Hashtag Hasepad – ‘n moderne liefdesverhaal


HASEPADMet die jaar wat met verbysterende vaart ten einde snel, is dit altyd goed om die lekkerte van die naderende Kersvakansie solank met ’n ligte romantiese drama in te lui, skryf die regisseur Eben Cruywagen.

As regisseur is dit terselfdertyd ’n gulde geleentheid om ’n drama oor jong mense vir almal wat jonk van gees is, met jong spelers aan te pak. Só ’n drama is Hashtag Hasepad, deur Marion Erskine, wat Donderdagaand, 3 Desember om 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai is. As jy dit misgeloop het, klik hier om daarna te luister.

Marion Erskine (foto: Jaco Bouwer)

Marion Erskine (foto: Jaco Bouwer)

Marion Erskine is die skrywer van Donatello en Volksie, destyds beskryf as die eerste “chick-lit”-roman in Afrikaans wat deur ‘n man geskryf is. ‘n Paar jaar later volg sy radiodrama, As die donker die son insluk. Margot Luyt was die regisseur van dié debuut-radiodrama wat met ‘n ATKV Mediaveertjie as beste radiodrama bekroon is.

Hashtag Hasepad is egter ‘n moderne liefdesverhaal wat in die skadu van Tafelberg afspeel.

’n Pragtige jong kelnerin bedien die man van haar drome by die restourant waar sy werk. Hulle raak aan die gesels en dit blyk gou dat sy ’n meisie met ambisie is. Sy wil verder studeer, reis en meer met haar lewe doen as net om kelnerin te speel. Maar sy weet ook wanneer ’n droom-man niks meer as net ’n droom sal bly nie. Min het sy egter kon raai dat haar toekoms reeds besig was om te verander…

Marlo Minnaar

Marlo Minnaar

Die spelers is Joey Meissenheimer, Marlo Minnaar, Kim Heyns en André Samuels. Die regisseur in Kaapstad is Eben Cruywagen.