Kreatiewe Kobus se kopkuns


Toe Kobus Burger hom ‘n paar jaar gelede by RSG aangesluit het as Uitvoerende Regisseur: Drama, was my opdrag aan hom: Kobus, bring vernuwing en verrassings wat betref RSG se drama en dramaverwante aanbod en programme.  Kobus het dit inderdaad gedoen.  Hy het die konsep vir die jaarlikse RSG op-die-lug Kunstefees snags in sy bed lê en uitdink en  nou trek ons al by die derde RSG op-die-lug Kunstefees en twee gesogte toekennings vir dié inisiatief. Twee ander reusesuksesse was die middagvervolgdrama’s Katryn van die Rigtersveld en Die verdwyning van Mina Afrika.  Weer-eens vernuwing van Kobus se kant om hierdie twee boeke in vervolgdrama’s te laat verwerk en op te voer. Daar is nog baie ander kreatiewe vernuwings wat ons van Kobus gaan kry, hou die spasie maar dop!

Die gewilde vrouetydskrif Rooi Rose het onlangs ‘n artikel gedoen oor Kobus om jou so bietjie meer van hom te vertel. Ons plaas graag hierdie artikel en foto van Kobus met die vriendelike vergunning van Rooi Rose, wat dikwels artikels oor RSG-mense doen.

Hier is die artikel:

Kopkuns

Om kreatief en met oorgawe te leef is soms net ’n kwessie van ’n kopskuif. Kobus Burger het al jare lank hiermee pret

Deur Mariette Snyman. Foto deur Andrea Caldwell

AUGKobus01RRKulkunstenaars trek ’n haas uit ’n hoed, maar Kobus Burger haal eiers uit sy towerkeil. Dis nie toevallig nie; volgens hom simboliseer eiers vars idees.

“Iets nuuts kan uit hulle voortkom. En jy kan op hulle broei.”

Kobus is uitvoerende regisseur: drama by RSG in Johannesburg en beoefen kulkuns as ’n stokperdjie – ’n belangstelling wat sy siening illustreer dat ons tyd moet maak vir dit wat ons geniet.

“Ek het as kind ’n kulkunsstelletjie gehad maar omdat iemand gesê het dis boos, het ek dit laat vaar. Eers as volwassene het ek dié passie begin uitleef. Baie van ons kom dit skaars agter as die erns van die grootmenslewe ons insluk en ons al minder begin speel.

“Onthou jy wat kleintyd jou gunste-lingaktiwiteite was, toe dit nog vir jou vanselfsprekend was om pret te hê? Kan jy weer daardie vreugdes gaan opdiep? Wanneer iets ons opgewonde maak, gee dit ons ekstra energie.”

Die essensie van kulkuns, sê Kobus, is verwondering.

“Die tegnologie maak dit natuurlik al hoe moeiliker vir kulkunstenaars om mense se monde te laat oophang.”

Aan die ander kant kan verwonde- ring en kreatiwiteit deel van ons alledaagse lewe word.

“Baie mense ontken dat hulle kreatief is. Maar ons is almal lewenslank kreatief – ons skep byvoorbeeld ons loopbaan en ons toekoms.”

Hoe kan jy kreatiewer leef en só meer kleur aan jou lewe gee?

“Eerstens moet daar ruimte vir kreatiwiteit wees. Ons haastige, uitkomsgerigte samelewing verstaan nie aldag die kreatiewe proses nie. Elke produk of nuutskepping begin met ’n idee. Dag-
dromery is nie ’n teken van luiheid nie – dis dalk die aanvang-stadium van ’n nuwe ‘eier’!

“’n Vars idee het nie onmiddellik geldwaarde nie. Jy kan dit nie daar en dan op ’n winkelrak sit nie – ’n hele proses moet eers volg. Daarom is skeppende denkers nie altyd in die korporatiewe wêreld welkom nie. Ek glo dis brawe leiers wat hul mense vrye teuels gee om te droom. Hulle besef vrees is die vyand van kreatiwiteit en erken die beperkende invloed van oorlewings-angs, veral in moeilike ekonomiese tye.

“Dis ’n kuns om moontlikhede raak te sien. Dikwels word ’n nuwe gedagte voortydig afgemaak as ‘iets wat ons al probeer het’ sonder om in ag te neem ’n idee kan op verskillende maniere aangewend word. Leiers moet die nodige broeiplek skep vir planne wat in ’n dinkskrum na vore kom.

