Ragel is ‘n koue-rillings-drama – luister weer

Ragel is ‘n koue-rillings-drama – luister weer


‘n Skrywer wat eers as kassier in ‘n bank gewerk het, het vir RSG ‘n spookstorie geskryf wat op Donderdag 23 Junie gehoor kan word.Die Bloemfonteinse skrywer Fanie Viljoen se Ragel is ‘n volbloed-spookstorie, wat handel oor ‘n man wat ‘n beeldjie koop, maar tuis begin die beeld ‘n lewe van haar eie kry.

Renske Jacobs is die regisseur van hierdie koue-rillings-drama met spelers soos Isadora Verwey en Cobus Venter, Karen Wessles en Jacques Botes in die rolle. Ragel is in Johannesburg opgevoer.

Die radio-omroeper en drama-regisseur Renske Jacobs sê daar is min dinge wat mense so gou laat regop sit soos ‘n goeie spookstorie. Daarom het sy die Bloemfonteinse skrywer Fanie Viljoen se opdrag-radiodrama, Ragel, met albei hande aangegryp. Dié radiodrama debuteer op Donderdag 23 Junie om 20:00 in Radioteater op RSG.

Die klankbaan vir Ragel is die Bulgaarse komponis George Strezov se musiek vir die rekenaarspeletjie, Victor Vran.

Luister hier na die promosie-klankgreep:

Luister hier na die volledige drama.

Renske se regisseursvisie
Wat is nou lekkerder as om na ‘n regte, egte spookstorie te luister? Om te voel hoe die hare in jou nek rys, terwyl die hoendervleis oral uitslaan. Daar is min dinge wat mense so gou laat regop sit soos n goeie spookstorie.

Spookstories moet eintlik na geluister word, want mens kan dit so skrikwekkend as moontlik in jou kop maak met jou eie prentjies. JY weet wat jou die bangste maak, so jy het beheer oor die graad van genot wat jy uit die spookstorie put, omdat jy besluit hoe dit lyk. Dis tog hoekom ‘n mens na ‘n spookstorie luister – om bang te word.

Die skrywer
Fanie Viljoen woon in Bloemfontein en skilder en skryf voltyds. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings soos die Goue Sanlam-prys vir jeuglektuur, M.E.R-prys vir jeuglektuur, M.E.R-prys vir geillustreerde kinderboeke en n hele paar ATKV-kinderboektoekennings.

Fanie sê hy het goeie opstelle op skool geskryf, maar het nooit gedink hy sou eendag ‘n skrywer word nie. Nou skryf hy omtrent elke dag stories. Dit is die beste werk in die wêreld, want dit voel nie soos werk nie. Hy is bekend vir sy spookstories en hy is lief daarvoor om veral vir kinders te skryf, omdat daar nie grense aan kinders se verbeelding is nie.

Van sy ander radiodramas wat ook al op RSG uitgesaai is, is ‘By verlies aan woorde’, ‘Breking’ en ‘Oupa Rooijan kry n girlfriend’. Viljoen was ook die skrywer van radiodramas soos Die losprys wat in die boek Droomskip en ander radiodramas opgeneem is.

Die agtergrond
Fanie het hierdie storie in opdrag van RSG geskryf en volgens hom is dit losweg op die waarheid gegrond. Hy het n vriend in Bloemfontein wat gek is oor oudhede en toe hy een keer by die vriend gaan kuier het, het hy die borsbeeldjie opgemerk. Die vriend vertel toe dat hy die beeld gekoop het en na die tyd gehoor het dat dit van n graf afkomstig is. Daar het glo iets aan hom verskyn een nag in die gang en hy’t die beeld in die tuin gaan sit. Dit het dadelik ophou spook, en selfs nadat hy dit terug in die huis gesit het, het die ding nie weer verskyn nie.

