Radiodrama: Bekroonde ‘Dagboek van ‘n Wurm’


RSG se eerste Radioteater-seisoen  – wat van April tot Junie duur – is in die pylvak en nog net drie dramas bly oor in hierdie seisoen.

Radioteater word tot einde Junie elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

 

Donderdag 22 Junie 2017Dagboek van ‘n wurm  deur Martyn le Roux– pas bekroon met drie ATKV Mediaveertjies.

Die regisseur is Renske Jacobs.

Klik hier om meer te lees oor die bekroonde produksie.

29 Junie 2017: Die Radioteater-seisoen word op Donderdag 29 Junie afgesluit met ‘n argiefdrama – wyle George Weideman se Sand. Weideman sou vanjaar sy 70ste verjaardag gevier het.

Sand het in 2003 die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie gewen en is in 2006 deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns met die erepenning vir Afrikaanse hoorspel bekroon. Dit is ‘n spanningsdrama waarin die sielkundige impak van onreg op die mens ondersoek word met motiewe soos gierigheid, wraak en selfsug wat aangeraak word.

Radioteater word van April elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Die tweede Radioteater-seisoen duur vanjaar van Oktober tot Desember.
Radioteater word Maandagoggende tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Hier is die skedule in tabelvorm van die laaste produksies in die seisoen:

Radiodramas wat met hierdie RSG-radiodramaseisoen reeds uitgesaai is

#1. Donderdag 6 April om 20:00: Gerda Kriel se Kopskoot, wat aangewys is as die beste radiodrama deur ‘n Jong Skrywer.

‘n Verbitterde en onstabiele polisiekaptein wat 20 jaar laas bevorder is, beland by ‘n professionele sielkundige met ‘n praktyk êrens in Johannesburg. In die spreekkamer word daar dramatiese onthullings gemaak, en skielik neem die storie ‘n heel ander wending…

Die spelers sluit in Rolanda Marais, Anrich Herbst, Rouel Beukes, Archie Nhlapo, Jakkie Groenewald en Elzabé Zietsman. Die regisseur is Renske Jacobs.

Rolanda Marais (Jana) en Anrich Herbst (Tim)

Klik hier vir meer inligting.

#2: 13 April 2017: Dan volg Nagmaal vir twee met Jerry Mofokeng (bekend om sy spel in rolprente soos Tsotsi) en Paul Lückhoff (tans in Binnelanders) in die rolle en spelleiding deur Christelle Webb-Joubert.

Dit is geskryf deur die Gebruikerskomitee van die Moot Gemeenskapsbiblioteek in Pretoria en het die derde plek in die radiodrama-kompetisie behaal.

Lees hier meer oor die drama en vir die skakel na die potgooi.

#3: Op Goeie Vrydag (14 April) kan die skrywer Esta Steyn (van Meeulanders-faam) se debuut-radiodrama Die herbergier gehoor word. Dit was die wenner van die RSG en Cordis Trust se Christelike radiodrama-skryfkompetisie vir beste paasdrama. Die regisseur is Helena Hugo.

Die herbergier word net na die 13:00-nuusbulletin uitgesaai en weer die aand, net na die 19:00-nuusbulletin, herhaal.

Lees hier meer oor Die herbergier en die skakel na die potgooi.

#4: 20 April 2017: Janine Fox van der Linde se Die kind, wat die tweede plek verower het, word op Donderdag 20 April uitgesaai. ‘n Jong ma van die Kaapse vlakte rou steeds oor haar sewejarige seuntjie wat op sy sewende verjaardag spoorloos verdwyn het. Sy bly glo dat hy sal terugkom en dat hy nie dood is, soos almal glo nie.

Die regisseur is Margot Luyt.

