Italo Calvino en Tertius Kapp in RSG se Radioteater-seisoen


Daar is baie voorstellings en omslae van die bekende boek.

Daar is baie illustrasies en omslae van die bekende boek.

Met sy dood, altesame drie dekades gelede, was Italo Calvino die mees vertaalde Italiaanse skrywer ter wêreld. Calvino se Die baron op die bome is ‘n tydlose liefdes- en fantasieverhaal wat deel vorm van RSG se Tweede Radioteater-seisoen vir 2015.

“Il Barone Rampante” is reeds in 1957 gepubliseer en handel oor ‘n jong baron wat letterlik tussen die takke leef, maar steeds glo dat hy eendag liefde tussen die blare sal vind…

Mooi Maria op 1 Oktober
Radioteater – elke Donderdag om 20:00 – begin op 1 Oktober met Pieter Fourie se klassieke Mooi Maria. Fourie het vroeër vanjaar sy 75ste verjaardag gevier.

Joanie Combrinck

Joanie Combrinck

Joanie Combrink vertolk die titelrol in hierdie aangrypende drama met spelleiding deur Johan Rademan, wat ook die verhoogdrama vir die radio verwerk het. Die ander spelers sluit in Trix Pienaar, André Rossouw, Marko van der Colff, Ronel Geldenhuys, Johan Botha, Teresa Cloete en Johann Nel.

Mooi Maria is vanjaar 35 jaar oud en handel oor ‘n meisie wat eens mooi was, voordat die noodlot toegeslaan het en haar lewe drasties verander het.

Fourie is vroeër vanjaar deur prof. Nico Luwes beskryf as “seker die mees bekroonde Afrikaanse dramaturg in die geskiedenis van die Afrikaanse teater”.

Die Baron op die bome op 8 Oktober
Die baron op die bome geregisseer deur Evert Snyman volg op Donderdag 8 Oktober.

Oorsee deur Tertius Kapp op 15 Oktober
Op 15 Oktober kan die Hertzogpryswenner Tertius Kapp se Oorsee gehoor word. Die regisseur en verwerker van dié verhoogdrama is Mari Snyman.

In Oorsee bevind herkenbare vreemdelinge hulle op ‘n onwaarskynlike skip. Die skeurbuik knaag, maar daar is darem nog af en toe iets om te braai, en algmampoer vir koerasie. Dié komedie tree ook met die werk van skrywers soos N.P. Van Wyk Louw, Uys Krige en Elisabeth Eybers asook sangers soos Juanita du Plessis, Bok van Blerk en Kurt Darren in gesprek.

Gepiekel op 22 Oktober
Die veelbekroonde dramaturg Schalk Schoombie se Gepiekel is ‘n komiese gesinsdrama wat op ‘n Vrystaatse dorpie afspeel. Josias Appelgryn is ‘n sektariese kerkleier wat profeteer dat hy ná 100 dae uit die dood gaan opstaan…

Schoombie het self sy verhoogdrama vir die radio verwerk en Margot Luyt is die regisseur. Gepiekel word op Donderdag 22 Oktober uitgesaai.

Hastag hasepad op 3 Desember
Marion Erskine, wie se As die donker die son insluk met ‘n ATKV Mediaveertjie as beste radiodrama bekroon is, het ‘n eietydse liefdesverhaal geskryf wat in die skadu van Tafelberg afspeel. Hashtag hasepad debuteer op Donderdag 3 Desember met Marlo Minnaar, André Samuels, Joey Meissenheimer en Kim Heyns in die rolle. Die regisseur is Eben Cruywagen.

Ander dramas
Die seisoen sluit verskeie ander debuut-radiodramas in, soos

  • die bekroonde dramaturg Daleen Kruger se Wilde roosmaryn;
  • wyle Henriette Fowler se Tussen stasies;
  • en Karien Polley se Van die vlees.

Renske Jacobs is die regisseur van:

  • Christoff Blaauw se Nagrit na Keetmanshoop, ‘n radiodrama wat mans se dienspligjare in herinnering roep.
  • en van Martyn le Roux se Bloedlyn, ‘n speurverhaal en riller wat die luisteraar by tye koue rillings gaan gee.

Wanneer is die nuwe Radioteater-seisoen?

Die nuwe Radioteater-seisoen duur tot einde Desember en sluit ook ‘n nuwe Kersdrama (wat op 25 Desember uitgesaai sal word) in.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodrama word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Kontak
Vir meer inligting, kontak Kobus Burger

Tel: 011 714-2724   E-pos: kburger@rsg.co.za

 

 

 

Kategorieë