“Dan is daar iets bitter belangriks – aanmoediging. As kreati-witeitsafrigter het ek ’n keer met ’n kunstenaar met creative block gewerk. Ek het op een van haar e-posse gereageer met ‘Knap gedaan!’ Sy het gesê dis die twee belangrikste woorde wat sy tot nog toe gehoor het.”

’n Waagstuk

Kobus was die baasbrein agter die RSG op-die-lug Kunstefees wat in 2013 weggespring het. “Ons stasiebestuurder, Magdaleen Krüger, het my die nodige ruimte en aansporing gegee. Daardeur het sy die kraan van ’n stroom kreatiewe denke oopgedraai!

“Innovering behels nie net ’n klein verandering aan ’n bestaan-de konsep nie, maar om die oorspronklike idee op sy kop te draai, of onwaarskynlike elemente te kombineer. Ware nuutskepping is ’n sprong in die donker en waagmoed, chaos, mislukking en teleurstelling is dikwels deel daarvan.

“Sover ons kon vasstel, is ons die eerste radiostasie wat ’n volledige kunstefees op die lug aangebied het. RSG het byna twee miljoen luisteraars en dit was vir my aanloklik om te dink dat soveel mense ’n kunstefees sou kon meemaak bloot deur ’n knoppie te druk – geen reëlings en koste vir reis, verblyf of toegang nie. Van die veterane in die bedryf het gereken dit sou nie werk nie, maar as jy nuuskierig en opgewonde genoeg is, druk jy deur. Ek het bly wonder of ons kabaret kon insluit – dis nogal sterk visueel. Uiteindelik was Amanda Strydom se ’n Vuur gevang in Glas een van die gewildste produksies.

“Dit was ’n wow-oomblik toe ek besef ons het regtig ’n fees op lug aangebied én dit laat slaag. ’n Luisteraar het gesê: ‘Julle het die verhoog se gordyne vir my oopgetrek.’

“Ons is ook met die Fleur du Cap-teaterprys 2013 en die Business Arts South Africa (BASA) se innovasieprys bekroon en benoem vir BASA se Increasing Access to the Arts-toekenning. Ons nuwe konsep wás ’n demokratisering van die kunste. Niemand is uitgesluit nie.

“In 2014 was daar heelwat druk om op die vorige jaar se sukses te verbeter. Ek wou ’n klankeksperiment op die lug doen, maar my idee wou nie vlieg nie. Nuutskepping bly ’n kwessie van knit one, slip one. Ek het die plan gekry om geskenkbewyse met gratis lugtyd aan kunstenaars te gee. Hulle moes elkeen vyf minute met hul verbeeldingrykste aanbieding vul. Die resultaat was ’n program wat verfrissend anders was.

“Nog ’n eerste was ‘ballet op radio’. Balletmeester Eduard Greyling het beskryf hoe hy saam met Phyllis Spira gedans het.
Jy kon behoorlik die passies voor jou geestesoog sien.

“Van ons luisteraars het heel kreatief die kunstefees met ’n piekniekmandjie in die tuin geniet. So word mense medeskeppers!”

Elke eier wat uitbroei, bring nuwe lewe. Vars idees is ewe vol skeppingskrag. En as jou kop soos Kobus s’n werk, broei jy voortdurend nuwes uit om te verseker dat jou lewe ’n tikkie betowering behou.

Kobus in ’n eierdop

Kobus was voorheen kunsjoernalis en resensent by Beeld en programbestuurder van die KKNK. Hy is ’n vryskut-kreatiwiteitsafrigter en bied onder meer The Artist’s Way-kursusse aan (lees “Leef speel-speel” op www.rooirose.co.za).

Kobus het vanjaar die Orde van die Beiteltjie ontvang en in 2008 was sy debuutdrama Mara Wie? in die topvyf van die Nagtegaal-tekskompetisie. Die stuk is in 2011 met die ATKV-Mediaveertjie as beste radiodrama bekroon. Hy is as asemhalingsterapeut opgelei en sy stokperdjies sluit chi kung en dansvorme soos kontak-improvisasie in.
Meer inligting by kburger@afrihost.co.za