André P. Brink se ‘Lobola’ deel van nuwe Radioteater-seisoen


Werk van wyle André P. Brink asook die kortverhaalskrywers Jan Rabie en Guy de Maupassant is ingesluit in RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2015.

De Maupassant, wat al beskryf is as die vader van die kortverhaal, is vanjaar 165 jaar oud en sy verhale “Die duiwel” en “Hartstog” word op Donderdag 11 Junie om 20:00 in Radioteater uitgesaai.

Twee kortverhale van Jan Rabie, wat in November vanjaar sy 95ste verjaardag sou vier, is vir die heel eerste keer vir die radio verwerk. In Rabie op radio kan die kortverhale “Ek het jou gemaak” en “Lied oor Niemandsland” as kort radiodramas gehoor word.

Die skrywer André Kotzé wat verlede jaar Pauline Smith se “Die pyn” vir radio verwerk het, het hierdie verhale uit die bundel “Een-en-twintig” (1956) as mini-radiodramas aangepas.

Johan en Lida Botha, die jong en reeds bekroonde nuweling Dean Smith asook Albert Maritz kan in Rabie op radio gehoor word. Die regisseur is Eben Cruywagen.

André P. Brink sou op 29 Mei vanjaar sy 80ste verjaardag gevier het. Sy tydlose roman, Lobola vir die lewe, is vir die radio verwerk en word op Donderdag 26 Junie om 20:00 uitgesaai.

André P. Brink

André P. Brink

Die nuwe Radioteater-seisoen begin egter reeds op Donderdag 2 April met ‘n bekroonde Paasdrama, Terugreis deur Fred Charly.

Charly het verlede jaar die RSG en Cordis Trust se eerste Christelike radiodrama-skryfkompetisie gewen met Terugreis, wat in die kategorie vir Paasdramas met die louere weggestap het.

Op Donderdag 9 April word PG du Plessis se Teerling 5: Die brug regstreeks van die KKNK in Oudtshoorn uitgesaai. Die akteurs Johann Nel en Susanne Beyers vertolk die rolle met spelleiding deur Johan Rademan.

Dié kort radiodrama word regstreeks uitgesaai en voor ‘n gehoor in Die Beiteltjie in die CP Nel-museum tydens vanjaar se kunstefees opgevoer.

Van Donderdag 16 April kom die wendramas van RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2014 uitgesaai. Gerda Kriel, wat die prys vir jong skrywer ontvang het vir Swanesang, is eerste aan die beurt. Haar radiodrama, wat onder spelleiding van Margot Luyt opgevoer is, kan op Donderdag 16 April om 20:00 gehoor word.

Wilna Snyman vertolk die rol van die 80-jarige Rika Burger, ‘n bejaarde vrou wie se seun haar na jare vir die eerste keer besoek.

Op Donderdag 23 April volg Zesta Vorster se Ver in die ou Kalahari en ‘n week later Martie Swanepoel se Sonate. Die wen-drama, Ontnugter deur Ingrid Penzhorn, sal op Donderdag 7 Mei uitgesaai word.

Die Noorweegse dramaturg Henrik Ibsen se Vrou by die see is deur Hugo Taljaard in Afrikaans vertaal en vir die radio verwerk. Dit word onder spelleiding van Bettie Kemp opgevoer en kan op Donderdag 21 Mei gehoor word.

Die seisoen sluit ook radiodramas deur Perdita van Dijk du Bois en Leon Kruger in.

 

Kategorieë