Nuwe middag-vervolgverhaal ‘Agterplaas’ vol humor, patos


RSG se nuwe middagvervolgverhaal, Agterplaas, is ‘n komiese én tragiese reeks uit die pen van die veelbekroonde dramaturg Charles J. Fourie.

Luister hier na ‘n kort klankgreep na wat ky kan verwag:

Die vervolgverhaal is geskoei op Fourie se gelyknamige treffer-toneelstuk wat vir drie jaar lank tydens verskeie kunstefeeste landwyd opgevoer is. Dit is destyds vir altesame ses kykNET Fiësta-teaterpryse benoem en later ook as ‘n kort fliek vervaardig. Resensente was dit eens dat dit een van die hartroerendste dog vermaaklike toneelstukke is wat nog in Suid-Afrika op die planke gebring is.

In opdrag van RSG het Fourie die storie uitgebou, nuwe karakters ingesluit en ‘n meesleurende dramareeks geskep wat luisteraars vir die volgende twee maande gaan boei.

“Waar ons destyds die stuk voor ‘n gehoor van hoogstens 300 gehoorlede in die buitelug kon opvoer, sal dit nou deur veel meer mense op die draadloos ervaar en geluister kan word,” sê Fourie.

“Met die verwerking van die stuk vir radio as ‘n vervolgverhaal kon ek ook die gehele wêreld van die oorspronklike karakters verder verken, asook ‘n aantal nuwe karakters bybring.”

Agterplaas begin op Vrydag 7 Julie om 14:45 op RSG.

Die storie
Die Conradie-gesin verloor hul huis weens pa Frans (Deon Lotz) se aanvanklike werksverlies en die gevolglike drankprobleem waarin hy en sy vrou, Sannie (Frieda van den Heever), mettertyd verstrengel raak.

Hulle beland noodgedwonge in Klets Vermeulen (Lindie Stander) se agterplaas waar hulle in ’n karavaan moet woon met hul twee kinders, wat nog albei op skool is.

Frans voer ’n nodelose stryd teen sy drankprobleem en steek alles vir Sannie weg.

Wanneer hul dogter, Rachel, verklaar dat sy nie meer by hulle gaan woon nie, en skool verlaat, word die gesin se lewens in ’n mallemeule van oorlewing en sosiale verval gedompel. Rachel raak boonop betrokke by die ongure karakter Moolman wat teer op arm meisies wat hy by sy nagklub laat werk.

Wanneer Rachel egter besluit om te vlug, besluit Moolman om haar te volg. Tydens ’n rusie word Moolman deur een van die verhaal se karakters geskiet…

Rachel neem egter die skuld op haarself, maar die moordsaak word helaas deur die polisie ondersoek met tragiese gevolge vir almal.

Tussendeur is daar ander karakters soos Klets, wat daarvan droom om ‘n rol in ‘n bekende TV-sepie te vertolk en ‘n aktrise te word. Asook oom Blikkies, wie se lewe ook in armoede gedompel is.

Agterplaas deur Charles J. Fourie sal luisteraars ontroer en ’n intieme blik op die lewens bied van daardie leë gesigte wat mens deesdae toenemend in karavaanparke en op straat by die verkeerslig teëkom.

RSG se nuwe middagvervolgverhaal, Agterplaas, word in Kaapstad onder spelleiding van Joanie Combrink opgeneem. Die tegniese en akoestiese versorging is deur Cassi Lowers.

Wat die resensente oor ‘Agterplaas’ die verhoogstuk gesê het
“Agter­plaas bring ‘n rou, nerfaf blik op armoede en op ‘n wit gesin met min of geen vooruitsigte in Suid-Afrika. Hulle plak by ‘n halfweg­stasie tussen nou en nêrens in Tannie Klets se agterplaas. Jy vóél vir hierdie mense. Fourie vertel sy verhaal met diep deernis en trefseker waarneming. Hy weet komedie lê ook waar mense die seerste het.” – Beeld

“Met Agterplaas gaan Fourie verby vervelige grense en skep hy in (sleng) Afrikaans ’n nuwe tipe teater wat hopelik wel die gehoor sal mobiliseer om iets te doen aan armoede.” – Bibi Burger, Slipnet

“Agterplaas verdien om op elke verhoog in Suid-Afrika gesien te word.” – Laetitia Pople, Die Burger

Die skrywer
Charles J. Fourie (foto links) het al meer as veertig verhoogdramas en komedies in Afrikaans geskryf. Sy dramas sluit in Vrygrond, Vrededorp en Ella se perde, wat ook vir die radio verwerk is en tydens die RSG Kunstefees uitgesaai is.

Sy meer komiese werke sluit in Sonde met die biere, Die eend en Don Gxubane onner die boere.

Van sy Engelse dramas soos Big Boys en The Parrot Woman word ook gereeld in Brittanje opgevoer.

Fourie skryf verskeie radiodramas met onder andere Offer wat in 2014 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans bekroon word. Vergifnis wen in 2015 die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie. Sy radiodrama Beseringstyd is ook in die bundel Droomskip en ander radiodramas opgeneem.

RSG saai ook verskeie van sy vervolgverhale soos Tamboeryn, Inferno, Paradiso en Purgatorio uit.

Die hoofkarakters

Sannie Conradie – Frieda van den Heever

Frans Conradie – Deon Lotz

Rachel Conradie – Ilana Cilliers

Pieter Conradie – Martin Venter

Klets Vermeulen – Lindie Stander

Blikkies Blignaut – Neels Coetzee

Alet Hanekom – Mariechen Vosloo

Later in die verhaal sal die luisteraars ook die karakters Steve Moolman, Nico Arendse, Pastoor Fredericks, Louw Visagie en Gerda Brink leer ken.

Van links agter is Deon Lotz, Neels Coetzee, Dean Balie, Frieda van den Heever, Martin Venter en Lindie Stander. Voor sit Ilana Cilliers en Mariechen Vosloo. FOTO: Cassi Lowers