Die karakters en spelers

  • Luan – gespeel deur Cobus Venter – is ‘n Man in sy laat veertigs. Hardkoppig en nie daarmee geneë dat sy skoonma by hulle bly nie. Sy swakheid is om allerhande onnodige goed by tweedehandsewinkels te koop sodat sy huis naderhand soos ’n pandjieswinkel lyk. Hy beplan egter om al die goed met sy aftrede te verkoop sodat die inkomste vir sy en sy vrou se oudag sal voorsien.
    Cobus Venter (links) en Jacques Botes

    Cobus Venter (links) en Jacques Botes

  • Benita – gespeel deur Karen Wessels – is Luan se vrou, ook in haar laat veertigs. Dis asof die lewe haar al begin vang het. Daar is ’n moegheid of uitsigloosheid in haar. Sy is keelvol vir Luan se gekopery.
    Karen Wessels (Benita, die keelvol vrou)

    Karen Wessels (Benita, die keelvol vrou)

  • Tessa – gespeel deur Isadora Verwey – is Benita se ma. Sy het nie veel ooghare vir haar skoonseun nie. Tog is sy nie werklik ’n slegte vrou nie; sy en Luan kom bloot net nie oor die weg met mekaar nie. Sy kan glo met dooies praat en voel bonatuurlike goed aan.
  • Jaco Olwagen – gespeel deur Jacques Botes – is die eienaar van Die Wakis, ‘n oudhede-winkel. Hy is in sy vyftigs. ’n Glibberige vent met ’n gladde bek soos ’n verkoopsman. Hy is ‘n vriend van Luan en dwing Luan om iets te koop wat sy lewe handomkeer verander. Tot sy vrou, Benita, en skoonma, Tessa, het slapelose nagte…

Die produksieproses
Renske skryf: ”Dit was ‘ n uitgebreide produksieproses. Omdat slegs een sintuig ingespan word om die storie in te neem, moes ons deurentyd waaksaam wees om nie hierdie sintuig te oorlaai nie. Wanneer daar te veel gelyk gebeur, gaan die verskillende elemente verlore en dit kan baie gou oorweldigend vir die luisteraar raak. Dis maklik om oorboord te gaan want die genre leen hom daartoe, maar om suggestief te werk is baie meer treffend as om alles uit te beeld. Ek het dus besluit om baie van die effekte in post produksie te doen, omdat ek beter beheer wou he oor die hoeveelheid en intensiteit.

”Die spookstem is voor die opname geskep, want die akteurs moes daarop reageer. Ek het dit opgeneem, en toe het ons dit tegnies versorg en tydens opname gebruik. Ons het lank gesoek na die ‘spookklank’ wat die spook se aanwesigheid sal aandui. Uiteindelik het ek dit self verskaf – mondelings op my selfoon – en dit toe met ‘n effek in n ysingwekkende geluid omskep.

”Ek het al maande gelede op die musiek afgekom, en dadelik geweet dis wat ek wil gebruik vir hierdie drama. Dit kom van die klankbaan van die rekenaarspeltjie ‘Victor Vran’ deur die bulgaarse komponis, George Strezov. Dis uitsonderlike musiek wat die ideale atmosfeer skep om dit ‘n regte, egte spookstorie te maak. Maar al is dit meeste van die tyd grillerig, laat die temawysie wat regdeur gebruik word ‘n mens met ‘n gevoel van melankolie, want spookstories is eintlik hartseer omdat dit gaan oor rustelose siele…..

Van links is Cobus Venter, Isadora Verwey en Karen Wessels (agtergrond) met die opname van Fanie Viljoen se “Ragel”, Donderdag 23 Junie, om 20:00 in Radioteater.

Van links is Cobus Venter, Isadora Verwey en Karen Wessels (agtergrond) met die opname van Fanie Viljoen se “Ragel”, wat Donderdag 23 Junie, om 20:00 in Radioteater uitgesaai word.

Isadora Verwey verskaf byklanke

Isadora Verwey verskaf byklanke

Isadora Verwey (Tessa, die psycic skoonma), Cobus Venter (Luan, die oudhede liefhebber) en Jacques Botes (Jaco, die gladdebek pandjieswinkeleienaar)

Isadora Verwey (Tessa, die psycic skoonma), Cobus Venter (Luan, die oudhede liefhebber) en Jacques Botes (Jaco, die gladdebek pandjieswinkeleienaar)

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

 

 

 

 

Kategorieë