Nuus: Cosatu; Munisipaliteite; US; Zille; EFF…


27 November

Cosatu se vreemde besluite: Cosatu se nasionale kongres in Midrand het resolusies aanvaar wat arbeidsbetrekkinge in die land kan bemoeilik. Die vakbondfederasie beplan om sy stryd teen die regering se hervorming van die aftreebeleid, die e-tolstelsel, arbeidsmakelers en jeugloonsubsidies te verskerp. Alle Cosatu-vakbonde het ook ooreengekom op ‘n veldtog ten gunste van ‘n hoër minimumloon. Intussen het die president van Cosatu, S’dumo Dlamini in sy afsluitings-toespraak herhaal dat geen vakbond wat by Cosatu geaffilieer is, betrokke is by arbeidsmakelaars nie. Hy het gereageer op bewerings deur die minister van Arbeid, Mildred Oliphant dat vakbonde aandele besit in arbeidsmakelaars en maatskappye wat die e-tolstelsel in Gauteng bestuur.

Oud-Ministers na munisipaliteite om dit te red? President Jacob Zuma sê die regering oorweeg dit om voormalige ministers na munisipaliteite te ontplooi om te help met dienslewerings-kwessies. Hy het in die Nasionale Vergadering van Provinsies gesê 220 amptenare is tussen Oktober 2014 en Junie vanjaar by munisipaliteite vir korrupsie en bedrog geskors. Hy sê mense wat in die nasionale en provinsiale regerings gewerk het, moet na munisipaliteite ontplooi word om oplossings te vind. Die president sê die regering het reeds begin met inisiatiewe soos om loodgieters en vakmanne aan te stel om waterlekkasies te hanteer.

US en Afrikaans: Die Afrikaanse Alumni-vereniging sal die naweek sy eerste vergadering in Stellenbosch hou. Die vereniging bestaan uit akademici, onderwyskenners en Afrikaanse alumni van verskeie Suid-Afrikaanse universiteite. ‘n Woordvoerder van die vereniging, Jacques du Preez sê hulle vergadering in Stellenbosch is veral relevant ná die onlangse gebeure by die Universiteit Stellenbosch waar die gebruik van Afrikaans in gedrang is.

Zille en spioenasie: Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille sê sy was nooit betrokke by spioenasie teen lede van haar eie party of die ANC nie. Zille het vrae beantwoord in die provinsiale wetgewer oor bewerings dat sy gebruik gemaak het van ‘n privaat intelligensie-ondersoeker, Paul Scheepers om moontlike meeluister-toestelle in selfone in haar departement te verwyder. Die ANC beweer dat sy die dienste en belastingbetalers se geld gebruik het om te spioeneer. Zille sê sy het deur die media verneem dat die ANC strafregtelike aanklagte teen haar ingedien het. Sy het dit as ‘n vermorsing van skaars polisie-hulpbronne bestempel.

EFF lê bedrogklag oor reuse-grondeis: Die EFF het aanklagte van bedrog en korrupsie ingedien teen die Premier van Mpumalanga, David Mabuza en nog twee amptenare van die Departement van Landbou. Die aanklagte by die Nelspruit Polisiestasie hou verband met die goedkeuring van ‘n grondeis wat die regering tussen 2002 en 2003 sowat 30-miljoen rand gekos het. Mabuza het dit na bewering onderteken toe hy nog die LUR van Landbou was. Die EFF se provinsiale leier, Collen Sedibe, sê volgens ‘n forensiese verslag is daar bedrog gepleeg met die eis rakende grond in die Badplaas-omgewing.