Aspirant akteurs presteer by toneelkompetisie


Sowat 500 jong akteurs en aktrises het vanjaar ingeskryf vir die Nasionale Toneelspel-kompetisie vir hoërskoolleerlinge. Ongeveer 70 deelnemers is toe uit dié inskrywings gekies om in Mei aan die eindrondes in die Kunstekaap-teater in Kaapstad deel te neem.

RSG was deel van die derde ronde toe altesame 18 van die 70 finaliste die kans gegun is om ‘n volwaardige radiodrama-oudisie in die radiodrama-ateljee in Seepunt af te lê. Die beoordelaars was RSG se uitvoerende regisseur: drama, Kobus Burger, en die veelbekroonde akteur, Deon Lotz.

Altesame nege finaliste is toe deur RSG gekies om later vanjaar ‘n rol in ‘n jeug-radiodrama te vertolk asook deel te wees van ‘n nuwe radio-reeks vir jonges. Hulle is Luka Geldenhuys, Carla Smith, Jeani Heyns, Patricia Baadjies, Liam Walsh, Luke White, Margo Kotzé, Nienke Geldenhuys en Lise-Marie van Wyk.

Nog drie finaliste gaan elk ‘n gasverskyning in Leon van Nierop se Ratels (Maandae om 19:30 op RSG) maak. Hulle is Cantona James, Ben Blignaut en Dinesh Swartz.

 

DRP_PRYSUITDELING_104 copy

Die groep leerders wat tydens die Nasionale Toneelspel-kompetisie vir hoërskoolleerlinge in Kaapstad uitgeblink het en deur RSG gekies is om later vanjaar by ‘n radiodrama en ‘n nuwe radio-reeks betrokke te raak. Hulle is (agter van links na regs): Carla Smith, Luke White, Patricia Baadjies, Nienke Geldenhuys, Lise-Mari van Wyk, Jeani Heyns, Margo Kotzé. Voor: Ben Blignaut en Luka Geldenhuys

Kobus Burger, RSG se dramahoof, het ook ‘n radiodrama-slypskool aangebied vir die ouers, onderwysers en jong spelers wat aan die kompetisie deelgeneem het.

“Die radiodrama-werkswinkel is elke jaar vir die leerders ‘n ervaring en ‘n half,” het Barnie Mans van Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas gesê. “Nie net leer hulle van ‘n genre waarvan hulle baie min weet nie, maar met Kobus Burger se manier van aanbieding stimuleer hy hulle kreatiwiteit en op ‘n wyse wat later sigbaar is in hulle projekte en skryfkuns.”

Die Nasionale Toneelspel-kompetisie is vanjaar vir die agtiende keer aangebied met Herman van der Westhuizen van Hoërskool Bellville as die organiseerder. Van der Westhuizen het gesê dit is belangrik dat ons die jeugdige uitdrukking van toneeltalent moet koester en beskerm. “Op hierdie manier ontwikkel ons ‘n unieke Suid-Afrikaanse benadering wat ook deur die res van die wêreld erken en gerespekteer sal word.”

 

 

Kategorieë