Wilna Snyman in Swanesang lok die meeste luisteraarsreaksie in dramaseisoen


“Swanesang  met Wilna Snyman in die hoofrol was aangrypend! Die dramateks self, die regie en spel was puik en die tjellomusiek (Jaqueline du Pré) roerend. Baie geluk met die uitsending van hierdie besondere en uiters relevante en universele radiodrama!”

Hierdie is net een van die derduisende sms’e wat RSG tydens die pas afgelope Radioteater-seisoen ontvang het. Buiten vier bekroonde radiodramas wat tydens die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie 2014 bekroon is, kon luisteraars ook twee van Jan Rabie se kortverhale op radio hoor. Die verhale is spesiaal as mini-radiodramas verwerk.

Van die ander hoogtepunte – wat almal nog op RSG se webblad as potgooie beskikbaar is – was Perdita van Dijk du Bois se Wat sal die mense sê? Hierdie eietydse verhaal was ook die regie-debuut van Renske Jacobs. Die akteur en skrywer Simon Bruinders het in hierdie gewilde radiodrama vir die eerste keer ‘n rol op radio vertolk.

Luisteraars was liries oor die bekroonde en formidabele atrise Wilna Snyman se spel in Swanesang. Snyman vier later vanjaar haar 80ste verjaardag.

Wilna Snyman

Wilna Snyman. Swanesang van Gerda Kriel, speel hom af in die siekeboeg van ‘n tehuis vir bejaardes. Die hoofkarakter (Wilna Snyman) ly aan Alzheimer se siekte.

Swanesang uit die pen van Gerda Kriel, ‘n kliniese sielkundige in die Wes-Kaap, is verlede jaar bekroon in die kategorie vir jong skrywers (jonger as 30 jaar). Naas Snyman was Joanie  Combrink, Leon Kruger, Susanne Beyers en die nuweling Marvin-Lee Beukes in die radiodrama te hoor. Luister hier na die drama.

Besoek www.rsg.co.za en klik op Potgooi en dan Radioteater om weer na die radiodramas van die afgelope seisoen te luister. RSG se tweede Radioteater-seisoen vir 2015 begin in Oktober en sal dan tot Desember duur.

 

Kategorieë