Donderdagaand: Dolly Parton, deel 2


Luisteraars kan uitsien na Dolly Parton deel 2 van die reeks, Vrouesupersterre, geskryf en saamgestel deur Elma Potgieter. Elma het ook die gewilde reekse oor Elvis Presley, Edith Piaf en Jacques Brel saamgestel. Die sangkunstenaars wat ons ‘n bietjie beter leer ken het, is Madonna, Whitney Houston, Barbra Streisand, en Linda Ronstadt. Nou volg Dolly Parton en Nana Mouskouri.

Die reeks word Donderdagaande van 20:30 tot 21:00 uitgesaai.

Luister na ‘n kort montage uit die reeks:

Dolly Parton

Episodes waarna jy kan uitsien

Ep #11 = Dolly Parton Deel 2: Donderdag 13 Sept

Ep #12 = Nana Mouskouri  Deel 1:  Donderdag 20 Sept

Ep #13 = Nana Mouskouri  Deel 2:  Donderdag 27 Sept

Elma vertel meer oor die reeks

 “‘n Heerlike vergunning – om ‘n reeks van dertien episodes oor ses vrouesupersterre na te vors en te skryf – vrouesangkunstenaars wat hulle invloed ten opsigte van musiek en die lewe ver en wyd laat geld het – danksy die magtige Amerikaanse mediamasjien.

Die sangkunstenaars wat ons ‘n bietjie beter gaan leer ken, is Madonna, Whitney Houston, Barbra Streisand, Linda Ronstadt, Dolly Parton en Nana Mouskouri.

Madonna

Nie een van die vrouesangkunstenaars was daarop uit om hul invloed in die wêreld te laat geld nie, behalwe miskien Madonna wat met die vrystelling van haar eerste kortspeler vir ‘n joernalis gesê het: “Ek is van plan om een van dié eeu se grootste sterre te word.”

Almal van hulle wou uitsluitlik hul kuns beoefen – vrylik, sonder belemmering. Hulle wou sing, musiek maak, liedjies skryf. Hulle wou hulself as kunstenaars uitleef en hulle het niks in hul pad laat staan nie – elkeen het op haar eie manier en volgens haar persoonlike temperament geleef en gewerk.

Werk en nogmaals werk – om hul kuns na die beste van hul vermoë ten toon te stel –  is ‘n kenmerk van een en almal van die vrouesangers. Jy hou nie op werk as die horlosie so sê nie. Ná jou vorige vertoning werk en oefen jy weer eens van voor af. Hul deursettingsvermoë op sigself is navolgingswaardig.

Hul deursettingsvermoë op sigself is navolgingswaardig.

Madonna sê byvoorbeeld tydens haar eerste personderhoud in 1983 aan ‘n joernalis: “Ek het in New York aangekom sonder ‘n sent. Ek het kos uit vullishouers gevis. Nou het ek ‘n album wat lyk na ‘n sukses. Ek voel ek verdien dit!”

Whitney Houston, die vrou met die goddelike stem, maar kokaïen was haar metgesel.

Whitney Houston het met haar eerste groot solo optrede as twaalfjarige in die kerk in New Jersey ook haar eerste encore beleef.

Die maer dogtertjie met die groot stem het mense verstom – maar net vir ‘n oomblik. Toe bars die applous los. Haar latere biograaf haal haar aan: “Ek het geweet God het my geseën. Ek het geweet ek moet sing…”

Barbra Streisand, die onstuitbare Jodin wat gelukkig nooit haar neus laat reguit maak het nie.

Barbra Streisand, ‘n bekkige Jodin uit Brooklyn, was onstuitbaar. Sy wou ‘n goeie aktrise word en sy het besluit sy begin onder – op die verhoog, nie as akteur of sanger nie, as verhooghulp.

Tussendeur het sy in die biblioteek die groot vertolkingsghoeroe, die Rus, Konstantin Stanislavsky, se boeke bestudeer en sy tegnieke voor die spieël geoefen – hoe om ‘n karakter te ontleed, sy sielkundige dryfvere vas te vat en dan aan ‘n gehoor oor te dra…

Linda Ronstadt, van Duitse en Latynse afkoms, wat van rock tot jazz, blues en balllades en ook Spaanse liedere gesing het.

Linda Ronstadt word gekenmerk deur professionaliteit en lojaliteit. “My tweede naam is ‘eklekties’,” sê sy. “Ek sing oral en alles onder die son, want ek het met alle musiek oor die radio grootgeword.

Sy sing operette, ballades, rock, blues, jazz en sy voel die operadiva, Maria Callas, het haar alles oor die rockgenre geleer.

Nadat Parkinson se siekte by haar gediagnoseer word, kan sy nie meer sing nie, maar sy leef moedig voort.

Dolly Parton. Haar groot blonde haardos en bates is haar handelsmerk, maar haar skrywerstalent is groot.

Dolly Parton, mees geëerde countrysanger van alle tye, kom uit ‘n brandarm pioniersfamilie in die diep platteland van Tennessee en dit anker haar lewenslank.

Die wulpse blondine met die “groot” hare en buitengewone bedeelde lyf, is die antitese van ‘n feminis, maar geseënd met ‘n skerp verstand, onbetwisbare lojaliteit en onbeweegbare beginsels – al neem sy haarself nie te ernstig op nie.

Nana Mouskouri. Dié Griekse sangeres onderneem op 83 steeds konsertreise.

Nana Mouskouri is die verpersoonliking van deugsaamheid, veral naas Madonna en Whitney Houston, maar ‘n standhoudende kunstenaar wat vanjaar nog ‘n sangtoer van vyf maande deur Europa en Amerika onderneem – die Vir-Ewig-Jonk-Toer.

