Dokumentêr 20 Sept: Die son staan nie stil nie


Tradisioneel is die son gebruik om tyd te meet. (Twaalfuurkop by Swellendam).

Dit het gelei tot die ontwerp van sonwysers. Hier in Kaapstad is ‘n groot verskeidenheid historiese sonwysers, van die Kasteel, die Kompanjiestuin, Groenpunt en dan ook in die Botaniese Tuin op Stellenbosch. Selfs Langenhoven het ‘n sonwyser vir Arbeidsgenot se tuin ontwerp.

“Ek beplan om te kyk na die ontstaan van sonwysers, die verskillende tipes sonwysers (die Kasteel het bv een vir die voormiddag en een vir die namiddag) party is horisontaal, ander vertikaal gemonteer. By sommiges moet jy ‘n berekening maak, afhangende van die tyd van die jaar om die korrekte tyd te kry – die formule word darem op die sonwyser aangedui,” skryf die samesteller Chris Swanepoel.

Hy gesels onder meer met Prof. Sakkie Rust wat sonwysers ontwerp, met Jurie van den Heever wat die Kompanjiestuin se sonwysers bestudeer het, toe hy nog aan die Museum bo in die Kompanjiestuin verbonde was, met Laetitia Swanepoel wat feitlik daagliks skoolgroepe deur die Kasteel neem en Dr. Dan Sleigh voorste kenner van die VOC-geskiedenis asook die Kasteel.