Luister na ‘rock-‘n-roll’ drama: Lewe na die noot


Folksanger se loopbaan ontspoor in RSG se Jeugdag-radiodrama

Die skrywer en musikant Wilken Calitz se splinternuwe musikale radiodrama, Lewe na die noot, eggo die lewens van tragiese musieksterre soos Kurt Cobain (van Nirvana-faam) en Johannes Kerkorrel.

Lewe na die noot debuteer op Jeugdag (Donderdag 16 Junie) om 20:00 in Radioteater op RSG (100 tot 104 fm). Die klankbaan is spesiaal deur Calitz gekomponeer en vat oorspronklike musiek en lirieke.

Luister hier na die volledige drama.

Die storie
Die radiodrama handel oor ‘n paar maande in die lewe van Johnny Botha, ‘n folksanger wat ‘n sukkelbestaan in Kaapstad voer. Johnny kan nog soort van deal met die feit dat sy iTunes-verkope tot ‘n laagtepunt gedaal het en dat daar selde meer as ‘n handvol mense by sy optredes is. Maar, wanneer die liefde van sy lewe skielik ernstig siek word, ontspoor meer as net sy loopbaan.

Uit die pen van Wilken Calitz kry ons ‘n verhaal van ‘n sukkelende jong opkomende sanger, Johnny (André Terblanche), wat eers teologie studeer het en agv sy seksuele voorkeure in konflik met die kerk se gay-beleid kom. Sy lewensmaat, James (Marlow Minnaar) word gediagnoseer met kanker en dit is waar die papaja die waaier tref, want hulle het dringend geld nodig vir die chemo-behandeling. Hiervoor is Johnny bereid om buite die boks te dink en sy eie dood te vervals om post mortem tantieme uit ‘n lied te ontvang, wat dan aan sy geliefde vir sy mediese behandeling kan gaan.

Die skurwe onderwêreld van die Kaapse middestad en die intriges van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vorm die leefwêreld waarbinne Johnny planne probeer beraam om iemand se lewe te red, moontlik ten koste van sy eie…

Die spelers

André Terblanche

André Terblanche

Die sanger-akteur André Terblanché vertolk die rol van Johnny Botha, terwyl die res van die rolverdeling uit Marlo Minnaar, De Klerk Oelofse, Hannah Borthwick, Leon Kruger, Frieda van den Heever en Johann Stassen bestaan.

Terblanché was destyds as Sky te sien in die verhoogproduksie BreinBliksem, geskoei op Fanie Viljoen se jeugverhaal.

Van links is Hannah Borthwick, De Klerk Oelofse, Marlo Minnaar, Leon Kruger, Frieda van den Heever, André Terblanche en Johann Stassen. Voor is die skrywer en komponis, Wilken Calitz, saam met die regisseur Johan Rademan.

Van links is Hannah Borthwick, De Klerk Oelofse, Marlo Minnaar, Leon Kruger, Frieda van den Heever, André Terblanche en Johann Stassen. Voor is die skrywer en komponis, Wilken Calitz, saam met die regisseur Johan Rademan.

Die skrywer
wilkencalitzWilken Calitz (links) is ook bekend om verhoogproduksies soos God van klank (wat vir die radio verwerk is en op RSG uitgesaai is), asook Veertig dae, ‘n radiodrama waarmee hy in RSG en Sanlam se radiodrama uitgeblink het.

Die regisseur
Lewe na die noot is deur onder spelleiding van Johan Rademan opgevoer.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Kategorieë