Mense sê: “Maar jy is drie en tagtig! Hoe gaan jy dit hou?!” Sy sê: “Ek kry my energie uit sing. Ek móét sing – om te kan leef.”

Hoe stry ‘n mens daarteen?

Danksy die magtige Amerikaanse mediamasjien, het hierdie vrouesupersterre vir baie van ons so bekend soos familie geword. Of ons daarvan hou of nie, het hulle ons beïnvloed deur hulle uitsprake en deur die inhoud en aanwending van hulle musiek.

Wat vir my uitstaan van al ses vrouekunstenaars, Madonna, Whitney Houston, Barbra Streisand, Linda Ronstadt, Dolly Parton en Nana Mouskouri is hulle onvermoeide werkvermoë, hulle toewyding, hulle deursettingsvermoë en hulle intuïtiewe aanvoeling oor die pad wat hulle moet loop. Dit laat hulle selfs onder moeilike omstandighede aanhou en uithou.

En is dit nie waaroor die lewe gaan nie… ? Om aan te hou en uit te hou … tot die einde toe.”

Elma Potgieter

Wie is Elma Potgieter?

“Ek was gelukkig om ouers te hê wat nie my gedagtes ingeperk het nie. Dit het seker my lewensbeskouing help vestig: Ek pes –ismes, ook feminisme. ‘n Vrou moet, soos ‘n man, ‘n ryk bevredigende lewe kan lei. As sy wil werk, moet sy kan werk. As sy wil trou, moet sy kan trou, of nie. Ek wil nie oor ‘n man baasspeel nie, oor niemand nie, maar dieselfde moet geld vir hom. Ek wil vry voel om enige karakter te skep op papier of as aktrise op die doek – solank die karakter ‘n interessante psige het.”

Sy beskryf die liefdes in haar lewe as: haar oorlede man, Schalk Jacobsz, akteur/regisseur/gebouontwerper (oorlede op 6 Junie 2016); haar dogter Christiane, haar skoonseun Wynand Barnard en kleinkinders, Tiaan, Elouise en Richardt.

Hier is haar verkorte CV

  • Gradueer aan Tuks – hoofvakke Frans & Duits. Ook Afrikaans/Nederlands, Engels, Kunsgeskiedenis, Sielkunde. Neem drama en sang privaat.
  • Na 3 jaar as joernalis begin verhoogloopbaan in 1973 by Kruik. Vier eenvrouvertonings – Darling Blossom, Laetitia kom Terug, Vrou aan Flarde en Moervrug – in Moervrug vertolk sy ses persoonlikhede (drie vroue, drie mans).
  • TelevisieaanbiedingWielie Walie; Kraaines, Feite en Flaters.
  • Hoofrolle in wyedoekrolprenteDr. Marius Hugo, Sonja, Soekie, Plekkie in die Son, Eensame Vlug. Vir Eensame Vlug word sy vir die ‘Rapport Oscar’ benoem vir vertolking van ‘n Jodin. Werk in oorklanking as speler, regisseur en vertaler uit Frans, Duits, Engels. Vertaal oa die Franse kunsfilm, Camille Claudel in Afrikaans.
  • Hoofrolle in TV-reekse: Sterretjie, Laksman, Losprys, Hoffman, Iemand om lief te hê, 7de Laan, Villa Rosa en Binnelanders.
  • Verhooghoofrolle by Kruik: Pavane deur André Brink; Welkom Weemoed deur Hennie Aucamp, Faan se Trein deur Pieter Fourie.
  • 1980 – stig Teatervennootskap, Die Bywoners, saam met Schalk Jacobsz wat ook regisseur is vir al die Bywoners-produksies.
  • Die Bywoners Teaterproduksies: 1981 – Hallo & Koebaai! (Athol Fugard vertaal deur Schalk Jacobsz) Upstairs by die Mark in 1981; 1982 – Hallo & Koebaai vir Freddy Philander-Produksies in Namibië; 1983 – Darling Blossom – eenvrouvertoning deur Elma Potgieter in Johannesburg; 1986 – Die Wildsboudjie ter viering van Johannesburgse Eeufees – die enigste Afrikaanse produksie vir die geleentheid; 1986 – Hoer of Heilige deur Corlia Fourie – spelers: Elma Potgieter en Karin Retief; 1996 – Moervrug – eenvrouvertoning deur Elma Potgieter – deur Elma verwerk uit Engemi Ferreira se novelle, Die Jaar Toe My Ma Begin Sing Het.
  • Skryfwerk. Sedert 2002 verskyn meer as 50 kortverhale deur Elma in Huisgenoot, Sarie, Rooi Rose en Vrouekeur. In 2007 publiseer NB Boeke haar eerste roman, ‘n Tweede Begin.
  • Radio – as speler in verskeie dramas en reekse oor die jare en onlangs die skrywer van musiekdokkies: Edith Piaf en Jacques Brel wat sy geskryf en saamgestel het vir RSG. Ook boekvoorlesings. In 2018 skryf en stel sy ‘n musiekdokkie saam oor Elvis Presley – vyf episodes van 4 Januarie tot Donderdag 1 Februarie. Deurlooprol in Bure.
  • Onlangse verhoogwerk. Kortkennisgewing oorname by Marga van Rooy as Daphne in Daa’ Gaat die Bruid vir Lefra Produksies in Januarie 2017; Mev. Holberg in My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou vir Lefra Produksies vir vanjaar se KKNK, Aardklop en in 2018 se Oppiwater Kunstefees. Nog ‘n kortkennisgewing-verhoogoorname as Gertie in Reza de Wet se Mis vir André Stolz-Produksies in 2017.
  • Skryf van ‘n  Engelse radiodrama vir SAFM: Betrayal – oor mensehandel.  Word in 2018 opgevoer en uitgesaai.