My Japan – voorgeskrewe drama op lug


Die drama My Japan is vanjaar vir gr. 11-leerders (Afrikaans Huistaal) voorgeskryf en word heruitgesaai op Donderdag 9 Junie as deel van RSG se strategie om leerders met hul eksamenvoorbereidings te help. My Japan is ‘n opwindende spookstorie en rock-‘n-roll-drama.

Luister hier na die volledige drama.

Die storie

Schalk Schoombie

Schalk Schoombie

Op 11 Maart 2011 het ʼn verwoestende tsoenami Japan getref. ʼn Onderwyseres wat Engels in Japan gee, Angelique Naudé, het die ramp eerstehands meegemaak en het haar ervarings en indrukke met die bekende joernalis Schalk Schoombie gedeel. Schalk het dit toe in ʼn pryswennende jeugdrama verwerk en toe weer as radiodrama.

In hierdie drama word die verwoestende gebeure deur verskeie karakters se oë uitgebeeld word. Tegnies en akoesties is dit een van die mees ingewikkelde produksies nog op radio en regisseur Leon van Nierop en sy tegniese span, waaronder Karen Gravett, moes ure lank voorberei aan veral die tsoenami-byklanke wat nog nie tevore op radio gebruik is nie.

“Dit was die moeilikste en mees verwikkelde radioproduksie wat ek al in my 38 jaar as radio-regisseur en –skrywer ervaar het.” Só beskryf Leon van Nierop die Radioteater van Donderdag 9 Junie: Schalk Schoombie se My Japan.

My Japan was ook in 2012 die wenner van die Reza de Wet-jeugfees tydens die Vryfees in Bloemfontein. Dit is daarna spesiaal (in opdrag van RSG) deur Schoombie vir die radio verwerk. Hy is die skrywer van bekroonde verhoogwerke soos Liefde, Anna.

Die regisseur
My Japan
is in Johannesburg opgevoer onder spelleiding van Leon van Nierop en in 2013 op RSG uitgesaai. Die drama is vanjaar vir gr. 11-leerders (Afrikaans Huistaal) voorgeskryf en word heruitgesaai op Donderdag 9 Junie.

Die spelers

In My Japan is Rolanda Marais en Donna-Lee Roberts.

Radioteater word elke Donderdagaand om 20:00 tot einde Junie op RSG uitgesaai.

 

 

Kategorieë