Rolex, die Baai se vlieënde hond


‘n Ougat Rolex lê oopketel voor ‘n vliegtuig. Foto: Helie Combrinck.

Honde kán vlieg. In ‘n vliegtuig, natuurlik, met Erika Lambrechs aan stuur van vliegsake en Rolex die hond veilig vasgegordel. En dit is omtrent iets om te sien wanneer Rolex met oopbek vreugde agter sy kajuitvenstertjie kyk wanneer die vliegtuig verbyry vir die opstyg.

Rolex het elke keer saamgegaan wanneer Erika gaan vlieg en toe, op ‘n dag, besluit Erika haar hondlief moet saamvlieg. Mariska Spoormaker het gaan kyk hoe dit gedoen word.

Luister vanoggend (Vrydag 31 Maart) na Oggend op RSG hoe lekker gaan dit wanneer die tweetjies die vliegpad vat.

So amper 10 jaar gelede het Rolex as ‘n swerwershond by die Uitenhage vliegveld opgedaag en is (liefdevol) Kokkerot gedoop omdat hy altyd geaas het vir kos. Kersfees 2015 het hy vir die eerste keer saam met Erika as sy permanente mense-ma na haar huis gegaan. Daar het sy Kokkerot se uitstekende karaktertrekke beter leer ken en hom toe Rolex gedoop. “Want hy is posh, ” verduidelik Erika, “en hy is altyd betyds!”

Kom kyk Saterdag hoe Rolex saamvlieg
Enigiemand kan dié unieke ‘saamvlieëry’ hierdie Saterdag 1 April tydens die Wings & Wheels-skou by Uitenhage se vliegbaan naby KwaNobuhle beleef. En natuurlik foto’s neem dat dit bars.

Die Wings & Wheels-skou, jaarliks deur die Uitenhage vliegklub ten bate van liefdadigheid aangebied, is op sy eie al ‘n fees van verskeidenheid met lugvertonings, veteraanmotors, 4×4-uitdagings, en vele meer, maar dit is regtig uitsonderlik om die ‘vlieghond’ en sy mensema te beleef.

Afhangende van die weer, sal Erika en Rolex tussen 12:00 en 14:00, voor die hoof lugvertoning, vertoonvlugte onderneem of dan laatmiddag se kant, na die hoof lugvertoning.

Erika en Rolex met haar vastevlerkie in die agtergrond. Foto: Heilie Combrinck

“n Glomlaggende Rolex. Foto: Heilie Combrinck