Dagboek van ‘n wurm is lewensgetrou en kras

Dagboek van ‘n wurm is lewensgetrou en kras


In Donderdagaand, 24 Nov se Radioteater word die bekroonde skrywer Martyn le Roux se drama DAGBOEK VAN ‘N WURM in Radioteater om 20h00 uitgesaai.

Volgens Le Roux is dit ʼn verhaal wat geïnspireer is deur ʼn meisie wat in sy klas was so ʼn paar jaar gelede, en baie van wat in die stuk gebeur is op die werklikheid gebaseer. Dit gaan oor Cassandra Viljoen – ʼn beeldskone, talentvolle en hoogs intelligente meisie wat soos ʼn lotusblom in die donker vuil poel van haar omstandighede vasgevang word.

Gebore aan die verkeerde kant van die treinspoor, poog sy desperaat om haarself van haar haglike sosiale omstandighede te bevry en iets van haarself te probeer maak. Sy weier om gebrandmerk te word as “een van daai mense aan die anderkant van die dorp”. Maar hoe harder sy probeer, hoe meer word sy deur die mense in haar omgewing en haar huislike omstandighede in die gemors
afgetrek.

Sy slaag uiteindelik daarin om haarself te bevry en te ontsnap, maar met tragiese gevolge…

Dit is n donker, growwe drama, en die dialoog is somtyds kras omdat dit lewensgetrou is en pas by die milieu waarin dit afspeel. Harde rock en elektroniese musiek uit die jare 80, 90 en 2000’s dra by tot die ‘gritty’ atmosfeer – Destiny’s Child, Queen, Robert Miles, AC/DC, Prodigy en Taylor Swift kan almal gehoor word.

Die akteurs is Lelia Etsebeth, Kaz McFadden, David Louw, Elma Potgieter, Paul Luckhoff, David James en Jacques Botes. Die regisseur is Renske Jacobs.

Leila Etsebeth

Leila Etsebeth

Kaz McFadden

Kaz McFadden

David Louw

David Louw

Elma Potgieter

Elma Potgieter

Paul Luckhoff

Paul Luckhoff

David James

David James

Jacques Botes

Jacques Botes

Renske Jacobs

Renske Jacobs

Oor die skrywer:

Martyn le Roux

Martyn le Roux

Le Roux het in 2014 die drama BLOEDLYN geskryf. Dit is sy eerste drama wat hy aan RSG gestuur het. Dit is as een van die finaliste in die RSG\ SANLAM Radiodrama Skryfkompetisie 2014 aangewys, en is uitgesaai deur RSG in 2015. Renske Jacobs was ook die regisseur.

Hy ontvang ook in 2016 ʼn ATKV Mediaveertjie vir BLOEDLYN as Beste Teks  vir ʼn drama in die kategorie: Luister.  BLOEDLYN is ook aangewys as een van die drie finaliste in die kategorie: Regie (Renske Jacobs).

DAGBOEK VAN ʼn WURM is die tweede radiodrama wat Le Roux in 2015 gelewer het, en dit is ook aangewys as een van die finaliste in die RSG\ SANLAM Radiodrama Skryfkompetisie 2015.

Hy werk tans aan ʼn paar ander radiodrama idees.

 

 

Kategorieë