#5: 27 April 2017: Die rolprentregisseur en TV-vervaardiger Jan Lampen se Pointe-Noire (Ek en die majoor) volg op Donderdag 27 April met spelers soos Erik Holm, Albert Maritz, André Terblanche, Chris Majiedt, Frieda van den Heever, Ronel Geldenhuys, Leandi Valentyn en Zenobia Kloppers in die rolle. Die wenner van die eerste prys in die radiodrama-kompetisie handel oor twee van die laaste oorlewendes wat uit ‘n gevangenis in Point-Noire ‘n kusdorp in die suidweste van die Kongo probeer ontsnap.

Volgens die beoordelaars is dit ‘n drama wat ‘n mens se hare laat regop staan van afwagting. Die regisseur is Johan Rademan.

Klik hier vir meer inligting en foto’s van Pointe Noire en die skakel na die potgooi.

#6: 4 Mei 2017: Padkaarte, opgevoer onder spelleiding van die regisseur Ronel Geldenhuys, is ‘n byeenkoms van die wenners van verlede jaar se Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders. Geldenhuys het uit die drama-monoloë, poësie en prosa wat die top8-finaliste tydens die wennerskonsert op die planke gebring het, gekies en dit in ‘n radiodrama-produksie byeengebring.

Die jong akteurs is Tomley van Vuuren, Wian Taljaard, Cantona James, Mia van der Merwe, René Cloete, Jana van der Merwe en Jeani Heyns.

Hulle reis onder andere deur Adam Small se “Krismis van Map Jacobs”, Odette Schoeman se roman “Swartskaap”, Elisabeth Eybers se “Portret”, Jeanne Goosen se “Paw-paw vir my darling” en Tilla Diedericks se “Jong Dames Dinamiek”. Die Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerlinge word jaarliks deur die Hoërskool Bellville aangebied, onder leiding van Herman van der Westhuizen.

11 Mei 2017: Madelein Rust se Adolfie en die klavier

‘n Bekkige boervrou probeer allerhande plannetjies om ‘n arm verstote gesin weer in die gemeenskap te integreer. Selfs
die nuwe dominee is nie te heilig om by haar planne ingesleep te word nie, want dit lyk asof net ‘n wonderwerk sal
help. Sal sy slaag? Sal die gemeenskap bereid wees om die vreeslike verlede te begrawe en te vergewe? En indien wel, WAARVANDAAN gaan die wonderwerk kom?

Madelein Rust se radiodrama Adolfie en die klavier is ‘n alledaagse realistiese verhaal oor menseverhoudinge wat op die kleinhoewes afspeel.

Dit word op Donderdag 11 Mei om 20:00 in Radioteater uitgesaai.

Dit is in die Johannesburgse ateljees opgeneem onder spelleiding van Duncan Johnson (foto links). Johnson is bekend as RSG-radiodramaspeler en vir sy voorlesing van Die rolbalspeler op RSG. Adolfie en die klavier is sy debuut as radiodrama-regisseur.

Die spelers is Ria Smit, Cobus Venter, Johny Klein, Pearl Martin, Bronwyn van Graan en Eswé Bruwer.

Die produksie is tegnies versorg deur Neria Mokoena en Patrick Monnana.

18 Mei 2017: Ronel Mostert se Bosluisie

Opname van Ronel Mostert se radiodrama, “Bosluisie”, in Seepunt met die regisseur Joanie Combrink.

Die skrywer Ronel Mostert vermeng ‘n kostelike liefdesverhaal met die wreedheid van renosterstropery in Bosluisie, wat op Donderdag 18 Mei om 20:00 uitgesaai word.

Mostert is bekend om die roman Dubbele wonderwerk, asook haar tydskrifverhale wat al in Sarie en Vrouekeur gepubliseer is.

‘n Jong vrou, wat meestal by haar tante groot geword het, moet die verlies van haar ouers verwerk. Tot haar verbasing is sy die erfgenaam van ‘n geliefde Bosveld vakansie-oord, en dis hier waar sy te doene kry met die werklikheid van die stropery van renosterhorings en ook haar gevoelens vir haar kêrel in oënskou moet neem. Die drama is ‘n liefdesverhaal wat afspeel in die Bosveld, waar die wreedheid van die stropery van renosterhorings ‘n werklikheid is.

