Gert van Tonder op radio in wen-drama


Gert van Tonder van Groep Twee-faam is eersdaags op RSG te hoor in die Paasdrama, Terugreis.

Gert van Tonder, wat destyds saam met Sias Reinecke bekend was as die sangpaar Groep Twee, kan op Donderdag 2 April om 20:00 gehoor word in Fred Charly se Terugreis.

Gert van Tonder (regs)

Fred Charly, skrywer van Terugreis (links) en Gert van Tonder (regs)

Van Tonder het agter die radiodrama-mikrofoon ingeskuif vir dié drama wat verlede jaar in die RSG en Cordis Trust se Christelike radiodrama-skryfkompetisie in die kategorie vir Paasdramas met die louere weggestap het.

Meer oor Terugreis

Dit is twee dae voor Paasfees en Vink is ongeduldig met sy seun, Tobie. Pastoor Ray (vertolk deur Gert van Tonder) wil Vink se bakkie leen sodat hy en Tobie voorraad vir die armes in die berge kan aanry, maar Vink is elke naweek op pad Britstown toe om ‘n ou vete met ‘n gewese vriend af te handel.

Hierdie keer het Vink egter hierdie keer twee passasiers – Laika, die Russiese paaldanseres, en Frankfurt, haar driepoot-worshond.

Van Tonder, Martin Jansen, Danie Putter, Yvonne Schoeman, Johny Klein en Christine Voordendyk vertolk die rolle in Terugreis, wat onder spelleiding van Helena Hugo opgevoer is.

Goeie Vrydag se Paasdrama

Die Paasdrama wat op Goeie Vrydag (3 April) om 15:00 uitgesaai word, is Joey van Niekerk se Maskers. Dit handel oor die wrede en bose keiser Nero (vertolk deur Luan Jacobs) en is fyn nagevors deur Van Niekerk. “ ‘n Mens kan vir ander mense lieg en maskers opsit en voorgee om te wees wat jy nie is nie, maar op die ou end haal jou sondes jou in en word al die maskers afgeruk,” sê Van Niekerk. Die ander spelers sluit in Sulette Thompson, Marina Coetzee, Lochner de Kock, Christo Compion, Ria Smit, Gigi Strydom en Francois Stemmet.

Vir inligting oor ander spesiale programme op Goeie Vrydag, klik hier.

Kategorieë