Opwindende dokumentêre seisoen


Ons huidige dokumentêre seisoen is propvol opwindende materiaal. Hier is ‘n voorsmakie van enkele van die programme wat op jou wag.

20151117_16155628 Januarie 2016: Die Mense van Tarka – deur Haidee Muller
Ons maak kennis met die mense van Tarka, ‘n gemeenskap net buite Mosselbaai. Tarka het tot stand gekom so rondom 1898 as ‘n woonplek buite die Mosselbaai-dorpsgebied vir mense wat vanaf ander plekke en plase hulle kom vestig het in die hawe- en die visbedryf. Hulle kon destyds nie eiendom in die dorp besit nie en het toe ‘n lewe begin uitkap teenaan die kloof met sy lopende fonteine. Maak kennis met mense soos oom Abie Daniels, die saksofoonspeler, die kunstenaar James Malgas en ant Miesie Petersen. Lees meer.

800px-WestminsterAbbey-Martyrs4 Februarie 2016: Martelaar Manche Masemola – deur Jacqui January
Mache is gebore in 1913 in ‘n gehuggie in die  landelike deel  naby Polokwane in Limpopo. Sy was ‘n toegewyde Christen en het met die Duitse en Engelse sendelinge saamgewerk.  Haar mense, die Pedi, het hulle geloof streng volgens tradisionele gebruike beoefen. Op 4 Februarie  1928, toe sy 15 jaar oud was, het haar ouers haar doodgemaak oor haar geloofsoortuigings en op ‘n afgeleë koppie begrawe. Sy is toe deur die Anglikaanse kerk tot martelaar verklaar. Haar standbeeld is deesdae een van die 10 Martelaars van die twintigste eeu, wat bo die Groot Westelike Deur van die Westminster Abdy in London te sien is (sien foto – Mache is in die middel). Die dokumentêr word uitgesaai op Mache Masemola se herdenkingsdag op die Kalender van die Heiliges.

11 Februarie 2016: Meer as net Blou of Pienk
Starr, ’n transgender persoon vertel van sy reis van klein seun tot volwassene en die pad wat hy gestap het om homself te aanvaar. Sy ma vertel ook van hierdie kreatiewe kind van haar.

18 Februarie 2016: Verbleikte foto’s – deur Fritz Klaaste
Namate ons ouer word, verklein ons fisiese leefwêreld dikwels tot so’n mate dat jy heeltemal alleen en eensaam word… en al waaraan jy vasklou, is herinneringe en ‘n paar verbleikte foto’s. Fritz Klaaste gesels met ‘n klompie bejaardes oor hulle foto’s. Niemand stel belang in jou nie, en al wat jy oor het is net die herinneringe en ‘n paar verbleikte foto’s.

3 Maart 2016: Agter die gordyn – deur Johan van Lill
‘n Dokumentêr oor alles wat agter die verhoog gebeur tydens ‘n produksie. Ons gesels met die plekaanwysers, verhoogbestuurder, mense wat dinge op die verhoog laat gebeur, besoek die akteurs in die kleedkamers,  praat oor grimering, kostuurms, dekor, luister en hoor hoe die spesiale effekte geskep word, hoe daar afgetel word tot die gordyn oopgaan, wat alles tydens die produksie agter die skerms en op die verhoog gebeur en eindig met die laaste handeklap van die gehoor.