Joanie Combrink is die regisseur en die spelers sluit in Juanita Swanepoel, Roeline Daneel, André Weideman, Pierre Nelson en Randy Januarie.

25 Mei 2017: Die skrywer-joernalis Kirby van der Merwe se radiodrama, Krokodil.

Die skrywer, joernalis en kunstenaar Kirby van der Merwe vier vanjaar sy sestigste verjaardag. Sy radiodrama Krokodil handel oor twee oudweermaglede, Pelser en Droskie, wat ‘n nostalgiese besoek bring aan die gebied waar hulle destyds tydens die grensoorlog diens gedoen het.

Pelser se ou oor-die-wal-viertrekvoertuig gee in Katima Mulilo finaal die gees. Terwyl hulle wag vir hulp, kom daar ‘n paar waarhede aan die lig.

Die regisseur is Eben Cruywagen met Charlton George, Albert Maritz, June van Merch, Gina Assanté, Johan Esterhuizen en Albert Pretorius in die rolle.

V.l.n.r.: Albert Pretorius (DIE LAAITIE); Charlton George (PHILANDER); Albert Maritz (DROSKIE); Gina Assanté (LIEFIE); Kirby van der Merwe (SKRYWER); June van Merch (VLOOI); Johan Esterhuizen (PELSER)
VOOR: Cassi Lowers (Produksieregisseur)

Krokodil- repetisie:

Charlton George (PHILANDER), Albert Maritz (DROSKIE) en Johan Esterhuizen (PELSER) repeteer aan die openingstoneel van Kirby van der Merwe se debuut radiodrama

1 Junie 2017: ‘n Nuwe radiodrama uit die pen van Perdita van Dijk du Bois is Agter toe deure.

Engela vermoed dat haar man Willem besig is met vreemde, geheime dinge agter die geslote deur van sy studeerkamer. Omdat sy self worstel met die dood van haar geliefde seun, wat in die oë van die wêreld – of so glo sy – ‘anders’ was, huiwer sy om Willem te konfronteer daaroor. Engela reik dus uit na ander om haar hartseer en emosionele pyn te probeer verwerk, terwyl sy hoop dat haar geheimsinnige man, Willem, haar tog uiteindelik in sy vertroue sal neem. Maar haar vrees dat sy die man wat sy alleoorweldigend liefhet sal verloor, dwing haar uiteindelik om die bul by die horings te pak. Die gevolge verander hulle beide se lewens.

Perdita van Dijk du Bois is ook bekend om die debuut-radiodrama, Wat sal die mense sê, wat deur RSG uitgesaai is en daarna vir ‘n ATKV Mediaveertjie benoem is as beste teks vir ‘n radioteater of –drama. Du Bois het al kortverhale geskryf waarvan een in Die melkweg het ‘n ster laat val gepubliseer is, asook ‘n kort gedig wat die Nuwe Kinderverseboek gehaal het. Sy was ook al ‘n finalis in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie.

Agter toe deure, onder die spelleiding van Mari Snyman, is ‘n radiodrama wat sal spreek tot luisteraars wat al iemand aan die dood moes afstaan en probeer om die verlies te verwerk.

Die spel van ervare spelers, soos Richard van der Westhuizen, Elma Potgieter, Rina Nienaber en Ilsé Klink, wek deernis met die verlies van die karakters in die drama.

8 Junie 2017: Niel Steenkamp se Toeka se dae.

In Niel Steenkamp se Toeka se dae – op Donderdag 8 Junie – word Grootouma Annabel se 100ste verjaardag gevier.

‘n Effe verstrooide grootjie Annabel Katswink se agterkleinseun, Anton, beplan om sy verlowing aan te kondig op ‘n gedenkwaardige dag, haar honderdste verjaarsdag. Met die heugelike gebeurtenis loop hy hom vas in familiegene en oorerwingsprobleme wat ‘n stok voor almal se geluk steek.

