Woordfees-Beiteltjie bars uit sy nate


IMG_0550RSG se BEITELTJIE, wat elke jaar by die KKNK aangebied word, was vanjaar vir die eerste keer by die US Woordfees in Stellenbosch en dit het behoorlik uit sy nate gebars. Feesgangers het in lang rye gestaan om toegang te kry. Dankie aan al die RSG-luisteraars en feesgangers wat die Beiteltjie besoek het.
Dalk herken jy jouself in dié foto van een van die lang rye.

Voorts het dit behoorlik gekook op die Geel Kol onder die plataanbome by die Plataan-opslaankafee.
IMG_0555

Só het ons die Beiteltjie se program bekend gemaak:

KKNK 2006 064Die vakmanskap van die dramaturg en die letterkundige, en die gebeitel van die hoorbeeldmaker sal opklink in die Lesinglokaal by die US Museum op Maandag 7 Maart en Dinsdag 8 Maart. Kom luister na bekroonde radiodramas en poësie uit die SAUK se klankargief. Skop jou skoene uit, sit agteroor en verlustig jou in die drama, komedie en tragedie van radioteater.

Toegang is gratis.

Hier is die program vir 7 en 8 Maart:

Maandag 7 Maart 2016

09:00 VRYSLAG deur Marcel van Heerden met Marcel van Heerden, Jaco Snyman, Johny Klein, Luan Jacobs, Corné Stemmet, Louise Eksteen en Julie Strijdom.

Hierdie wendrama handel oor ‘n enkelpa en vryskut-akteur, Paul van Niekerk, wat sukkel om in die vermaakbedryf te oorleef en sy tienerseun se skoolgeld te betaal. Hy jaag na die soveelste oudisie, die opname van ‘n radioverhaal en -flitse, om net betyds te wees om sy seun by sy skool se atletiekkompetisie te ondersteun. Maar dan ontvang hy ‘n ontstellende brief… ‘n Pa-en-seun-storie wat die hartsnare sal roer.

(Wenner: RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie 2013) 60 min.

11:00 DIE GEWILDSTE AFRIKAANSE GEDIGTE

Juanita Swanepoel lees die top tien verse uit die bundel, Die Gewildste Afrikaanse Gedigte. (Poësie en musiek) 30 min.

14:00   NATANIËL VERTEL…
Nataniël stof agt van sy heel beste stories van die afgelope 27 jaar af en laat die luisteraar lag met ‘n traan. Humor op sy heel beste! (Humor) 90 min.

16:00   DIE WEBLEY deur Piet Steyn met Eloise Cupido, Johny Klein, Duncan Johnson, Bronwyn van Graan, Louise Eksteen en Corné Stemmet.

‘n Volwasse jeugverhaal oor die invloed van ‘n boelie op ‘n jong meisie en haar lewe. Die skokkende gevolge van ‘n enkele nag se pret raak verskeie mense se lewens. Gevaarlik en dinamies met uitstekende dialoog. (Derde prys: RSG/Sanlam Radiodrama- skryfkompetisie 2013) 45 min.

 17:00   DIE EUWELS VAN TABAK deur Anton Tsjechof met Tobie Cronjé.
‘n Middeljarige man word deur sy dominerende vrou aangesê om ‘n lesing oor die euwels van tabak aan te bied. Die lesing verloop egter nie soos beplan nie… (Radiodrama) 25 min.

 18:00 BLINDEMOL deur Chris Barnard met Nic de Jager, Nerina Ferreira, Trix Pienaar en Juanita Swanepoel
Blindemol
het in 2008 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiodrama ontvang. Barnard het die medium baie goed geken en verstaan en het dié stemmingsvolle werk oor ’n blinde klavierstemmer, Dolf, geskep. Dolf is reeds oorlede. Nou kan hy die kleindorpenaars sien en met hulle in gesprek tree, veral met die vroue wat hom liefgehad het. (Radiodrama) 45 min.

Dinsdag 8 Maart 2016

09:00   SLANG IN DIE GRAS deur Chris Majiedt met Chris Majiedt, Charlton George, Marlo Minnaar, Keenan Herman, Royston Stoffels en André Samuels.
‘n Groep oudgevangenes voer ’n sukkelbestaan op ’n Kaapse stortingsterrein waar hulle weeksdae werk, saans kosmaak buite hulle plakkershut en om ’n vuurtjie ontspan, en naweke die plaaslike sjebien besoek. Hulle is almal in Slang se ystergreep, totdat verraad en bedrog dinge skielik verander… (Tweede prys: RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie 2013) 75 min.

11:00   ELLA SE PERDE deur Charles J. Fourie met Juanita Swanepoel, Johann Nel en André Samuels.
Dié bekroonde toneelstuk is spesiaal vir die radio verwerk, en handel oor die “perdevrou van die Overberg”, Ella Gordon Dove Colston. ‘n Legende van die Hemel-en-Aarde-vallei kry hier roerend nuwe lewe met onvergeetlike spel en regie. (Radiodrama) 65 min.

14:00   DIE TORINGKELDER deur André Kotzé met Nic de Jager, Pietie Beyers, Elanza Swart en De Klerk Oelofse.
‘n Pa, sy tienerseun en -dogter woon in die vuurtoring waarvoor hy verantwoordelik is. Hy maak hulle alleen groot en is besonder streng. Dan verskyn ‘n jong, geheimsinninge seun op ‘n stormagtige nag. Sy teenwoordigheid verander hul lewens onherroeplik. (Derde prys: RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie 2013) 45 min.

15:30   DIE MAN MET DIE 13 KINDERS deur Harry Kalmer met Anrich Herbst en Frieda van den Heever.

Jos (39) en Mathilde (33) het mekaar in Griekeland ontmoet. Hoe het dit gebeur dat hulle 13 kinders het? Hoe is hulle lewens daardeur geraak? Hierdie eietydse, aweregse liefdesverhaal is nie vir sensitiewes nie, en het volwasse inhoud. (Radiodrama) 70 min.

17:00 ‘N VERSLAG AAN ‘N AKADEMIE deur Franz Kafka met Marius Weyers

‘n Sjimpansee wat deur ‘n berugte wildvanger aan die Goudkus gevang en per skip na Hamburg geneem is, ontdek een aand tydens ‘n partytjie aan boord van die skip – tot groot vermaak en die verstomming van die bemanning – dat hy kan praat nadat hy ‘n bottel brandewyn gedrink het. Hierdie deurbraak veroorsaak dat die aap bekend word en Europa deurkruis en voor groot gehore optree. Een van hierdie optredes is ‘n verslag aan ‘n akademie oor sy nuwe lewe nadat hy sy dierlike aard oorwin het. Soos die meeste van Kafka se kortverhale lewer hierdie stuk kommentaar op die samelewing en medemenslikheid. Marius Weyers was vir die eerste keer in 1979 in die Markteater te sien in die Engelse solostuk. Dit is die heel eerste keer dat Weyers dit in Afrikaans én vir radio aanpak. Ook met Petrus du Preez en Marlo Minnaar. (Radiodrama) 30 min.