Luister weer: Julian se bokke


Julian Theron word beskou as die top Springbokteler in die land en waarskynlik op die planeet. Prof. Piet Eloff van Hoe verklaar jy dit?-faam het as onderwyser by Paul Roos Gimnasium besef dat Julian, wat deur party mense as dom beskou is, eintlik briljant is. Hy is met disleksie gediagnoseer en moes daarom werk om die hoogste prestasies te behaal. In ‘n stadium het hy die top 10 posisies op die Safari Club International se lys van tophoringlengte springbokke behaal. Sy veld-en-dier kennis is weergaloos. Die span om hom, soos sy vrou Martisan, Noppie en Nico in die veld en Truitjie se uithaler kookkuns in die plaaskombuis van Jewels of the Karoo tussen Richmond en De Aar, maak dit ‘n wenkombinasie.

Sy topprestasie, ‘n ram van R1,65 miljoen wat tydens ‘n veiling behaal is, is te danke aan sy besluit van bykans 30 jaar gelede om skietkampe om te skakel in teelkampe. Kom vier die Springbok, Suid-Afrika se nasionale simbool, saam met ‘n besoek aan die Karoo deur Johan Rademan.

Ter agtergrond: Wie onthou die amptelike plant- en dier-simbole van Suid-Afrika?

Maklik. Die Proteas is mos sportspanne en die Springbokke rugby spelers, maar dikwels hou dit hier op.

Hier is die 5 amptelike simbole:

Nasionale blom

Die koningsprotea (Protea cynaroides) wat ook ander Afrikaanse name het soos die reuseprotea, koningsuikerbos of heuningpot.

Die koningsprotea is die nasionale blom van Suid-Afrika en die grootste lid van die Protea-genus.

Suid-Afrika se nasionale blom is die Koningsprotea – Protea Protea cynariodes

Nasionale boom

Die opregte geelhout (Podocarpus latifolius) ook bekend as die breëblaar-geelhout of opregte geelhout. Die immergroen opregte geelhout is die nasionale boom van Suid-Afrika en kan  tot 35 m hoog word met ‘n stammiddelyn van tot 3 m.

Die blare van die geelhoutboom

Nasionale voël

Die bloukraanvoël (Anthropoides paradisia); sinoniem: (Grus paradisea) is endemies, bedreig en Suid-Afrika se nasionale voël.

Die bloukraanvoël

Nasionale vis

Die galjoen (Dichistius capensis) is ‘n endemiese vis wat hoofsaaklik aan die kus van Namibië tot by Durban voorkom.

Word met ‘n Karootjoppie uit die see vergelyk agv die vetinhoud wanneer dit op die kole gebraai word.

Die Galjoen

Die Springbok

Nasionale dier

Die springbok (Antidorcas marsupialis) is ‘n wildsbok wat volop voorkom in die westelike dele van Suider-Afrika. Gemiddelde hoogte 75 cm.

En dit is hier waar Johan Rademan op Julian Theron se Springbokke van die Karoo afgekom het.

Julian en sy span is van die bekendste Springboktelers in die land en by wildsveilings kan sy ramme oor ‘n miljoen rand behaal.

Wat is sy geheim en hoe het hy bykans 2 dekades gelede sy boerdery-tegnieke so omgekeer dat hy vandag wêreldwyd as ‘n kenner van die Springbokras gesien word?

Ons spandeer tyd in die veld waar die springbokke eens vry beweeg het sonder draad of kamp. Ons sien hoe die springbok wat beskryf word as ‘n kleinerige wit-en-bruin bokkie tot sierade gevoer is met jare se geduld.

Jy’t ‘n afspraak om saam te nael met Julian se bokke op RSG: 80–90 km/h, 15 meter ver te spring en 3,5 meter hoog. Dis mos ons bokke daai.

Julian Theron, sy vrou Martisan en seun.