‘n Naarstige soektog begin na Katswink-stamvader se vergane graf, wat die sleutel tot ‘n gelukkige einde inhou. Verskeie scenario’s ontvou wat by tye grens aan ‘n swart komedie. Daar is ‘n fyn balans tussen pret en erns, uitbundigheid en die krieweling langs jou ruggraat wat mekaar heeltyd afwissel.

“Ek het besluit op Dean Herrick se orrelweergawe van die tradisionele O Boereplaas as openings- en slotkenwysie – die enigste musiek,” sê Kemp, “om die gehoor woordeloos terug te neem na die vyftigerjare en die familieplaas Toeka, waar die grootste deel van die komedie as terugflitse, afspeel. Die einde is verrassend, te meer omdat dit uit so ‘n onverwagse oord kom.”

Dis die tweede komedie wat Kemp saam met die skrywer Niel Steenkamp aanpak, na Die ideale minnares wat ook op RSG uitgesaai is.

Die spelers is in Toeka se dae is Isadora Verwey as die grootjie, Elize Cawood, Anton Dekker, Simon Bruinders, Anrich Herbst, Antowan Nöthling, Christo Davids en nuweling Su-an Müller-Marais wat haar buiging as radio-aktrise tussen die ander ervare akteurs by RSG maak.

Die regisseur is Bettie Kemp.

Toeka se bejaarde karakters het pret: Elize Cawood, Anton Dekker en Isodora Verwey

Hope aksie in Toeka: Su-An Muller-Marais, Antowean Nothling en Anrich Herbst

Aksietonele in Toeka: Su-An Muller-Marais, Antowean Nothling en Anrich Herbst

Toeka se oumagrootjie (Isadora Verwey) en haar geliefde agterkleinseun (Christo Davids)

Toeka se akteurs saam met regisseur Bettie Kemp. Christo Davids, Anrich Herbst, Antowan Nothling, Bettie Kemp, Su-An Muller-Marais, Isadora Verwey, Elize Cawood, Anton Dekker en Simon Bruinders

Toeka se tegniese span met koffietyd: Patrick Monana en Neria Mokoena

15 Junie 2017: Gesigseinders: ‘n Hoorspel oor blindes propvol wendinge
Wim Vorster se hoorspel Gesigseinders debuteer op Donderdag 15 Junie om 20:00 in Radioteater op RSG. Met hierdie werk lei Vorster die luisteraar tot binne die donker wêreld van die blinde – ’n wêreld waarin daar geen gesigseinders is nie.

Die aspekte wat ’n blinde gemeenskap ervaar en mee worstel, is dikwels soos dié van die sogenaamde “normale” gemeenskap, maar daar is kwessies en vrae wat hulle kwel en diep ontstig waaraan die siendes selde dink. Kwessies soos hoe droom iemand wat blind gebore is? Hoe voel die verskillende kleure? Wie blameer jy vir jou blindheid?

Die drama is ‘n enkele toneel waarin vyf blindes gesels oor hul ervarings, hul vrese, verwyte en drome. Elke karakter ontbloot sy of haar eie donkerste hoek. Onder blindes is daar ook pret, struwelinge, spanning en onopgeloste raaisels.

Gesigseinders gaan die luisteraars met sy talle wendinge verras.

Wim Vorster is ‘n skrywer, dramaturg en vertaler bekend om die roman Kruisvaart asook verhoogstukke soos Waterman, Kuifman, Terugkere, Kruispad asook Steriel, wat onlangs tydens die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer is.

Die spelers is Carel Trichardt, Juanita Swanepoel, Petru Wessels, Amor Tredoux, Erik Holm en Ronél Geldenhuys.

Margot Luyt was die spelleier.

Gesigseinders – Amor Tredoux, Carel Trichardt, Petru Wessels en Juanita Swanepoel

 

Carel Trichardt

Cassi Lowers (tegnies) en Margot Luyt (regie)

Petru Wessels

Categories