die baklei en gestry by die oord hou.

    Sy was nooit getroud nie en het ook geen kinders nie. Sy loop egter met ’n geheim rondom haar verlede rond wat haar kwel.

  5. Pastoor Fredericks (André Samuels)
    Was pastoor van ’n charismatiese gemeente en het sy vrou in ’n motorongeluk verloor.Hy tree uit die bediening en ook sy geloof jeens die ongeluk waarmee hy nie kan vrede maak nie en hou homself verantwoordelik vir sy vrou se dood.
  6. Matrone Louw (Lindie Stander)

    Lindie Stander. Foto: Beeld

    – Het jare lank by ’n hospitaal gewerk en is die oord se inwonende matrone en vloerbestuurder.

    Sy is ’n korrelkop wat op die man af is, en nie nonsens van die inwoners vat nie – sy verskil deurgaans met Denver, die bestuurder.

  7. Jarrid Geduld

    Denver Claasen (Jarrid Geduld) – Enkellopend en woon saam met sy ma na sy pa se afsterwe.

    Hy voel gekluister deur sy ma en sy werk by die aftree-oord en droom om sy eie onderneming te begin.

    As hy kan wegkom van sy manipulerende ma. Hy is heimlik verlief op sy ontvangsdame.

  8. Petro Leroux (Cintaine Schutte)

    Cintaine Schutte

    – Sy is die ontvangsdame en sekretaresse by die oord.

    Onthul min van haar verlede behalwe dat sy eens aan ’n skoonheidskompetisie deelgeneem het.

  9. Simoné Benjamin

    Kittie Adams (Simoné Benjamin)
    Verpleegster en algemene handlanger by die oord.

    Sy is ’n plesierige en opgewekte persoon wat gedurig met die instandhouding-klerk, Ronnie, vassit.

    Glo sy kan beter doen as om by ’n aftree-oord te werk en het planne om op ’n plesierboot te gaan werk.

  10. Dean Balie

    Ronnie Deysel (Dean Balie)
    Hy is die instandhouding-klerk by die oord en ’n kranige tuinier.

    Hy eksperimenteer met organiese gewasse in sy groenhuis by die oord en voorsien die kombuis met groente.

    Dromerig, naïef en in die geheim diep verlief op sy mede-werker, Kittie Adams.

  11. André Weideman

    Rupert Aucamp (André Weideman)
    Erfgenaam van die oorspronklike eienaar van die aftree-oord, Emsie Aucamp.

    Hy erf die oord uit sy ma se boedel na sy tydens ’n oorsese reis verdwyn en vermoedelik dood is.

    Hy het slinkse planne om die oord te omskep in ’n veiligheidskompleks.

    Daneel van der Walt

  12. Santie Coetzee (Daneel van der Walt) –
    Arriveer as sjarmante en jong nuwe inwoner by die aftree-oord, maar iemand het haar daar “geplant”.Sy gooi flikkers by al die manlike inwoners en gebruik haar sjarme om almal te oortuig om Rupert se ontwikkelingsplanne te ondersteun.