Jora en Black verken hul kamp


Die twee leeumannetjies wat al sewe jaar van hul lewe in ‘n piepklein hok in ‘n Bulgaarse sirkus deurgebring het, het ‘n dag nadat hulle op Shamwari aangekom het, weggelê aan hul eerste maal in die natuur. Hulle wou nie Maandag nadat hulle vrygelaat is in ‘n kamp van 2 hektaar, vreet nie.

Die twee leeus is mooi en groot met manjifieke maanhare.

Black op Shamwari met sy kos in sy bek.

Die eerste foto’s van die leeus by hul nuwe tuiste: Black op Shamwari met sy kos in sy bek.

Jora laat ook nie op hom wag nie.

Jora laat ook nie op hom wag nie.

Black met sy kos.

Black met sy kos.

Hulle het ná ‘n reis van byna 60 uur in kratte Sondagaand by hul nuwe tuiste aangekom.

Jora (Bulgaars vir George) en Black (oor sy donker maanhare) is Maandagoggend in hul nuwe kamp van 2 hektaar in die Born Free- afdeling van die Shamwari private wildtuin naby Addo in die Oos-Kaap, losgelaat. Hulle het dadelik, maar versigtig, begin om hulle nuwe tuiste te verken. Dis die eerste keer in hul lewe van sewe jaar dat hulle kennis maak met bome, bosse en die natuur nadat hulle in sleepwa van 2.5 vierkante meter aangehou is.

‘n Aandoenlike toneel het ook Maandagmiddag afgespeel toe die twee leeumannetjies, wat elk die kamp uit verskillende rigtings verken het, weer bymekaar uitkom. Hulle het mekaar dadelik herken en teen mekaar geskuur en toe onder ‘n boom gaan lê en slaap.

“Alles het goed afgeloop. Hulle het die lang reis goed hanteer. Met die loslaat in die kamp het hulle alles gedoen wat ‘n leeu moet doen: rondgeloop, alles beruik en besnuif en hul nuwe omgewing verken. Een was so bietjie wankelrig, maar dis van die lang ure in die kratte,” het Johan Joubert, veearts van Shamwari wat hulle van Bulgarye vergesel het, gisteroggend gesê.

Jora en Black se reis van byna 60 uur in kratte van ‘n klein hok in Sofia in Bulgarye tot die 2 hektaar kamp in Shamwari het al volg verloop:

  • Op ‘n plattelandse dorpie in Bulgarye (Vrydagoggend 25 September): Johan ondersoek die leeus, verdoof hul halfpad en hulle word in kratte gelaai en per vragmotor na die lughawe in Sofie vervoer.
  • Van Sofia na Londen (Saterdagoggend 26 September): Die leeus word in die kratte per vliegtuig vervoer.
  • Van Londen na Johannesburg (Saterdagaand 26 September – Sondagoggend 27 September): die leeus se kratte word op die lughawe van die een vliegtuig na die vragruim van die ander oorgeplaas. Hier is die leeus se toestand weer baie deeglik gemonitor. Reisigers op die internasionale vlug van Londen na Kaapstad is in kennis gestel van hul twee interessante reismaats in die vragruim.
  • Van Johannesburg na Oos-Kaap (Sondagoggend 27 September tot Maandagoggend 28 September): Die kratte word in Johannesburg op groot vragmotors gelaai en die lang pad na Shamwari word per pad afgelê omdat die kratte nie in die vragruime van die vliegtuie wat op binnelandse vlugte gebruik word, pas nie.
  • In die Born Free kamp in Shamwari (Maandagoggend 28 September): Die leeus word losgelaat.
photo sj joubert

Johan Joubert

Die leeus is voortdurend deur Johan gemonitor om seker te maak hulle nie te sterk verdoof is nie, dat hulle asemhaling en hartklop normaal is, en dat hulle nie ontwater nie.

Marí Hudson het met Johan Joubert, die veearts wat hulle in Bulgarye gaan haal, gesels net voor sy vertrek Dinsdag na Sofia.

Luister na die onderhoud:

Jora en Black, die twee sirkusleeus wat in Sofia, Bulgarye, in die sleepwa aangehou word.

Jora en Black, die twee sirkusleeus wat in Sofia, Bulgarye, in die sleepwa aangehou word.

Die leeus word in die sleepwa van 2.5 vierkante meter aangehou. In die Born Free kamp in Shamwari sal hulle 2 hektaar hê om rond te loop - die eerste keer in hulle lewe in die natuur.

Die leeus word in die sleepwa van 2.5 vierkante meter aangehou. In die Born Free kamp in Shamwari sal hulle 2 hektaar hê om rond te loop – die eerste keer in hulle lewe in die natuur.

Die sleepwa waarin die twee leeus aangehou word.

Die sleepwa waarin die twee leeus aangehou word.

Johan besig op ‘n groot leeumannetjie te skeer voordat hy opereer. Kyk na die grootte van die leeupoot teen Johan se sy.

Johan Joubert besig op ‘n groot leeumannetjie by Shamwari te skeer voordat hy opereer. Kyk na die grootte van die leeupoot teen Johan se sy. Johan is veearts van Shamwari en Sanbona private wildtuine, en ook bekend as ‘The Big Cat Doctor’. Hy is ook betrokke by die red van renosters wat vir hul horings vermink is.